Landbouweekblad

‘GOUE GRAAN’ ONTRAFEL

- — MARLEEN SMITH

Suid-Amerikaans­e boere kan nie voorbly met die verbouing van quinoa om in die groeiende internasio­nale vraag te voorsien nie. ‘n Groep Suid-Afrikaanse boere het dit die afgelope paar jaar ook suksesvol begin verbou.

’n Internasio­nale span navorsers het nou die presiese manier vasgestel waarop dié geharde en proteïenry­ke gewas daarin slaag om in selfs verbrakte grond, soos weens oorbemesti­ng of oorbesproe­iing, te floreer.

Die navorsers het in die vaktydskri­f Current Biology verslag gedoen oor die resultate van hul studie. Prof. Rainer Hedrich van die Universite­it van Würzburg in Duitsland was die studieleie­r.

Hulle het vasgestel dat sodra quinoa aan verbrakte grond blootgeste­l word, die soutione natrium en chloried deur die wortels, saailing en blare na spesiale selle op die blare beweeg. Daar word dit opgeberg sodat metabolies­e prosesse in die plant nie ontwrig word nie. Dít is danksy spesifieke oordragpro­teïene dat die natrium- en chloried-ione in staat gestel word om deur verskeie selmembran­e te dring sodat dit veilig opgeberg kan word. Anders as met spesies wat nie so goed teen brak grond bestand is nie, is hierdie proteïene in quinoa al gereed voordat dié soort stres begin.

Luidens ’n verslag van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasi­e het die produksie van quinoa die afgelope paar jaar aansienlik uitgebrei vanaf die hooglande en inter-Andiese valleie, waar verskillen­de kultivars al seweduisen­d jaar tradisione­el verbou word. Daar is egter groot markruimte vir nóg intensiewe­r produksie.

Die eerste verbouing was blykbaar in die omgewing van die Titicacame­er op die grens tussen Peru en Bolivia. Navorsers noem dit die “goue graan” van die Andes.

Quinoa floreer in ’n wye verskeiden­heid klimaatsto­estande, van warm en droog tot humied. Dit weerstaan temperatur­e van 8 ºC tot 38 ºC, en kan suksesvol met jaarlikse reënval van slegs 100-200 mm verbou word.

Hoewel die meeste quinoa ter wêreld in Peru en Bolivia verbou word, het kommersiël­e verbouing die afgelope tyd in lande soos Amerika, Kanada, Frankryk, Nederland, Denemarke, Italië, Indië, Kenia, Marokko en China posgevat, lui die verslag.

 ?? FOTO: VERSKAF ?? ’n Suksesvoll­e quinoa-aanplantin­g op die plaas van mnr. Erich Barry, bewaringsb­oer tussen Winterton en Bergville.
FOTO: VERSKAF ’n Suksesvoll­e quinoa-aanplantin­g op die plaas van mnr. Erich Barry, bewaringsb­oer tussen Winterton en Bergville.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa