Landbouweekblad

WEES SOOS ’N OU BOOM

-

In my soeke na antwoorde vir ’n tyd soos dié, moet ’n mens diep gaan delwe. Diep soos ’n ou, groot boom se wortels op soek na water in droë tye. Daar is maar net twee maniere waarop so ou, groot boom dit nie kan maak nie. Die een is as die boom van binne begin verrot, en die ander is weens ’n natuurlike storm of vuur.

Die landbou moet tans weer diep besin oor sy waardes en sy geloof om staande te kan bly in hierdie dae. Die Bybel praat van innerlike sterkte om aanslae die hoof te bied. Dis wat ons nodig het as die gedagtes van wanhoop oor droogtes en finansiële druk teen jou kom aanwaai. Ons moet met groot geduld die winde soos lang, swaar takke kan uitry. Harde, onbuigbare, dooie takke breek maklik in ’n sterk wind.

Die storms en vuur wat in 2018 in Suid-Afrika aan’t woed is, is nie speletjies nie. Dit bedreig jou lewe en dié van jou geliefdes fisiek, asook jou finansiële voortbesta­an. Jou diep, innerlike wese word aangetas; jou boerwees.

Hoe het ons oupas en oumas hierdie dinge reggekry? Hoe het hulle weer opgestaan ná ’n oorlog of droogte of Depressie? Soos ’n ou, groot boom. Laat sak jou wortels diep en maak seker jou groeipunte het lewe in sodat hulle nie in die storms afbreek nie.

As dinge nie meer sin maak nie, lees meer, bid meer, luister meer, en praat minder. Wanneer jy weer jouself innerlik gevul en versterk het, gaan jy uit jou binnekamer en bedien die wêreld. Ek het in elk geval nog nooit van ’n boer gehoor wat sy mielies in

sy skuur plant nie! JANNIE DE VILLIERS Uitvoerend­e hoof, Graan SA

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa