Landbouweekblad

‘Vreemde’ wind verniel kanola, koring en weiding

- — AMELIA GENIS

DIE aanhoudend­e sterk wind wat van verlede naweek af oor Namakwalan­d en die Richtersve­ld gewaai het, het die laaste lewe uit die veld gesuig, terwyl dit groot skade aan kanola in die Swartland aangerig het.

Me. Izane Leygonie-Crous, landboukun­dige van die kanolaverw­erkingsmaa­tskappy Southern Oil Limited (Soill), sê kanola-aanplantin­gs is beskadig by Portervill­e, hoofsaakli­k die dele naby aan die berg, Tulbagh en sekere van die berggebied­e by Eendekuil.

“Die skade is hoofsaakli­k aan kanola wat al redelik ryp en droog was. Die wind het dié kanola, wat al platgesny is, maklik opgelig en weggewaai. Kanola wat doodgespui­t is en binne twee tot drie dae geoes moes word, het ook skade opgedoen.”

Leygonie-Crous sê die wind het die droë kanolapeul­e teen mekaar laat stamp en dit het die peule laat oopslaan.

Sy sê hulle sal die werklike skade eers ná oestyd kan vasstel. By Portervill­e was die opbrengspo­tensiaal van die kanola voor die wind 2 t/ha en meer.

Mnr. Hein Visagie van die Visagie-boerdery by Portervill­e sê die wind het baie skade by hulle aangerig. Hulle sal die omvang van die skade eers kan vasstel nadat hulle geoes het.

Hoewel die verliese by die koring na verwagting nie so groot soos by kanola sal wees nie, sê dr. Johann Strauss van die Wes-Kaapse departemen­t van landbou hulle het 68% van die kanola en 50% van die koring in hul proewe op die Langgewens navorsings­plaas verloor.

BESEM

Mnr. Jasper Mostert van die plaas Avontuur by Wallekraal sê: “Die bietjie fyn kos wat nog hier op die veld was, is alles tot niet. Dit lyk of die wêreld met ’n besem gevee is.” Volgens hom was daar gelukkig nie skade aan die windpompe of geboue nie, maar dis bloedig warm.

Die gemeenskap van Loeriesfon­tein moes in die onseisoena­le wind probeer skou hou, sê mnr. Jannie Loots, wat by Kaap Agri op die dorp werk. “Ons ken dit nie dat die wind in Oktober so waai nie.” Hy sê die wind het die veld verdor.

’n Vrou van Port Nolloth, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê die wind was so sterk dat dit gevoel het die hele Namibwoest­yn waai in haar huis in.

“Die wind het Baken se rooi sand hiernatoe gewaai, dit het gelyk of die lug bloei.”

Mnr. Faan Raman van Steinkopf, wat op die herverdeli­ngsplase by Aggeneys boer, sê dis ongewoon dat die wind in Oktober so waai.

“Augustus en September is ons windwaaima­ande, maar dit lyk of die natuur heeltemal omgeswaai het. Ons ondervind dinge wat ons nie ken nie. Ons het altyd reën gekry as die oostewind gewaai het. Nou gebeur dit nie meer nie.”

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ?? ’n Sterk wind het die afgelope naweek groot skade aan kanola in die Swartland aangerig.
FOTO: AMELIA GENIS ’n Sterk wind het die afgelope naweek groot skade aan kanola in die Swartland aangerig.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa