Erosie: Slik draai krane toe
Erosie het die afgelope tyd in ’n dubbelloop-probleem vir Suid-Afrika ontaard. Die verlies aan grond is nie meer die enigste groot kwessie nie. Die verlies aan water weens die toenemende toeslik van riviere en damme is ook ’n reuseprobleem.
Wat voorheen effens uitgekalfde voetpaadjies en spruitlopies in die omgewing van Aliwal-Noord, Sterkspruit en in die voormalige Transkei was, ontaard al hoe meer in dongas.
Onlangse lugfoto’s skets ’n skrikwekkende prentjie, en die toeslikgevaar bedreig waterbronne al hoe meer.
Dr. Jay le Roux van die Universiteit van die Vrystaat se departement geografie is bekommerd dat die risiko van toeslikking nie voldoende besef en in ag geneem word nie deur onder meer die beplanners van nuwe besproeiings- en hidrokragdamme, soos die Regering se huidige multimiljardrand-ontwikkelingsprojek in die Mzimvubu-opvanggebied.
Dié gebied strek van Matatiele en Mount Fletcher naby die Lesotho-grens tot by Port St. Johns aan die ooskus.
Dit is sowat 400 km lank, met ’n opvanggebied van amper 20 000 km². Die Tsitsarivier, wat in die Drakensberg ontspring en in die Mzimvubu invloei, vorm deel van die netwerk.
Hierdie riviernetwerk deurkruis van die armste van Suid-Afrika se arm gebiede en is die enigste groot riviernetwerk in die land sonder ’n groot dam.
Die riviermonding is tot die 1940’s as ’n hawe gebruik, maar die hawe is gesluit omdat dit te vlak vir groot skepe geword het. Le Roux skryf in ’n onlangse artikel in die vaktydskrif Land Degradation and Development dat sy navorsing oor erosie-afloop en toeslikking wys die gebruiksduur van hierdie besproeiingsdamme en hidrokragaanlegte wat in aanbou is, onderskeidelik tussen net 43 en 55 jaar kan wees as die op-
vanggebiede nie eers gerehabiliteer word nie.
Hy het erosie oor vyf jaar in die Mzimvubuen Tsitsarivier se opvanggebied met van die modernste modelleringstoerusting bestudeer. Dít het gewys dat die afloop van sediment nie in vorige studies in ag geneem is nie.
Die vroeëre studies het wel getoon dat ’n groot deel van die opvanggebied erg geerodeer is, maar dit het slegs inligting oor erosieprosesse in lopies en tussen lopies in ag geneem.
Dit het heeltemal te min inligting oor sediment-afloop bevat, sê Le Roux.
Dit het gewys dat sedimentafloop gemiddeld 5,1 ton per hektaar per jaar is, terwyl die afloop in die gebied waar die besproeiingsen hidrokragdamme in die Mzimvubu- en Tsitsarivier ontwikkel word, eintlik vier keer soveel, sowat 20 ton per hektaar per jaar is.
“Lopies se afloop kan enorme hoeveelhede erosiesediment – tot 95% – in die riviernetwerk neerlê.
“Sonder rehabilitasie in die opvangsgebied kan toekomstige damme dieselfde lot as damme in die res van Suid-Afrika én wêreldwyd beleef, waar die houvermoë (weens slik) bitter vinnig verminder nadat die dam gebou is.”
Le Roux se aanbeveling is om spesifieke stroompies te identifiseer waar die meeste sediment afloop, en hulle eerste te begin rehabiliteer.
“Watererosie is ’n dubbelloop-probleem wat nie net die verlies aan grond behels nie, maar ook die toeslik van riviere en damme. Toeslikking is veral ’n ernstige probleem in halfwoestyngebiede, soos Suid-Afrika, waar daar dikwels watertekorte is.”
Hy verwys na die Welbedachtdam buite Bloemfontein waar toeslikking die dam se houvermoë binne 20 jaar sedert sy voltooiing vanaf 115 miljoen m³ tot net 16 miljoen m³ verminder het.
In die geval van die huidige Oos-Kaapse erosie sê hy die gebied se unieke tipe grond speel ook ’n groot rol.
