Landbouweekblad

Almal hou mos van braai

Of dit nou in Mosselbaai, Midrand of Matatiele is, as daar gebraai word, kom mense bymekaar om te kuier en lekker te eet. Die Amerikaans­e MiddeWeste is geen uitsonderi­ng nie.

-

Dit knor maar om ’n klomp Suid-Afrikaners van die vuur af weg te hou as dit eers aan die gang is. En net soos ’n vleisbraai­vuur op eie bodem ’n gulde geleenthei­d bied om die president sleg te sê of die Springbokk­e se losskakelp­robleme op te los, het ’n groep Suid-Afrikaners op toer na Amerika se Midde-Weste gou agtergekom dis nie uniek tot die Reënboogla­nd nie.

’n Amerikaans­e braai lyk maar baie dieselfde as in Suid-Afrika, maar ook net tot die vleis moet gaar kom, het die groep agtergekom wat Soil Health Solutions se herlewings­landbouse toer meegemaak het.

Die Yanks gooi nie graag die vleis regstreeks oor die kole nie. O nee, hulle maak eerder op gas staat om regstreeks­e hitte te verskaf.

Mark Dey, ’n Pannar-agent, bied ook ’n braaidiens in die distrik York in die suide van die deelstaat Nebraska aan.

“Ek en my vrou, Tera, was nog altyd lief vir kook en veral braai. Sowat 15 jaar gelede het van ons klante by ons kom braai. ’n Paar dae later het hulle ons gevra of ons bereid is om by hul huis te kom braai en dit was die begin van ons braaidiens,” vertel Mark, wat namens Scott Gonnerman, ’n graanboer en een van Mark klante, vir ons gebraai het.

DOELGEMAAK­TE BRAAI

Hy gebruik ’n mobiele, silindries­e braaidrom met ’n kolebak aan die agterkant en ’n mandjie vooraan wat ekstra hout kan dra. Binne die silinder is ’n rooster van sowat 1 200 mm x 500 mm. Die silinder het ’n deksel van 1 100 mm, ’n termometer en ’n skoorsteen.

Die kolebak is laer as die silinder en het ventilasie­gate waarvan die lugdeurlat­ing verstel kan word. Die lugvloei vanaf die kolebak, deur die braaisilin­der tot by die skoorsteen kan met ’n klep tussen die silinder en die kolebak met ’n handvatsel aan die buitekant beheer word.

Die braaidrom is op ’n tweewiel-sleepwa gemonteer met ’n bolhaak-koppelkop en is padwaardig gemaak.

“Dit is gebou deur ’n vriend van my en werk lekker as braaier en roker. Nóg ’n vriend het ’n slaghuis in York en hy vakuumverp­ak die regte hoeveelhei­d vleis. Hy dring daarop aan dat die vleis vir minstens 48 uur in sy geheime marinade moet lê, dus moet ek hom twee dae voor die braai laat weet,” vertel Mark.

GEROOKTE VLEIS

Wanneer hy beesvleis braai, is riboog sy gunsteling. Hy en Tera het juis riboog-biefstukke teen ’n hoë hitte gerook vir ons ete.

Volgens Egon Zunckel, ’n graanboer van Bergville in KwaZulu-Natal, was dit ’n wenner. “Dit was heerlik sag met ’n baie lekker, lig gerookte smaak.” Mark gebruik Amerikaans­e ashout (Fraxinus americana) as hy bees- of skaapvleis rook en verkies appel- of kersiehout vir vark- of kalkoenvle­is. Hy maak ’n vuur in die kolebak ongeveer ’n uur voordat hy die vleis opsit om genoeg hitte in sy braaidrom te verseker. Sodra die bak warm genoeg is (vir biefstuk is dit 250 °C tot 300 °C, na gelang van die dikte van die steak), sit Mark die vleis op die rooster, maak die deksel toe en gooi ’n stomp of twee op die vuur om rook te maak.

“Dis ’n kombinasie van braai en rook. Ek sal selde kole onder die vleis inkrap om dit gaar te maak, want hierdie proses werk uitstekend.”

Mark draai die vleis net een maal om, omdat die rook en hitte meestal van onder af kom. Hy verkies om die riboog-biefstuk medium tot halfrou te bedien, maar sal op versoek die vleis langer op die rooster hou. Op ’n tafel langs die braaidrom is vars, koue soetmielie­s wat van die stronk gesny is nadat dit gekook is, ’n vars slaai, gebakte aartappels en vars gebakte brood. Dis deur Scott en sy vrou, Barb, voorberei.

Ná die heerlike ete is dit tyd vir Mark en Tera om te vertrek, maar hul braaitoest­el bly agter.

“Die bak is nog te warm om agter die bakkie te trek. As hy so warm is, is dit nie goed om dit te vervoer nie, want dit sal die toestel se gebruiksdu­ur verkort. Ek sal die drom binne die volgende paar dae kom haal.”

 ??  ?? Met hierdie bielie van ’n braaitoest­el bied Mark en Tera Dey vleisbraai­e aan. Op dié toestel kan hulle tot 30 groot biefstukke op ’n slag gaarmaak.
Met hierdie bielie van ’n braaitoest­el bied Mark en Tera Dey vleisbraai­e aan. Op dié toestel kan hulle tot 30 groot biefstukke op ’n slag gaarmaak.
 ??  ??
 ??  ?? REGS: Genoeg biefstuk vir vyftien mense en plek op die rooster vir nóg soveel vleis.
REGS: Genoeg biefstuk vir vyftien mense en plek op die rooster vir nóg soveel vleis.
 ??  ?? ONDER: Mark en Tera Dey. Mark is ’n Pannar-agent in die distrik York in Nebraska.
ONDER: Mark en Tera Dey. Mark is ’n Pannar-agent in die distrik York in Nebraska.
 ??  ?? BO: Gesellig by ’n Amerikaans­e braai op ’n warm somersdag kuier van links Scott Gonnerman, Alex Eggers, André Naudé, Lisa Smorenburg en Gaynor en Egon Zunckel.
BO: Gesellig by ’n Amerikaans­e braai op ’n warm somersdag kuier van links Scott Gonnerman, Alex Eggers, André Naudé, Lisa Smorenburg en Gaynor en Egon Zunckel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa