Melkboere vasgevang in ’n wurggreep
Dit is veral vir kleiner produsente moeilik om sukses in die melkbedryf te behaal, want hulle kry weinig steun. Innoverende denke is nodig en boere sal sterker standpunt moet inneem.
Die melkbedryf bly in ’n warboel. Nadat melkpryse sowat twee jaar gelede herstel het ná ’n erge insinking, is Suid-Afrika tans weer in die situasie waar melkkopers kontrakte kanselleer met ’n maand kennisgewing, en waar melkboere vir die wolwe gegooi word. In sommige gevalle word ’n nuwe kontrak aangebied waarvan die prys bykans 30% laer is as die huidige kontrak. Die koeie produseer steeds en die melkboer is nie in ’n posisie om op so ’n kort kennisgewing ’n gewillige nuwe melkkoper te kry nie. Dit wil voorkom asof dit die klein- en middelslag-melkboere is wat in die slag bly.
Intussen berig Melk SA dat melkproduksie op plaaslike vlak hoog bly en toeneem. Volgens Melk SA was die totale melkinname in September 2018 sowat 309 miljoen liter, wat 4% meer is as in September 2017. In die eerste nege maande vanjaar was die melkinname 4,8% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dié toename in produksie val saam met ’n ekonomiese insinking wat verbruikers onder druk plaas, en waar veral die verbruik van vars melk skynbaar besig is om te daal ten gunste van langlewemelk (wat deels ingevoer word).
Ongelukkig werk die markmeganisme in die melkbedryf eensydig na die boer se kant toe, met laer produsentepryse om produksie te ontmoedig (en kleinboere uit die melkbedryf te dwing). Ons sien nie juis pogings om verbruik met laer winkelpryse en spesiale promosies te stimuleer nie. Daar is ook ’n voortdurende verskuiwing van verbruik weg van vars melk na verwerkte melk en ander suiwelprodukte.
Daarby is die Europese Unie (EU) besig om van opgehoopte staatsvoorrade, wat ingekoop is om die bedryf teen ’n vloerprys te stabiliseer, op die internasionale mark te verkoop. Die EU het ’n tipe vloerprysmeganisme waarvolgens dié unie jaarliks van 1 Maart tot 30 September sowat 60 000 ton botter en sowat 109 000 ton melkpoeier kan inkoop. In ’n stadium word dié groterwordende staatsvoorraad op die uitvoermark ge-
plaas – en ek vermoed dit kom na Suid-Afrika en ander Afrikalande.
Volgens die Melkprodusente-organisasie (MPO) gaan die heelwat laer produsentepryse en die geleidelike styging in voerpryse waarskynlik in die komende maande daartoe lei dat melkproduksie ingekort word. Dit sal die mark skynbaar meer in balans bring. Vir my bly die vraag: As daar ’n sogenaamde binnelandse oorskot van vars melk is, waarom word die verkoopprys nie ook verlaag soos met ander produkte nie om die verbruik te stimuleer? Solank die verkooppryse bly styg en verwerkers hul marges in ’n swak ekonomiese klimaat beskerm, sal verbruik onder druk wees. Ek sou reken melkboere moet ook standpunt inneem sodat die verbruikersprys verlaag word.
Daarby vind ’n struktuurverandering in die produksie van melk plaas, waar kuddes groter word en produksie na die kusweidingsgebiede verskuif, terwyl die kuddes in die binneland toenemend onder druk is. Dit is skynbaar goedkoper om melk op intensiewe weidings te produseer as op ’n gedeeltelike volvoerbasis in die binneland. Die ironie is dat heelwat produkte dan vanaf die kus na Gauteng vervoer moet word.
In 1997 is sowat 53% van die land se melk in die kusstreke geproduseer, en in 2017 het syfers getoon dat dit al sowat 85% is. Gevolglik het melkkopers die kleiner binnelandse produsente in ’n wurggreep. Nog iets wat ’n mens dwars in die krop steek, is die feit dat melkboere wat groot volumes melk lewer, beter pryse kan beding. Dit is net goedkoper om een melktenk by een boer te vul as om by vyf kleiner boere aan te ry.
Dit bly vir my vreemd dat die Regering dink ’n klein melkboer met 20 koeie gaan die mas opkom in die lig van die huidige struktuur in die melkbedryf en die feit dat daar geen regulering is nie. Dit is die gevolg van die vrye mark, waar die grootste of goedkoopste deelnemer die mark gaan bly oorheers, tensy die skeefgetrekte prentjie beter deur landboubeleid bestuur word. Die feit is dat Suid-Afrika nie juis ’n landboubeleid het om van te praat nie, en daarom bestaan die neiging dat groter boerderye oorheersend is. Dit beteken nie dat daar nie plek vir middelslagen kleinboere is nie, en ek dink die idee van koöperatiewe samewerking begin weer posvat. Middelslag- en kleinboere sal net meer innoverend en ratser moet wees as hulle ’n faktor in die melkbedryf wil bly.
INTERNASIONALE POSISIE
Die internasionale verwagting is dat melkproduksie in 2018-’19 gaan toeneem ná die vorige jaar se laer produksie. Groter uitvoerbare surplusse word in die groot produserende lande in die vooruitsig gestel, en dit sal suiwelpryse in die komende jaar laer druk. Dit het ook tot gevolg dat die groot voorraad EU-melkpoeier ’n probleem op die internasionale mark skep, en keer dat pryse styg.
Na raming het die EU sowat 245 000 ton melkpoeier in staatsvoorraad. Die huidige beleid is om die voorraadvlakke te laat daal deur die melkpoeier teen laer pryse op die internasionale mark te verkoop, en na gelang van die maandelikse verkoopsvolume druk dit internasionale pryse laer.
GRAFIEK 1 toon die verloop van die internasionale suiwelpryse in Amerikaanse dollar en die verwagting vir die komende jaar, wat beskou moet word saam met die verswakking in die rand die afgelope jaar. Na my mening moes dit tot gevolg gehad het dat invoerpryse van suiwel styg en invoer ontmoedig word om sodoende die binnelandse mark te stut,
maar dit was skynbaar nie die geval nie. Daarby het Suid-Afrika ’n vryhandelsooreenkoms met die EU, waarvolgens ’n sekere tonnemaat suiwelprodukte tariefvry ingevoer kan word. Dit is sowat 1 200 ton kaas per jaar, naastenby net soveel botter en bykans 4 500 ton melkpoeier. Dit alles plaas druk op die binnelandse mark.
BINNELANDSE MARKSITUASIE
GRAFIEK 2 toon die verloop van die geraamde produsente-melkprys teenoor die verloop van voerkoste (mielies en soja), wat ’n aanduiding gee van die verloop van volvoerpryse. Die mielieprys en ander voerkoste het ná die hoogtepunt met die droogte in 2015-’16 redelik gedaal. Heelparty melkboere in die binneland het weens duur voerkoste en melkpryse wat nie tred gehou het nie, die bedryf verlaat.
Daar was ’n matige herstel ná die droogte, met melkpryse wat verbeter het en voerkoste wat gedaal het. Die neiging het sedert die tweede kwartaal van 2018 omgeswaai. Voerkoste is stadig maar seker besig om te styg (swakker rand-dollar-wisselkoers), terwyl melkpryse aan die boer aansienlik gedaal het. Grafiek 2 toon wat die posisie sal wees van ’n melkboer vir wie die melkprys skerp gedaal het tot rondom R3,50/liter. Sy kontantvloei is onder erge druk en sy winsmarges is negatief – wat nou? Om die situasie verder te illustreer, toon
GRAFIEK 3 die verloop van die getal melkboere teenoor die hoeveelheid melk wat jaarliks sedert 2009 aangekoop is. Die daling in die getal melkboere is duidelik – terwyl produksie bly styg – wat dui op die realiteite van ’n skaalekonomie. Na raming neig ’n ekonomies lewensvatbare melkkudde na sowat 500 koeie plus. Heelparty melkerye in die binneland het tans minder as 200 koeie in melk, terwyl die uitbreiding in die kusweidingsgebiede aansienlik is, en ’n koeikudde van 800 (en selfs meer as 1 000) die norm is.
Dit beteken kleiner melkboere sal nuut en innoverend moet optree om mededingend te kan bly.