Dit is dikwels planosol, oftewel dupleksgrond, met ’n ligte, growwe bolaag waarin water tydens ’n reënbui maklik vasgevang word, maar waarvan die onderlaag baie meer klei bevat, wat veroorsaak dat die water nie so goed opgeneem en vasgehou word nie.
Omdat water dus nie so maklik die grond binnedring nie, veroorsaak dit vinniger afvloei en groter tonnelerosie.
“Oorbeweiding en die vermindering van saaiery vererger die probleem,” sê hy.
REKENING IN DIE ROOI
Suid-Afrika verloor jaarliks gemiddeld 12,6 ton grond per hektaar weens erosie en 13 ton per hektaar in gebiede waar graangewasse verbou word. Die natuurlike grondvormingstempo is minder as 5 ton per hektaar.
“Dit beteken eenvoudig dat ons baie meer grond verloor as wat ons inwin,” sê dr. Hendrik Smith, grondkundige van die produsente-organisasie Graan SA.
Hy sê Suid-Afrika se grondverliestempo is drie keer hoër as byvoorbeeld dié van Australië, wat maar 4,1 ton per hektaar per jaar is.
HOE NOU GEMAAK?
Mnr. Chris Smith, grondtegnikus van die Vrystaatse Departement van Landbou, sê ’n boer moet dongas afkamp om verdere erosie-afloop op veepaadjies te voorkom.
Ongelukkig is daar nie meer, soos in die vorige bedeling, staatsgeld beskikbaar om keerwalle in die aflope te bou nie.
Bloudissel, wat boere destyds geplant het in ’n poging om die erosiewalle te stabiliseer, is ook nou ’n verklaarde onkruid wat nie meer geplant mag word nie.
Dr. Garry Paterson, navorsingshoof by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Grond, Klimaat en Water, sê daar is ook ander praktiese en betreklik goedkoop maniere waarop ’n boer hierdie probleem kan aanpak.
Hy meen bewaringslandbou, wat te alle tye ’n deklaag op die grondoppervlak in stand hou, behoort verplig te word.
Die rehabilitasie van slote en kleiner dongas kan aangehelp word met ou motorbande wat met grond gevul en bo-op of langs mekaar gepak word om hellings en walle te stabiliseer.
’n Verskeidenheid plantmateriaal kan gebruik word om ’n laag op die grond te plaas wat waterindringing bevorder.
Dit kan boomstamme, takke of gevlegde matte wees wat parallel met die helling neergelê word.
Een bewese metode is matte wat uit lalapalmblare gevleg en op die grond vasgemaak word. Klein gate laat water vir plantontwikkeling opdam, en die natuurlike plantmateriaal verweer stadig sodat die omgewing stabiliseer.
Sulke matte kan ook in parallelle rye geplaas word om groter gebiede te dek en in die plek van duur skanskorwe (draadmandjies wat met klip gevul is) ingespan word.
“Selfs rye klippe op die grond sal die watervloei verminder,” sê Paterson.
Nog ’n rehabilitasietegniek is om inheemse, waterdoeltreffende plante in die dongas te plant, soos wildeals of ander spesies uit die genus , sê hy.
Proewe wat Paterson oor vier jaar by Ladybrand in die Oos-Vrystaat gedoen het, ook op ’n dupleksgrondtipe, het gewys dat hierdie beheermetodes sedimentafloop met 16-72% beperk het.
Op die meeste persele waarop die beheermetodes beproef is, was die jaarlikse afloop van sediment net 1-7 ton per hektaar, vergeleke met meer as 50 ton per hektaar in die kaal erosieslote. Die Wêrelddag vir Grond word vanjaar weer op 5 Desember gevier. Die LNR bied op dié dag in Arcadia ’n seminaar oor oplossings vir grondbesoedeling aan. Van die sprekers is dr. Johan van der Waals van die onderneming Terra Soil Science, dr. Garry Paterson van die LNR en dr. Adolph Malatji van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Bespreek plek by me. Adri Laas by e-pos AdriL@arc.agric.za of tel.
012 310 2518 as jy dit wil bywoon.
NAVRAE: Mnr. Chris Smith, sel 073 156 2740; dr. Hendrik Smith, sel 082 331 0456; dr. Garry Paterson, tel. 012 310 2500.