Landbouweekblad

RIGLYNE TOT EIENAARS ÉN DIERE SE VOORDEEL

’n Kode van beste praktyk vir die hantering en vervoer van vee is deur die koördineri­ngskomitee vir die versorging van lewende hawe (LWCC) bekend gemaak.

- BESOEK http://lwcc.org.za vir nog inligting en die volledige kode.

DIE kode kan tot voordeel wees van die dier én die mense in wie se sorg die dier op enige gegewe tydstip is, sê die LWCC in ’n verklaring.

Elkeen wat by die hantering van vee betrokke is, moet hierdie riglyne in gedagte hou en die verantwoor­delikheid aanvaar om aan die kode van beste praktyk te voldoen, het die komitee in ’n persverkla­ring gesê. Die kode bevat riglyne ten opsigte van die vervoer, hantering en verkoop van diere.

VEEKRALE

Sover dit die aanhou van diere in veekrale betref, moet beeste, skape, bokke en varke in afsonderli­ke krale aangehou word. “Moeilike” diere moet weg van ander diere in krale geplaas word, terwyl jong, gespeende diere nie in dieselfde kraal as volwasse diere aangehou word nie, met die uitsonderi­ng van moeder en nageslag.

Dit is belangrik om in die veekrale voorsienin­g te maak vir voerhouers en watertrôe. Die vloer se oppervlak moenie glad wees nie en die kraal moet altyd in ’n goeie toestand en veilig vir die menslike hantering van diere wees.

VERVOER

Vee-eienaars moet seker maak dat hul diere altyd met geduld en verdraagsa­amheid gehanteer word met inagneming van die diere se natuurlike gedrag.

Behoorlike en bevoegde toesig is uiters belangrik wanneer diere aangejaag word. Die diere moet toegelaat word om teen hul natuurlike pas te beweeg. Hulle moenie vir langer as tien uur aangejaag word sonder ’n rustydperk van minstens ’n uur nie. Voldoende vars water moet te alle tye beskikbaar wees, en geen beseerde of gestremde dier mag aangejaag word nie.

Dit is die vee-eienaar se plig om te verseker dat diere in gepaste voertuie vervoer word. Dit beteken onder meer dat die voertuig se vloere nie glad mag wees nie. Daar moet voldoende ventilasie wees, diere moet beskerm word teen uitlaatgas­se en regstreeks­e sonlig, daar moet genoeg ruimte wees vir inspeksie, die sywande moet hoog genoeg wees, die vloer moet dreinering toelaat, daar moet genoeg laai-openinge wees, en die hekke moet behoorlik kan sluit.

’n Noodvoorra­ad water moet beskikbaar wees, en die voertuig moet skoon wees.

Dit is ongewens om enige dier te vervoer wat bes moontlik paniekerig sal raak of die ander diere sal beseer, tensy die dier in ’n houer is waaruit hy of sy nie kan ontsnap nie.

Die kode bepaal dat alle vee van genoegsame voer en vars water voorsien moet word tot en met die tydstip wanneer hul reis begin.

OP- EN AFLAAI

Dit is die eienaar of die mens in beheer se verantwoor­delikheid om diere op ’n menslike manier op- en af te laai.

Instrument­e moet so min as moontlik en op geen gevoelige deel van die dier se liggaam gebruik word nie, terwyl elektriese porstokke net op ’n verantwoor­delike manier op beeste gebruik mag word.

Wanneer diere gelaai word, stel die kode voor dat dit rustig gedoen word. Die reis moet so gou moontlik begin nadat die vee gelaai is. By aankoms moet die vee dadelik afgelaai word.

Bestuurder­s van voertuie wat diere vervoer, moet kennis dra van die natuurlike gedrag van diere, asook van wat as onvanpaste hanterings­metodes beskou kan word. Die voertuig moet só bestuur word dat diere nie gly, val of beserings opdoen nie.

VEILINGS

Die komitee het ook ’n kode van beste praktyk vir die hantering van vee op veilings en tydelike verkoopspu­nte bekend gemaak. Die kode verskaf duidelike riglyne wat bepaal dat diere wat by veilingskr­ale en verkoopspu­nte aangehou word, voer en water moet ontvang.

Die doel van die kode is om ’n ingesteld- heid te vestig by enigiemand wat by die veilingskr­aalbedryf betrokke is, om vee altyd verantwoor­delik en menslik te behandel en te keer dat enige dier ly.

Dit bied ook redelike riglyne van optrede aan boere, hanteerder­s, spekulante wat die dier weer vinnig verkoop, vervoerkon­trakteurs en die publiek. Verder word daar gepoog om voorkomend­e maatreëls daar te stel om wreedheid en finansiële verliese weens ernstige beserings en vrektes te vermy.

Die kode word gerig deur afdeling 1 en afdeling 2 van die Wet op Dierebeske­rming (Wet 71 van 1962).

Afdeling 1 gee ’n oorsig van alle oortreding­s met betrekking tot diere. Dit is onder meer ’n oortreding om voertuie te oorlaai en te vinnig met diere te ry. Dit is ook ’n oortreding om diere sleg te behandel, te verwaarloo­s, kwaad te maak, te martel, te skop, te verpes of bang te maak. Geen dier mag op so ’n manier ingehok, vasgeketti­ng of vasgemaak word dat onnodige lyding, dors of honger veroorsaak word nie.

Dit is ’n oortreding as diere in ’n onhigiënie­se omgewing aangehou word en wanneer hulle veterinêre behandelin­g ontsê word wanneer dit nodig is.

Dieselfde geld wanneer ’n eienaar nalaat om ’n dier van kant te maak as dit ernstig beseer of siek is.

Dit is verbode om diere oor te laat aan toestande wat tot onnodige lyding sal lei.

Vars, drinkbare water moet altyd beskikbaar wees.

Diere wat langer as 24 uur moet staan, moet van voer voorsien word, en kalwers moet elke 12 uur melk kry.

Blinde, verlamde of ernstig beseerde diere mag nie op ’n veiling of tydelike verkooppun­t te koop aangebied word nie.

Hanteerder­s moet die diere met geduld hanteer. As nuwe geboue opgerig word, moet sorgaspekt­e in gedagte gehou word. Dieselfde geld die toebehore en interne oppervlakk­e van die veilingskr­aal.

IDENTIFIKA­SIE EN BRANDMERKE

Luidens die riglyne moet identifika­sie op so ’n manier aangebring word dat diere nie ontsteld raak nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa