Stap vir stap: Toe g’n so maklik om te onteien
‘Daar sal nog ’n paar struikelblokke oorkom moet word.'
DIE ANC en die Regering het reeds op verskeie platforms aangedui dat hy nie grond wat produktief aangewend word, sonder vergoeding wil onteien nie.
Dié aanduiding kan as ’n ligpunt beskou word ná die Parlement se grondwetlike hersienings komitee aanbeveel het dat onteiening sonder vergoeding duidelik in die Grondwet ingeskryf moet word, sê prof. Johann Kirsten, hoof van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch.
Na verwagting sal die voorstel op 27 November in die Parlement ter tafel gelê word, waarna dit gedebatteer sal word en parlementslede daaroor sal stem.
Indien die voorstel aanvaar word, lê ’n lang pad van parlementêre prosesse voor, wat tot lank ná volgende jaar se algemene verkiesing kan duur, voordat die Grondwet gewysig kan word.
Kirsten sê dis duidelik uit verskeie openbare stellings van die ANC dat hy eers gaan kyk na vakante, ongebruikte en onderbenutte staatsgrond vir herverdeling. Eienaars van onderbenutte private grond sal egter ook druk ervaar.
“Wat belangrik is vir boere, is dat hulle vroegtydig die proses moet bestuur om hulself nie ’n teiken vir onteiening te maak nie.”
Hy sê dis duidelik dat ’n selektiewe proses oorweeg word, eerder as ’n sambreel benadering.
ONSEKERHEID
Kirsten sê onsekerheid oor die onteieningsproses en die bewoording daarvan het reeds die ekostrategie nomie geskaad. “Dis die prys wat betaal moet word vir die proses. Daar sal nog ’n paar struikelblokke oorkom moet word voor ons die einde gaan bereik.”
Hy stel voor dat boere pro-aktief boer en aan grondherverdelingsprojekte deelneem: “Om te wag gaan nie werk nie. Jy moet die proses fasiliteer en mense wat wil boer identifiseer wat by jou kan oorneem op ’n huurbasis, of hulle onder jou vlerk neem om hulle te vestig. Landboubesighede en leierboere het ’n groot rol om in hierdie proses te speel.”
Kirsten benadruk dat ’n omvattende wetlike proses gevolg moet word om die Grondwet te wysig, en boere dus nie ’n seisoen opsy moet skuif nie. “Produksie moet voortgaan. Suid-Afrika ís nog ’n regstaat, met sy wetlike raamwerk nog stewig,” sê hy.
STRATEGIEË
’n Komplekse wisselwerking van politiek, beleid en praktiese verhandelinge gaan nou begin tussen die Parlement, die Regering, die uitvoerende gesag, poli- tieke partye, belanghebbendes en die howe.
LP’s van die DA, Cope, VF Plus, ACDP en die IVP wat in die grondwetlike hersieningskomitee gedien het, het reeds kapsie gemaak teen die aanbeveling vir die grondwetwysiging.
Volgens hulle het die komitee heelwat foute begaan met sy bepaling van die uitkoms van die proses van openbare deelname.
Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), Agri SA en AfriForum het aangedui dat hulle regsgedinge aanhangig gaan maak, maar besonderhede hieroor was nog nie teen druktyd beskikbaar nie.
Die ANC, EFF en UDM is ten gunste van ’n verandering van artikel 25 van die Grondwet.
Mnr. Peter Attard Montalto, hoof van navorsing vir kapitaalmarkte by Intellidex, sê dit is veelseggend dat die EFF die ANC se mosie vir die finale verslag in die hersieningskomitee gesteun het, al verwys dit nie na die nasionalisering van grond nie.
“Ons maak gereeld die stelling dat die EFF eindelik meer oor as ideologie gaan. Hulle wil druk op die ANC plaas om die kwessie te bespoedig sodat politieke punte so gou moontlik voor die verkiesing aangeteken kan word.”
DÍT GEBEUR VOLGENDE
Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies moet die grondwetlike hersieningskomitee se verslag onderskeidelik teen 7 en 14 Desember (die datums waarop hulle sluit) aanvaar of afkeur. Die voorstel moet in elk van die huise gedebatteer word.
Indien die verslag goedgekeur word, sal die Parlement ’n aparte mosie moet aanvaar vir ’n komitee om die wetsontwerp vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet op te stel.
Dié opstelproses, waar die publiek weer insette moet lewer, kan minstens nege maande duur.
Ná voltooiing van die openbare verhore moet die wysigingswetsontwerp in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê word, waar ’n tweederdemeerderheidstem nodig is om die wetsontwerp goed te keur.
Daarna moet ses van die nege provinsies in die Nasionale Raad van Provinsies daarvoor stem, voordat dit na die President vir ondertekening gestuur kan word. (Sien GRAFIEK .)
Sodra die president die wysigingswet onderteken, word die Grondwet verander en sal die Grondwethof nie die substantiewe inhoud van die wysiging kan verander nie.
Die prosedure wat tydens die wysigingsproses gevolg is, kan wel voor dié hof uitgedaag word, sê Montalto.