Duidelikheid oor beleid, beter steun verseker toekoms
Beleidsekerheid en ’n bekwame staatsamptenary is noodsaaklik om voort te bou op die gunstige uitwerking wat privatesektorbelegging in die hoëwaardelandbousektor en die uitbreiding van landbouverwerking het.
Elke jaar in Augustus wek die span van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) die landbou uit sy winterslaap met sy jaarlikse landbouvooruitskouing.
Vanjaar het sy gewone vooruitskouing van landbouproduksie, -verbruik, -pryse en -handel vir die volgende tien jaar ook die grondhervormingsdilemma getakel.
Op die onlangse jaarlikse konferensie van die Landbou-ekonomievereniging van SuidAfrika (Levsa) het prof. Ferdi Meyer, direkteur van die BFAP, aangedui hoe die BFAP sedert sy ontstaan in 2004 beleid beïnvloed het.
Die BFAP het gehelp om hoofstuk 6, die sogenoemde landelike hoofstuk van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), te skryf. Ná die plaaswerkeropstande van 2012 het die BFAP die ontleding gedoen wat die dilemmas van werkers en produsente opgeweeg het om in 2013 aan te beveel dat die minimum loon met 50% tot R105 per dag verhoog word.
Eweneens was die organisasie sedert 2015 betrokke by verslae oor die impak van onlangse droogtes op die landbou-ekonomie.
.TABEL 1 toon die impak van die droogte van 2017 op die Wes-Kaap.
Maar hoe kan die Suid-Afrikaanse landbou met soveel veranderlikes en bedreigings nog groei en ’n gesamentlike toekoms help skep? Wat is reg en wat is verkeerd?
Meyer sê die gunstigste neiging die afgelope 15 jaar was die toename in produksie in reaksie op belegging in die uitvoervrugtebedrywe en die verwerking van landbouprodukte. “As ons net kyk wat die impak van belegging op die produktiwiteit van die landbou is, was dit regtig groot. En ek praat hoofsaaklik van belegging deur die private sektor.”
Hy meen beleidmaking het gemengde resultate opgelewer. “Aan die een kant is dit goed dat ons nie beleid het wat landboumarkte beïnvloed nie, maar aan die ander kant het ons verloor waar ons nie oorsese markte kon oopmaak nie.”
Meyer sê daar is nie genoeg staatsbelegging in die landbou nie, veral nie in die sektore wat moes groei, soos nuwe swart boerderye en die oopmaak van markte, nie. “Oral waar belegging plaasgevind het, het produksie toegeneem, byvoorbeeld die toename in sojaproduksie nadat ’n verwerkingsaanleg vir sojabone geopen is, of die sukses wat ons behaal met die uitvoer van rooivleis. Suid-Afrika was 15 jaar gelede ’n netto invoerder van rooivleis, nou voer hy uit.
“Daar was ook enorme groei by die arbeidsintensiewe landbou-uitvoerprodukte, soos sitrus, sagtevrugte en avokado’s. Dit is in ooreenstemming met die matriks in hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan ( GRAFIEK ).”
SKAKEL OOR NA HOËR RAT
Die vraag is hoe daar op dié sukses voortgebou kan word. Meyer sê die landbou sal net beleggings lok as beleggers vertroue het dat hul belegging veilig is en hulle ’n opbrengs daarop gaan kry. “Volgehoue beleggersvertroue word aangevuur deur beleidsekerheid. Dis belangrik dat eiendomsreg seker is op die grond waarop jy belê sodat jy op ’n langer termyn kan belê.”
Nog iets wat die landbou kan help, is as die vermoë van die Regering en die private sektor om saam te werk om buitelandse markte te ontsluit, versterk word. “Kyk na hoeveel bottelnekke daar is. Vergelyk Suid-Afrika se situasie met Chili en hoeveel markte hy met bilaterale handelsooreenkomste oopgemaak het.” (Sien TABEL 2 .)
Besteding aan waterinfrastruktuur en die doeltreffende verspreiding en benutting van water is nog ’n gebied waarop die Regering en die private sektor elkeen sy deel moet doen. “Die Regering moet in infrastruktuur belê, maar die private sektor kan ’n bydrae lewer deur groter watergebruiksdoeltreffendheid.”
Meyer sê om die neigings vol te hou en groei te ontsluit, sal die private sektor en die Regering se pogings na ’n hoër rat moet oorskakel.
AGRIPARKE ‘NIE DIE OPLOSSING’
Die gebrek aan vordering met grondhervorming wek groot kommer, sê Meyer.
