Landbouweekblad

Kabinet keur nuwe voorstel vir onteiening­swet goed

- — JOYLENE VAN WYK

KORT op die hakke van die Parlement se mosie dat artikel 25 van die Grondwet gewysig kan word om onteiening van grond sonder vergoeding toe te laat, is ’n nuwe wysiging aan die Onteiening­swet ook uitgelek, wat blykbaar reeds deur die Kabinet goedgekeur is.

’n Vorige onteiening­swetsontwe­rp is vroeër vanjaar aan die parlementê­re proses onttrek in afwagting van die uitkoms van die grondwetli­ke hersiening­sproses oor onteiening sonder vergoeding.

Volgens die uitgelekte wysigings wat in die hersiene wetsontwer­p vervat is, kan dit billik en regverdig wees om geen vergoeding te betaal waar grond onteien word in openbare belang, met inagneming van die relevante omstandigh­ede.

Dit sit die voorwaarde­s vir sulke onteiening as volg uiteen:

As die grond bewoon of gebruik word deur huurarbeid­ers, soos gedefiniee­r in die Wet op Huurarbeid­ers (Wet 3 van 1996). As die grond slegs vir spekulatie­we doeleindes aangehou word. As die grond deur ’n staatsmaat­kappy of staatsinst­elling besit word. As die eienaar van die grond dit verlate gelaat het. As die markwaarde van die grond gelyk is aan of minder is as die huidige waarde van die regstreeks­e staatsbele­gging of -subsidie in die aanskaffin­g en kapitale verbeterin­g van die grond. Dié nuwe wetsontwer­p sal nou in die Staatskoer­ant afgekondig moet word, waarna daar 60 dae toegelaat moet word vir openbare kommentaar.

Daarna moet dit weer deur die relevante portefeulj­ekomitee bespreek word, voor dit deur die twee huise van die Parlement goedgekeur kan word.

Teen druktyd was dit nog nie duidelik of dit betyds by die Parlement ingedien sal kan word om deur die nodige prosesse te gaan en ingestem te word voor die huidige parlement se termyn in Maart tot ’n einde kom nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa