Tegnologie: Skei die korrels van die kaf
Die sleutel tot sukses in boerdery is om nooit op te hou leer nie, en om jouself met kundigheid te omring om die beste resultate te verseker, glo mnr. Bernard Rabé van Fochville, wat vanjaar 11,74 t mielies per ha geoes het.
Een naam raak nou al sinoniem met Pioneer se Weegen-Wen-kompetisie. Maar mnr. Bernard Rabé skerm as jy op hom op die podium wil plaas . . . Hy is eintlik net die landbou koördineerder, vertel Rabé van die plaas Tweefontein by Fochville. Hy is vanjaar die derdejaar agtereenvolgens aangewys as een van die wenners in dié opbrengs kompetisie.
Rabé het sedert die ontstaan van die kompetisie nog elke jaar as wenner in óf die mie- lie- óf die sojaboonafdeling van sy streek geseëvier. Vanjaar het hy koning gekraai in die mielie-afdeling van die sentrale streek. Met Dekalb se mieliebaster DKC77-77BR het hy ’n opbrengs van 11,744 ton/ha op droëland behaal. Hy was tweede in die sojaboonafdeling met die kultivar DM 6.8i R van Agricol, wat 3,840 t/ha opgelewer het.
Vis jy na die geheim van sukses, wys hy daarop dat die belangrikste element nederigheid is. “Luister na die raad van kundiges om jou. Moenie dink jy weet alles nie, want jy kan eenvoudig nie alles in boerdery weet
nie. Daarvoor is die hoeveelheid veranderlikes net te veel.”
Rabé beskryf homself as die koördineerder wat die verskillende elemente moet laat saamwerk om uiteindelik volhoubaar te boer. “My werk is eintlik net om die kennis en ervaring van die verskillende betrokkenes te laat saamwerk. Dit sluit in die landboukundiges, saad verteenwoordigers, misstof verteenwoordigers, plaagbeheer tegnici, werktuig ontwerper sen my werkers se vaardighede wat alles onder een vaandel gekombineer moet word tot die beste
ALGEHELE BEPLANNING
Een van die sleutelfasette van Rabé se boerdery is die vermoë om wisselende presisieboerdery in elke afdeling toe te pas. Dit het die manier waarop hy boer, baie verander. “Ons kon eintlik eers werklik begin boer nadat ons daadwerklik wisselende produksie praktyke begin toepas het .”
Hy sê wisseling was wel in die verlede moontlik, maar dat dit ’n ondoeltreffende praktyk was omdat die werktuie fisiek verstel moes word om vir die verskillende grondtipes voorsiening te maak. Dan moes daar drie of vier kalibrasies gedoen word, met elke land wat sy eie kalibrasie gehad het.
Die verskillende grondtipes hou egter nou voordele in vir boere wat wisselend kan bemes en plant.
“Ons het omtrent elke grondtipe denkbaar – van turf tot Hoopstad-tipe sandgrond. Hierdie grondvorms kom ook voor in stukke wat wissel van 5 ha tot soveel as 100 ha met vyf of ses verskillende grondsones per land. Dit het boerdery in die verlede moeilik gemaak omdat die beste verstelling per land nie altyd moontlik was nie. Sedert ons wisselende toediening en plantpraktyke toepas, werk die verskillende grondtipes nou voordeliger uit.”
Rabé dien kalk, stikstof voor planttyd, kunsmis met die planter en saad alles wisselend toe. Hy volg geen bewerkings praktyke, grotendeels danksy die vog bewarings voordele wat dit inhou. Hy’s grootgemaak met konvensionele grondbewerking s praktyke, en dié oorgang was nie maklik nie. “Elke keer as ek deur die lande ry en ek sien die stronke staan, dink ek steeds daar is êrens fout en wil ek net ’n ploeg inlê. Om die kopskuif te maak, is ’n bietjie moeilik, maar ons het in 2003 ernstig met navorsing begin en stelselmatig geen bewerkings praktyke begin toepas.
“Die belangrikste ding is om te besef dat jy nie die grond kan los as daar verdigting is nie. Ons grawe gereeld profielgate op verskillende plekke in ons lande om vir verdigting te toets. Dan is ek elke keer nog verbaas as daar nie verdigting is nie, want ’n mens wil maar bly glo daar moet iets aan die land gedoen word.”
Hys ê die boerdery volg ook die Landbou navorsingsraad se riglyne noukeurig oor die hoeveelheid bewerkings per jaar wat verskillende grondtipes kan dra en grawe gereeld gate in die verskillende lande om die fisieke eienskappe van die grond te ontleed.
“Alles vorm deel van die groter geheel om presies te weet wat in jou grond aan die gang is, sodat jy saam met jou landboukundige en ander insetverskaffers die beste plan vir jou boerdery kan uitwerk.”
BEMESTING WISSEL
Die bemesting s program wissel ook van land tot land, grootliks vanweë die verskillende grondbehoeftes.
“Ons pas dieselfde beginsels by bemesting toe as met ons saadaanplantings. Ons gebruik die beskikbare inligting oor grondontledings en opbrengskaarte en bespreek dit met ons landboukundige, wat die inligting ontleed en aanbevelings maak. Ons besluit dan saam oor die gemiddelde opbrengs per ton per land waarby ons wil uitkom.
“Daarna werk die landboukundige vir ons ’n bemesting s program uit volgens hierdie behoefte, en ons bemes elke land per sone volgens die grond se behoefte. ’n Vier-tonper-hektaar-land se N-, P- en K-behoefte sal dus heelwat verskil van die bemesting wat ’n land met ’n opbrengs van 6 ton vereis. Uiteindelik gaan dit oor navorsing en inligting wat daaruit beskikbaar is. Hoe meer bruikbare inligting beskikbaar is, hoe beter kan ons boer. Daarom is navorsing op al die verskillende terreine van die landbou vir ons so belangrik.”
Rabé dien twee maal kunsmis toe. Omdat hy geenbewerking toepas, word sy eerste misstof, ’n vloeibare NPK-mengsel, ’n paar weke voor planttyd wisselend toegedien. ’n Tweede kunsmismengsel word met planttyd toegedien wanneer hy wisselend plant én misstof toedien.
Omdat hy ’n wisselboustelsel het wat uit mielies, sojabone en sonneblomme bestaan, verander elke land se omstandighede ook jaarliks. Rabé sê hy beplant byvoorbeeld nie ’n spesifieke land wat in die verlede presteer het, weer met dieselfde gewas in die opvolgende jaar nie, want dit pas nie in by die plaas se wisselboustelsel nie. “Ons kan dus nie praat van ’n spesifieke stuk grond as die mielieland of die sonneblomland nie. Elke jaar is daar ’n ander gewas met nuwe eise.”
Die boerdery se onkruiddoder program word ook volgens elke land se behoeftes
‘As jy ophou leer, bestaan jy nie meer nie; dan is die game oor.’
aangepas. “Die tyd is lankal verby dat boere alles met Roundup kan regtoor. Ons pas ons program aan na gelang van die soort onkruid. Die Fochville-omgewing het ’n ongelooflike verskeidenheid onkruid, wat ’n ander benadering verg. Die standaardprogram sal natuurlik wees om te spuit voor planttyd, met planttyd en ná-opkoms, maar uitsonderings gaan beslis voorkom. Dus bestuur ons ons onkruid namate ons dit sien saam met ons chemiese landboukundige.”
Rabé sê mnr. Abrie Coetzee van Mooirivier Landboudienste verdien vermelding vir die rol wat hy in die Weeg-en-Wen-kompetisie speel. “Dit was sy inisiatief. Ek sou nie sommer self deelgeneem het nie. Uit vanjaar se wenners is ses boere kliënte van hom. Hy doen ongelooflik baie vir die bedryf.”
MEER PLAASNAVORSING
Vir Rabé lê die opwinding van boerdery uiteindelik in die ontdekking van nuwe inligting, vernuwing en nuwe praktyke. “As jy ophou leer, bestaan jy nie meer nie; dan is die game oor. Elke jaar is daar nuwe dinge, nuwe inligting. Vandag is die probleem nie om die inligting te kry nie, maar eerder om te bepaal wat regtig werk. Daar is eintlik te veel inligting. Ons het besluit om meer navorsing op die plaas te doen.”
As lid van die Losberg-studiegroep plant hy al die afgelope paar jaar die groep se sojaboonen vanjaar ook die mielieproewe om te sien watter kultivars en basters presteer.
PAS DEURENTYD AAN
Vanjaar het weer ’n nuwe ontwikkeling gebring met Rabé wat spesifieke kultivars of basters met spesifieke grondtipes gekoppel het.
“Waar ons in die verlede ’n hele land met ’n spesifieke kultivar of baster, hetsy dit mielies, sojabone of sonneblomme was, beplant het, het ons besluit om vanjaar meer in diepte te werk te gaan om die regte kultivar in die regte tipe grond te plant. Ons het ons opbrengskaarte, grondinligting en historiese inligting gebruik om die kultivars aan die opbrengs potensiaal van die g rondte koppel ,” verduidelik Rabe.
Hy sê dit is die eerste jaar dat die boerdery sy aanplantings só gaan benader. “Dit gaan daaroor om die grondtipe te kombineer met die kultivar wat oor die regte eienskappe daarvoor beskik.
“As dit grond is waarin ons weet ontkieming moeiliker is, kies ons ’n ander kultivar wat reeds sy kiemkragtigheid bewys het, of waar wind en waterprobleme voorkom, kies ons ’n ander toepaslike kutlivar. Dit is weer ’n stap in die boerdery wat die kundigheid van verskillende betrokkenes verg, insluitende ons saadmaatskappye en landboukundiges.”
Rabé sê die boerdery plant verskillende saadmaatskappye se produkte aan om te verseker dat die regte kultivars vir die verskillende grondtipes gebruik word.
OOR DIE WEN-BASTER EN DIE KOMPETISIE
Die wenbaster in vanjaar se kompetisie, DKC77-77BR, uit die Dekalb- (nou Bayer) stal is vir hom uitstekend. “Dit is een van daardie basters wat nie ’n plafon het in sy opbrengs potensiaal nie en wat reeds jare se tegnologie en teling agter hom het wat nou beslag vind in ’n uitstekende mieliebaster.”
Rabe sê die afgelope produksiejaar het wel sy probleme gehad, soos ’n lang midsomerdroogte, wat ’n nadelige uitwerking op die plaas se opbrengste gehad het. “Die vorige produksiejaar se reënval was 707 mm, en vanjaar was dit 631 mm. Ons opbrengs het dit gewys deur met sowat ’n halwe ton per hektaar te daal.”
Nogtans is die boerdery se gemiddelde vyfjaaropbrengs by mielies steeds sowat 6,2 t/ha, 2,1 t/ha by sojabone en 1,8 t/ha by sonneblomme.
Vir Rabe gaan die kompetisie egter uiteindelik daaroor om by sy medeboere te leer. “Dit gaan nie daaroor om met ’n opbrengs te spog nie. Dit gaan daaroor dat ons as graanbedryf hoër opbrengste sal moet behaal om te oorleef. Om dit reg te kry, moet ons van mekaar leer en maniere vind om mekaar te help. Dit gaan daaroor om die algehele praktyke só te verander dat almal uit die hoër produksie kan voordeel trek.”