ONS WAG OP REËN
Dit is ’n senutergende tyd van die jaar terwyl almal in die binneland die wolke dophou vir tekens van die eerste reën. Tot dusver het ons nog net ’n versengende hittegolf gehad. Net ná 06:00 begin die son al warm brand in sentraal-Suid-Afrika. In die somerreëngebiede word vanjaar geplant teen die agtergrond van ’n paar moeilike jare. Graanopbrengste het nie heeltemal vergoed vir ’n swak prys nie, en skuld staan op rekordvlakke namate die swaar jare ons boere begin inhaal. Daar word ook wyd gemurmureer dat die roekelose praatjies oor onteiening sonder vergoeding grondwaardes seer genoeg gemaak het om boere se vermoë om geld teen hul grond te leen, weg te kalwe.
In die suide, waar graan nou geoes word, was al ’n paar terugslae. Wind en hitte het die koring en kanola seergemaak, en op kolle het die reën nooit juis geval nie.
Boere kry swaar. Verlede week het ’n groep moedelose boere op Bultfontein vergader ná ’n rits plaasverkope vroeër vanjaar. Nou wil finansiers nie geld leen vir planttyd nie. Boere staan alleen en moet planne beraam. In enige ander normale samelewing, waar boere se besonderse bydrae waardeer word, sou die staat moeite gedoen het om die situasie op Bultfontein te verstaan. Hoe vind Suid-Afrika daarby baat om kundigheid te verloor?
’n Vriend van die Oos-Kaap wat in die berge met Merino’s boer, vertel van sy vriende wat oor die jare uitgeboer het. Vyftigjarige, wit boere het min vangnette. Baie van hulle ry stroper in Amerika of bestuur vragmotors in Australië.
Van ons beste landboukundiges is ook reeds oorsee. Hulle bedryf navorsingskuddes in Australië en doen voorpuntnavorsing oor grondgesondheid in Amerika. Wanneer ’n groot gees, soos die begaafde veekundige dr. Jasper Coetzee, sterf, laat hy juis om dié rede ’n buitengewoon groot leemte.
Nou trek ons boonop in teenoorgestelde rigtings. Sekere swart produsente-organisasies probeer om hul eie ding te doen. Ons hoor van vergaderings oor ’n nuwe landbou-organisasie. Ons het mos ’n voorliefde vir afstigting — en vandag is die kerke leeg.
In die Parlement word speletjies gespeel. Die hersieningskomitee wat die wysiging van die Grondwet bekyk het, het hom nie eens daaraan gesteur om deur die skriftelike voorleggings te werk nie, al is dit die meeste wat die Parlement nóg ontvang het. Die voorleggings per e-pos het ook nie veel aandag geniet nie. Maar steeds het hy verlede Donderdag aanbeveel dat die Grondwet gewysig word. Nou sal die hof dié stommerike moet dwing om hul werk te doen.
Hier en daar flikker hoop darem op. Dit wil voorkom of die veiligheidsituasie op die platteland verbeter. Die Zondo-kommissie lê ook nou die skadelike en skandelike politieke inmenging met die swak senior aanstellings by die land se staatsbeheerde maatskappye bloot. Suid-Afrika het ’n duur prys daarvoor betaal. Miskien gaan iets nou gedoen word aan al die politieke opportuniste wat op kommoditeitstrusts dien en dinge só lelik kniehalter.
Daar is ook die verbasend konstruktiewe gesprekke landwyd tussen die georganiseerde landbou en stamhoofde, en die belofte dat honderdduisende hektaar op van die land se beste landbougrond weer in produksie sal kom. Goedkoop finansiering is glo ook op pad.
Op Bultfontein het van die boere blykbaar reggekom met insette vir nog ’n produksiejaar. Nou moet die reën net kom. Lank, sag en aanhoudend moet dit val — van Bultfontein tot in die Parlement. Ons dorre land smag na verligting. — CHRIS BURGESS