Vroeë paring van verse: Só werk winssom
Ontwikkel jou eie verse wat nie net by die omgewing aangepas is nie, maar ook vroeg gedek kan word. Die voordele weeg heelwat swaarder as met die tradisionele konserwatiewe benadering.
Ek het die voorreg om op boeredae as spreker op te tree en verskillende boerderyfasette aan te roer waarvoor ek regtig lief is. Elke gesprek is ’n hoogtepunt, want dit is daar waar jou eie oortuigings uitgedaag word. Ek dra die kennis oor wat ek met die jare opgedoen het – veral as ek ’n klomp foute gemaak het om tot by die punt te kom. Dit is al hoe ’n mens leer. Ek probeer egter wegbly van wat die teksboek sê, want in daardie geval kon jy sommer self gaan oplees het.
Kennis is mag. Daarom probeer ek opreg eerlik wees met my gehoor en vertel wat werk – asook wat nie werk nie.
Ek bly gewillig om nuwe gedagtes te toets en by enigiemand te leer wat darem mis onder sy skoene het. Hoe meer hoe beter…
Baie onderwerpe word deurtrap, maar die een aspek wat die meeste teenkanting kry, is die vroeë paring van verse. Wanneer ek sê verse moet op 14 tot 16 maande gedek word, sien ek hoe mense in die gehoor afskakel. Hulle kry sommer so ’n veraf uitdrukking in hul oë, die een wat sê: “Ek sal luister as jy weer sense begin praat.” Veral as mense glo hulle boer in ’n moeilike wêreld – en almal se wêreld is gewoonlik moeiliker as Dewetsdorp…
PRAKTYK UIT FRUSTRASIE ‘GEBORE’
Ons het 21 jaar gelede begin om verse te weeg voor hulle gedek word, en net die verse laat dek wat 60-65% van hul volwasse gewig bereik het. ’n Jaar later is kalwers gebore van die buurman se bulle ná hulle draadgespring het na die verse wat op hitte gekom het.
Navorsing van die wetenskaplike dr. Stephen Hammack aan die gerekende Texas A&M-universiteit dui daarop dat daar min verskil is in die dragtigheidspersentasie van verse wat 50-55% van hul volwasse gewig bereik het, teenoor die ou norm van 60-65%.
Nadat dié inligting bekom is, kon ons meer verse laat dek. Daarna is nóg kalwers van die buurman se bulle gebore van verse wat oorspronklik te lig was vir paring.
Uit frustrasie met die situasie het ek gevolglik besluit om alle verse aan die bul bloot te stel, ongeag hul gewig in daardie stadium. Omdat dit ’n nuwe rigting was, het ek begin deur my verse produksielek te gee en op die beste weidings beskikbaar te hou vanaf speen tot ná die blootstelling van die tweede dektyd.
Aanvanklik was die besetting gemiddeld. Dit het ná ’n paar jaar opgeskuif tot ons die produksielek kon verminder tot vanaf speentyd tot ná die eerste geboorte, en dan weer ’n maand voor hulle weer kalf tot die bulle die tweede keer uitkom.
Later het ons die produksielek weggevat en net onderhoudslek of fosfaataanvulling gegee soos wat die volwasse troppe kry, met die voordeel dat die verse die beste weiding kry.
Elke keer as jy die druk verhoog, val ’n paar ekstra diere uit, maar mettertyd word die tipe wat slegs op natuurlike weiding presteer, al hoe meer.
SÓ LYK DIE SOM
Die feit is dat dit jou 11% van jou kudde se potensiaal kos om 20% vervangingsverse groot te maak as hulle op twee jaar kalf, en 33% om 20% vervangingsverse groot te maak as hulle eers op drie jaar kalf. Dit is bloot omdat jy minder produserende koeie kan aanhou weens die plek wat jy moes maak vir een of dan twee stelle vervangingsverse.
By Dewetsdorp is die potensiaal 38 kg/ha indien jy die normale drakrag gebruik. Teen R35/kg is dit R1 330. Elf persent daarvan is R146,30/ha en 33% is R438,90/ha. Jy kan self besluit of dit die moeite werd is om vroeër te probeer paar.
Ter ondersteuning van vroeër paring die volgende: 1. ’n Aanvanklike kort dektyd gee verse ’n langer hersteltydperk om hulself voor te berei vir die tweede dekking. My ervaring is dat om hulle ’n maand vroeër te probeer laat dek, nie werklik voordele inhou nie. Haal eerder die bulle ’n maand vroeër uit as wat die geval is by die volwasse koeie. 2. Verse wat tydens die eerste siklus vat, het ’n lewenslange voordeel en presteer in normale omstandigdhede goed regdeur hul lewe. 3. Die dragtigheidspersentasie verhoog mettertyd. Onthou, jy is besig om die bestes te identifiseer. 4. Naas beladingstempo is vrugbaarheid sekerlik die belangrikste aspek van beesboerdery. Dit maak nie saak of jy dit deur voeding of genetika regkry nie. Die genetiese roete is net baie winsgewender. Jy moet maar mettertyd die krukke wegvat om die diere te suiwer. 5. As jy sukkel om verse vroeg te laat dek en weer beset te kry wanneer jy die krukke wegvat, moet jy dalk na jou tipe diere kyk. Jy kan nie bekostig om ’n jaar se produksie te verloor nie. Kyk of jou tipe diere by die omgewing aangepas is. Ons moet eindig by ’n koeikudde met lae onderhoud. 6. Dit is belangrik om nie vir die natuur voor te skryf hoe hierdie verse moet lyk nie. Laat die bulle hulle identifiseer. Verwyder die voor die hand liggende wanaangepaste verse (misfits). Stel die res aan die bul bloot en selekteer bulle uit daardie diere wat op ’n jaar kalf en weer beset raak. Mettertyd gaan daar meer diere wees wat hierdie pas kan volhou. 7. Oop verse is ’n goeie winssentrum. 8. Bou aan ’n vrugbare koeikudde deur bulle te gebruik uit vrugbare koeie en die vroulike diere te prul wat nie die pas kan volhou nie. Die vordering is nogal vinnig as jy dit met dissipline toepas. 9. As jy dit konsekwent toepas, sal jy diere begin teel wat by jou omgewing aangepas is. Onthou, diere ken nie die verskil tussen ’n natuurlike en ’n aangepaste omgewing nie. Voeg dus so min moontlik by die natuurlike omgewing as wat nodig is om diere te laat floreer. Die diere wat die mas opkom, sal dalk effens anders lyk as waaraan jy gewoond was, maar die eindresultaat is ’n vrugbare, doeltreffende koeikudde wat in natuurlike toestande floreer. Jou hoër wins per hektaar sal dit ook weerspieël. 10. Dieselfde dektyd vir koeie en verse is aan te beveel. Maak seker jy boer in sinchronisasie met jou omgewing. Om jou eie verse te ontwikkel en aan die regte soort vrugbare bulle bloot te stel, is die regte roete om te volg. Met die huidige gesondheidsprobleme moet jy ook seker maak jy koop vroulike diere met ’n betroubare gesondheidstatus.
Gerrit van Zyl is ’n Bloemfonteinse sakeman en bekroonde boer.
NAVRAE: E-pos: gerritvanzyl@mweb.co.za