Prysspook ry Wes-Vrystaat se saaiboere
‘Ons is gewoond om ’n planttyd van tot twee maande te hê. Nou is dit ’n week lank.’
TERWYL saaiboere in die westelike somersaaigebiede angstig wag op genoeg reën om te plant, vlam kommer weer op oor dié belangrike mieliestreek se vermoë om te oorleef te midde van ’n “perfekte finansiële storm”.
“Elke jaar plant ons later as normaal, en ons opsies vir wisselbou raak minder. Dit kom ons duur te staan,” sê mnr. Gys Olivier, ’n boer van Hertzogville in die WesVrystaat, wat beoog om vanjaar sy speenkalwers met sy eie mielies af te rond omdat die mielieprys so laag is.
Maar selfs in die distrik Bultfontein, waar berigte oor finansiële nood groot kommer wek, sê boere hulle is nie noodwendig slegter daaran toe as in die res van die Wes-Vrystaat nie. Hulle is ook huiwerig om klimaatsverandering alleen die skuld vir die penarie te gee.
Prys eerder as die weer is sy grootste risiko, sê mnr. Anton Botha, ’n boer in die distrik Bultfontein.
“Jy wag maar tot dit reën voor jy verskans. Omdat ons laat plant, verskans ons ook ons oeste later wanneer die pryse swakker is. Jy kom net nie uit die moeilikheid met sulke swak pryse nie.”
PRYS IS KONING
Prys speel ’n deurslaggewende rol in boere se winsgewendheid, sê dr. Dirk Strydom, bestuurder vir graanekonomie en -bemarking by Graan Suid-Afrika.
“Teen die huidige prys moet jy ’n bogemiddelde oes afhaal. Jy kan nie net op ’n gemiddelde oes reken nie.”
Hy sê as dit binne die normale planttyd reën en boere het in die optimale tyd geplant, maak dit verskansing maklik. “Maar maak jy jou prys nou al vas en jy kry nie die oes waarop jy gereken het nie, dan raak dit moeilik.”
Botha sê die indruk wat gewek is dat alles net sleg gaan in die distrik Bultfontein, is nie noodwendig reg nie. Hy wys daarop dat distrikte soos Hoopstad en Hertzogville ook geraak is deur droogte en opeenvolgende laat aanplantings.
“Ons het verlede jaar met gemiddeld 370 mm reën tot 5 ton per hektaar geoes, wat werklik nie sleg is nie. In die afgelope vyf jaar was daar een jaar wat ons nie kon plant nie weens droogte. Ons neerslag is steeds naby aan die langtermyngemiddelde.”
Die finansiële druk word egter vererger deur die opeenvolgende jare waarin dit laat en minder as gewoonlik gereën het. Die een jaar toe daar nie geplant is nie, het kontantvloei dus erg geknou, sê hy.
FINANSIERS
Dit is so dat boere uit ’n winsgewendheidsoogpunt onder druk is, sê mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes. Finansiers kyk na die boer se vermoë om sy lening terug te betaal (dus sy kontantvloeivooruitskatting), maar ook na die balansstaat (dus die sekuriteit wat in ruil vir die lening gebied word).
“En sekuriteit is die ander aspek wat nou ook onder druk gekom het omdat winsgewendheid laag is, maar ook weens politieke onsekerheid en die verval van infrastruktuur wat grond se markwaarde onder druk plaas.”
WENKE VIR OORLEWING
Weiding in die Wes-Vrystaat lyk steeds goed, sê Olivier. “Dinge lyk gunstiger vir die boere wat gediversifiseer het en ook ’n bees- én skaapfaktor het. Dit help met die kontantvloei.”
Op sy beurt beklemtoon Botha ook saaiboere moet aanpasbaar wees. “Ons is gewoond om ’n plantvenster van tot twee maande te hê. Nou is dit ’n week lank. As dit beteken jy moet dag en nag plant tussen Kersfees en Nuwejaar, dan maak jy so.”
Wat verskansing betref, sê Francois boere moet seker maak dat hulle hul insetkoste dek en nie spekulatief waag vir hoër wins nie.
Boere moet ook geen uitgawes aangaan voor die grondvog reg is nie. “In hoërisiko-omstandighede soos dié speel jy versigtig en neem nie verdere hoërisikobesluite nie.”