AFGELOPE SEWE JAAR BELEEF SA GRAANBEDRYF VYF GOEIES
“DIE graanbedryf in Suid-Afrika is nie aan die kwyn nie. In die afgelope sewe jaar het die graanbedryf vyf goeie jare beleef,” het mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, gesê.
Hy het op die Swartland-skou op Moorreesburg gesê die bedryf is dikwels wisselvallig, maar beslis nie kwynend nie. Koringboere sit vasgevang in ’n kosteknyptang, wat daartoe lei dat wins stadiger groei. Die produsenteprys het in die afgelope vier jaar verbeter, maar produksiekoste het ook gedurig gestyg.
“Die ergste toenames is in die pryse van chemiese middels, veral onkruiddoders.”
Hoewel minder koring deesdae in die Wes-Kaap geplant word, word verwag dat die aanplantings 120 000 ha tot 150 000 ha sal bly.
“Vir winsgewende koringverbouing moet boere vandag nie meer hul berekeninge per hektaar maak nie, maar per vierkante meter. Die klem moet volledig
op doeltreffende bewerking, presisieboerdery, vogbestuur, plantvoeding en -bemesting en die uitwerking van klimaatsverandering wees.”
Prof. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), het gesê die Suid-Afrikaanse landbou het weens verskeie redes die afgelope jaar gekrimp. Dit sluit droogtes en die onsekerheid oor die grondkwessie in.
“Volgens projeksies sal die sektor egter steeds in die volgende tien jaar groei, hoewel nie so sterk soos die afgelope tien jaar nie.”
Hy sê grondhervorming moet markgeoriënteerd plaasvind binne ’n ekonomiese stelsel waaraan almal deel het. Daarom is eienaarskap van groot belang.
Landboupryse het in reële waarde die afgelope eeu gedaal, en die sterk groei van die afgelope tien jaar moet as ’n uitskieter beskou word.
“Die netto boerdery-inkomste in Amerika is tans op ’n laagtepunt, en boere daar word deur hul regering betaal om in produksie te bly.”
Daarteenoor is die SuidAfrikaanse landbou ’n netto uitvoerder wat goeie geld vir die Regering inbring – “iets waarvan hy gereeld meer bewus gemaak moet word”.