Hy sê daar is ’n groot behoefte om onderontwikkelde gebiede produktief te kry en by kommersiële waardekettings ingesluit te kry, maar waarsku oor té vinnige optimisme. “Ons moet realisties wees oor kleinboere. Hulle kan in staat gestel word om in huishoudelike voedselsekerheid te voorsien, maar sal nie die ingewikkelde en groot waardekettings volhoubaar kan voorsien nie.”
Hy sê beleidmakers moet verstaan waar kleinboere is en wat hul behoeftes is om hulle so doeltreffend moontlik te ondersteun. Hy meen die programme van Graan SA en die Nasionale Wolkwekersvereniging is baie doeltreffend om boere te help om toegang tot die graan- en wolwaardeketting te kry.
Meyer is nie ten gunste van die Regering se plan met agriparke nie, en meen daardie geld kan beter aangewend word. “Die Regering is nie veronderstel om besighede te bedryf nie. Hy moet ’n omgewing skep waarin sake gedoen kan word.”
Hy meen daardie geld moet liewer gebruik word om beter ondersteuningspakkette saam met finansiering deur die private sektor aan te bied. “Ondersteuning van die Regering moet aangewend word as ’n katalisatorpakket gekombineer met die private sektor. Sodoende maak jy seker dat kleinboere toegang kry tot waardekettings.”
Daar moet egter ’n aansporing wees vir private maatskappye om betrokke te raak. “Jy moet ’n vlak van versekering gee dat hulle die geld wat hulle belê, gaan terugkry. Dis waarom regeringsondersteuning belangrik is om die wiele te laat draai.”
BEPERKTE SENSUS HELP MIN
Al gaan die sensus van die kommersiële landbou wat op 15 Oktober begin het, waardevolle data oplewer oor boere wat vir belasting op toegevoegde waarde geregistreer is, is Meyer bekommerd oor die gapings in inligting oor die res van die boere. “Dit gaan baie goed wees om die data te hê, maar dit gaan ons nie help met die komponent waarvan ons die data so desperaat soek nie.”
Volgens hom is een van die kommerwekkendste neigings in die Suid-Afrikaanse landbou die gebrek aan akkurate inligting oor swart boere. “Ons weet die minste van die deel van die landbou wat ons eintlik die beste moet verstaan.” Hy sê inligting is nodig oor die landbou in sy geheel. “Ons wil tog ’n inklusiewe landbousektor bevorder.”
Selfs al bestaan die wil om kleinboere te ondersteun, weet niemand hoeveel huishoudings daar is en wie die mense is wat ondersteun moet word nie. “Ons het nie ’n konstruktiewe plan vir grondhervorming nie. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het baie gefragmenteerde planne deurgevoer. Omdat dit nie gekoördineer word nie, is daar grootskaalse ondoeltreffende besteding van geld.”
Hy sê daar is nie ’n tekort aan planne nie. Die BFAP was betrokke by van die planne, maar dit kom nie tot uitvoering in die openbare sektor nie. “Phakisa was ’n baie duur projek, maar ons sien niks daaruit kom nie.”
Meyer sê een van die redes vir die nie-uitvoering van planne is dat daar nie genoeg inligting is om die planne toe te lig en sakeplanne op te stel nie.
ONTWIKKELINGSPLAN RELEVANT
Vir die BFAP bly die nasionale ontwikkelingsplan relevant. Meyer sê twee van die vier komponente in hoofstuk 6 van die plan, naamlik ’n toename in die uitvoer van hoëwaardeprodukte en groter belegging in landbouverwerking en die res van die waar-
deketting, het goed gevaar. “Wat nie goed gevaar het nie, was belegging in kleinboere en grondhervorming.”
Hy reken water is een van die grootste risiko’s vir die landbou. “Die landbou-ingenieurs reken ons moet R800 miljoen per jaar in waterinfrastruktuur en -instandhouding belê. Dis ook ’n feit dat 30% tot 35% van die water verlore gaan tussen damme en plaashekke.”
Mense wat sê die ontwikkelingsplan se voorstelle oor water is te optimisties, het nie die plan behoorlik gelees nie. “Die uitbreiding van besproeiing kom uit besparing op bestaande toedelings, nie van nuwe toedelings nie. Hoofstuk 6 het die basiese boublokke vir ’n inklusiewe landbousektor. Ek dink net doeltreffende uitvoering is ’n probleem.”
Waar die hoofstuk wel verander kan word, is om die portefeuljebenadering (met groot en kleinboere) tot grondhervorming duideliker te stel, sodat daar ’n gestruktureerde plan vir grondhervorming en ’n gesamentlike poging is om dit te laat slaag.
Meyer waarsku dat die landbou nie die land se arbeidsprobleem gaan oplos nie, maar dat dit ’n groot bydrae in landelike gebiede kan lewer.