Zoeloekoning soek grond ‘vir eisers se beswil’
“DIE wenslikheid daarvan om konflik, bloedvergieting en chaos te vermy” is een van die redes wat die Ingonyama-trust aanvoer oor hoekom 9 000 ha waardevolle landbougrond aan hom pleks van aan drie Zoeloegemeenskappe oorhandig moet word.
Dié grond word as skikking aangebied in ’n grondeis waarvolgens aanvanklik 42 000 ha geëis is. Dit is suid van Melmoth in KwaZulu-Natal geleë en het ’n geraamde waarde van R3 miljard. Daar word tans intensief met onder meer suikerriet, boomaanplantings, avokado’s en beeste geboer.
Die Ingonyama-trust bestaan uit kommunale grond wat voor 1994 aan die destydse KwaZulu-tuislandregering behoort het. Grond wat nié binne die grense van die eertydse tuisland was nie, val na regte buite die bestek van die trust.
Tog redeneer die trust in hofstukke die grond in privaat besit moet ook aan hom oorhandig word, aangesien die begunstigdes van die grondeise op trustgrond woon en onder die gesag van die Zoeloekoning val.
Drie gemeenskappe – die Emakhasaneni, Entembeni en Mthonjaneni – het voor 1998 restitusie-eise ingestel. Hiervan val 1 332,743 ha, wat deur die Mthonjaneni-gemeenskap geëis word, onder die beheer van die Ingonyama-trust.
Ná langer as tien jaar se litigasie en talle hofverskynings is verlede jaar in beginsel ooreengekom dat die Kommissie vir die Herstel van Grondregte die grond sou koop en aan die gemeenskappe oorhandig, om geregistreer te word in die naam van grondbesitverenigings wat vir dié doel tot stand gebring is. Die plase sou dan met die samewerking van die voormalige eienaars bestuur en bewerk word.
PASLIK EN REDELIK
In Mei vanjaar, kort voor dié ooreenkoms ’n bevel van die hof gemaak sou word, het die Ingonyama-trust egter in nuwe hofstukke daarop aangedring dat die grond in sý naam geregistreer moet word.
Alternatiewelik het hy gevra dat die restitusiebevel opgeskort word hangende ’n grondeis wat die Ingonyama-trust sal indien.
Die trust beroep hom op die Grondwet en voer aan dat die Ingonyama-trustwet die Zoeloekoning die mag gee om die Zoeloevolk volgens tradisionele Zoeloereg te regeer.
Hy sê in ’n verklaring voor die hof die trust bestuur die grond “tot die voordeel, materiële welstand en maatskaplike welstand van die lede van die stam en gemeenskappe.
“Dit sou redelik en regverdig vir die [eisers] en ander gemeenskappe wees dat die grond ten gunste van die Ingonyama-trust bekragtig word,” lui die verklaring, en noem dat “chaos, wanorde en verwarring voorkom sal word, aangesien die Ingonyama-trustwet ’n paslike en redelike manier bied vir die administrasie van die grond, met die nodige beskermingsmiddelle.” Die trust beweer “die oorweldigende (sic) lede van die gemeenskappe verkies dat die grond in die naam van die trust geregistreer word”.
VERWERP
Toe die saak onlangs in die Grondeisehof in Randburg aangehoor is, het ál die ander partye in die saak saamgestem dat die Ingonyama-trust se versoek teenstrydig is met alle relevante wetgewing – die Grondwet, die Restitusiewet en selfs die Wet op die Ingonyama Trust (Wet 3KZ van 1994), waardeur die trust tot stand gebring is.
Me. Maite Nkoana-Mashabane, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê die eis het “geen meriete nie” omdat die trust “nóg ’n eiser, nóg ’n klaer is” in die hofgeding.
Die Zoeloe-eisers wys daarop dat nie een van die eisergemeenskappe in die Ingonyama-trustwet genoem word nie en dus buite die gesag van die trust val. Hulle bevraagteken die bewering dat die meeste van die eisergemeenskappe ten gunste is dat die grond in die trust se naam geregistreer word.
Hulle wys ook daarop dat die trust “nie ontneem [kon] gewees het van grond weens rassediskriminerende wette of praktyke op óf na 13 Junie 1913 soos beskryf in die Restitusiewet nie”.
INSETTE
Die 20 huidige eienaars van die onderskeie plase wat geraak word, sê as die grond in die trust se naam geregistreer word, sou “die Ingonyama-trust ’n onbelemmerde reg hê om weg te doen met die eisergemeenskappe se herstelde grondeienaarskap, of om dit te bestuur sonder [die eisers se] goedkeuring of insette oor sulke besluite”.
Uitspraak is voorbehou.