DIE REËN KOM
Nog ’n week, en steeds bly die wydverspreide reën weg. Dit is hartseer om te sien hoe die warm, droë winde die lande in die weste verwaai. Selfs vir iemand soos ek wat nie in Suid-Afrika se saaigebiede grootgeword het nie, is die situasie ondraaglik.
Verlede naweek het ons hoop gehad toe ’n weerstelsel hoër op in Afrika mooi begin opbou het en daar sprake was van ’n bietjie swaar reën.
“Hy moet teen Namibië se kus afkom,” maan my pêl op Hoopstad. Dit stelsel beweeg toe té vinnig in oor Namibië en Botswana, en breek op.
Die dik wolkbank wat veronderstel was om oor Suid-Afrika te beweeg, was toe net blertse wit oor die somersaaigebiede, met stukkies wat hier en daar verder suid weggebreek het oor die land se ekstensiewe veegebiede. Onder die wolkstrepe het daar genadiglik reën geval. Op sommige plekke genoeg om skaflike hoeveelhede mielies te plant.
Van die ouens langs die Drakensberg en in die Laeveld het ook plek-plek mooi reën gekry. ’n Mens is uiteraard dankbaar daaroor.
Maar maak geen fout nie, op die meeste plekke is ons nou op ’n ongemakliker plek as in 2015. Om die waarheid te sê, op sommige plekke het dinge sedertdien eintlik net vererger. Van die weste tot in die suide is ons mense op hul knieë. Die land is dors en broos.
My pêl op Hoopstad glo die reën is op pad. Hy sê nóg ’n stelsel is aan die ontwikkel, en dié een gaan teen die kus afkom.
’n Ander vriend en kollega met net die beste weerinligting tot sy beskikking is ook vas oortuig die reën kom — tussen Kersfees en Nuwejaar om spesifiek te wees. Verbaas vra ek hom of hy inligting het wat ons nie het nie. “Hmm,” antwoord hy, “dit is maar net geloof in Hom wat altyd voorsien, broer.”
Alles is genade. Nie een van ons kan die reën laat kom nie. Ons kan maar net aanhou vra, en dan doen wat ons kan. Besig bly. Nie moedeloos raak nie. Weer besin oor hoekom ons op die plaas is. Planne maak vir wanneer die reën wel kom. Planne maak oor hoe ons volgende keer beter gaan oorleef, terwyl ons alles in die stryd werp om net eers deur dié een te kom.
Ons moet anders begin dink — nie net oor ons boederye nie, maar ook oor ons gemeenskappe. Ons families en besighede trek swaar. Dit is óns mense. Ons kan nie die kundigheid verloor nie. Ons bedryf en land kan nie die houe vat nie, veral nie in die heersende ekonomiese toestande nie.
Die landbou het Suid-Afrika se ekonomie al verskeie kere uit die verknorsing gered. In teenstelling daarmee bloei die land se staatsondernemings die ekonomie al jare lank wit. Kan die landbou nie maar ’n miljard of twee kry van die geld wat so maklik in die hand van mislukte staatsondernemings gestop word nie? Ons landboubesighede kan dit ordelik en konstruktief aan ons landbouers toewys sodat elke sent ’n impak kan maak. Dit kan die onverskoonbare skande van 2016 systap toe middelmanne met die droogtehulpgeld weg is.
Ons kan niks aan die reën doen nie. Daarom is dit soveel belangriker dat ons dít wat ons wel kan beheer, so goed moontlik bestuur sodat wanneer die reën eendag kom, die genade net soveel groter sal wees.