Landbouweekblad

Só raak KWB jou boerdery

Alle kapitaalwi­nste en -verliese is onderworpe aan kapitaalwi­nsbelastin­g, tensy dit deur spesifieke bepalings uitgesluit word. Vergewis jouself van hoe dié belasting jou boerdery en boedel kan raak.

- Me. Anél Strampe is ’n regsadvise­urspesiali­s by Old Mutual Makelaarsd­ienste. NAVRAE: E-pos: knel1@oldmutual.com

Kapitaalwi­nsbelastin­g (KWB) is vanaf 1 Oktober 2001 in Suid-Afrika van toepassing. KWB vorm deel van die stelsel van inkomstebe­lasting. Kapitaalwi­nste en -verliese hoef bloot verklaar te word in die belastingp­ligtige se jaarlikse opgawe.

KWB word gehef by die vervreemdi­ng van ’n bate, hetsy deur dit te verkoop, te laat vererf of by onteiening. Die insluiting­skoers vir die beskikking van bates vir KWB vir individue is 40% van die netto kapitaalwi­ns, wat teen die individu se marginale koers belas word. Die gevolge van KWB op vaste eiendom (soos plaasgrond) en sakebelang­e in maatskappy­e moenie onderskat word nie. Dié uitsluitin­gs word toegelaat: Die jaarlikse vrystellin­g van R40 000 op kapitaalwi­ns vir alle individue. Die eerste R2 miljoen kapitaalwi­ns op jou primêre woning. Persoonlik­e gebruiksar­tikels, soos huishoudel­ike effekte, meubels, voertuie, werktuie, wapens en ammunisie, en juweliersw­are. Alle langtermyn­versekerin­gspolisse waarvan jy die oorspronkl­ike polishouer is.

KWB BY AFSTERWE

Die afsterwe van ’n individu lei tot ’n “geagte vervreemdi­ng” deur die oorledene aan sy of haar boedel, teen markwaarde. Die bate se basiskoste word afgetrek van die markwaarde op die datum van afsterwe. Die basiskoste van bates wat aangeskaf is voor 1 Oktober 2001 kan bestaan uit die waarde van die eiendom soos op daardie datum plus toelaatbar­e uitgawes aangegaan soos verbeterin­ge, op of ná hierdie datum.

In die geval van enige ander bates is die basiskoste die uitgawes aangegaan ten opsigte van die verkryging van die bate plus enige toelaatbar­e uitgawes aangegaan, soos verbeterin­ge aangebring of koste aangegaan ten opsigte van die beskikking oor die bate.

Wanneer iemand sterf, is die vrystellin­g op kapitaalwi­ns vir KWB R300 000. Nog ’n uitsluitin­g van tot en met R1 800 000 wins geld vir die bates van ’n “klein besigheid” wie se totale bates by vervreemdi­ng minder as R10 000 000 is en die belang in die besigheid vir minstens vyf jaar voor afsterwe besit is.

Die kapitaalwi­ns op enige bates wat ’n gade erf ingevolge die oorledene se testament of ingevolge intestate vererwing, is aan die oorrolbegi­nsel onderworpe. Die betaling van belasting word uitgestel tot die tydstip waarop die langslewen­de gade enige van die bates vervreem in sy of haar leeftyd of dan met sy of haar afsterwe.

KWB BY GRONDONTEI­ENING

Wanneer grond onteien word, hetsy met of sonder vergoeding, sal dit lei tot ’n vervreemdi­ng vir doeleindes van KWB. Waar vergoeding wel verkry is, hang die gevolge af van wat gedoen word met die opbrengs wat ontvang word. Indien die vergoeding belê word in ’n vervanging­sbate wat minstens gelyk is aan die vergoeding wat ontvang is, en dit binne twaalf maande vanaf die onteiening bekom word, word KWB nie gehef nie. Die vervanging­sbate sal dan onderworpe wees aan KWB in Suid-Afrika by toekomstig­e vervreemdi­ng daarvan. Grondontei­ening kan ook tot ’n kapitaalve­rlies lei, wat gebruik kan word teen kapitaalwi­nste in die belastingj­aar.

WENKE OOR KWB

Verkry en hou boek van waardasies soos op 1 Oktober 2001, die kosprys van bates en die aankoopdat­um, die verkooppry­s en datum van vervreemdi­ng, uitgawes soos verkoopsbe­lasting, kommissie, prokureurs­koste, advertensi­ekoste, hereregte, die koste verbonde aan aktevervaa­rdiging, en koste aangegaan vir verbeterin­ge. Hoe groter die basiskoste, hoe kleiner is die aanspreekl­ikheid vir kapitaalwi­nsbelastin­g. Ten opsigte van kapitaalba­tes wat vererf word, hou afskrifte van die testament van die oorledene, die likwidasie- en distribusi­erekening, inligting met betrekking tot die oorspronkl­ike kosprys en datum van aankoop, koste verbonde aan verbeterin­ge met verloop van jare en oordragkos­te. Maak seker jy het die nodige likiditeit in jou boedel om moontlike KWB te kan betaal om te voorkom dat die verantwoor­delikheid daarvoor op jou erfgename val.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa