5 KATEGORIEË VIR GRONDONTLEDINGS
Mnr. Graeme Sait, Australiese grondgesondheidspesialis, onderskei vyf belangrike kategorieë wat gebruik kan word om ’n grondontleding te interpreteer. Hy glo in chemiese balansering van grond wat met biologiese aktivering gepaardgaan.
Sy onderneming, Nutri-Tech Solutions (NTS), doen ook grondontledings en lewer ’n Soil Therapy-verslag aan boere, met tellings vir onder meer die volgende: ■ Katioon-uitruilvermoë. In internasionale spreektaal word dit CEC genoem, na aanleiding van die Engelse naam. Dit lewer ’n onmiddellike riglyn oor jou grond se vermoë om voedingstowwe en vog op te berg. Ligte sandgrond se CEC kan vanaf 3 wees, en dié van swaar kleigrond tot 60. Dié toets meet die klei-komponent van die grond en kan ’n goeie aanduiding wees van wat ’n geskikte bemestingstrategie behoort te wees. Dit kan byvoorbeeld aandui dat ligte sandgrond eerder bietjie vir bietjie in die groeityd bemes moet word omdat dit nie in staat is om voedingstowwe en vog so goed vas te hou nie. ■ Totale uitruilvermoë. Die algemene internasionele begrip is TEC. Sait sê ’n goeie grondtoets moet altyd ’n TEClesing insluit. In dié meting word die persentasie waterstof, ’n element wat nie ’n voedingstof is nie, ook in berekening gebring. As dit nie gedoen word nie, sê hy, kan die relatiewe persentasie van die ander belangrike katione (basisversadiging) ’n misleidende telling oplewer. Basisversadiging is ’n aanduiding van die persentasie van die belangrikste katione wat “versadig” is, oftewel aan ’n kleideeltjie gebind is. “As jy nie waterstof in berekening bring nie, kan jy verkeerdelik onder die indruk wees dat jou katioonbalans voldoende is, terwyl die helfte van die kleideeltjies eintlik aan waterstof gebind kan wees, ’n element wat nie voed nie en versurend is. Daar is dus baie minder kalsium, magnesium en kalium in daardie grond as wat die CECtelling wys. Jou CEC lyk dalk reg, maar jy het eintlik ’n leë brandstoftenk. Sonder ’n TEC-ontleding sal jy dit nie agterkom nie.”
Grond-pH. Dit het ’n deurslaggewende uitwerking op die opneem van voedingstowwe uit die grond. Die meeste minerale is teen ’n grond-pH van 6,4 die maklikste vir plantopname beskikbaar, sê Sait. In suurder grond sal party minerale minder beskikbaar wees, en in meer alkaliese grond word voedingstofopname ook ingekort. Sy raad is blaarvoedings as jy ’n land met ’n hoë pH oorgeneem of geërf het. Op dié manier, meen hy, kan jy intussen die probleem omseil van voedingstowwe in die grond wat nie vir plantopname beskikbaar is nie totdat die pH gebalanseer kan word. ■ Paramagnetisme. Dié verskynsel, algemeen bekend as PCSM, is die eerste keer deur die Amerikaanse wetenskaplike prof. Phil Callahan beskryf. Hy het vasgestel dat die produktiewe vrugbaarheid van vulkaniese grond regstreeks met sy paramagnetiese gehalte verband hou. Sowat 28% van Suid-Afrika se grond het uit hierdie kategorie ontwikkel, het ’n omvattende en jare lange opname waarvan die resultate in die
gepubliseer is, getoon. Sait verduidelik vulkaniese grond is soos antennas en ontvangers wat spesifieke radiogolwe uit die atmosfeer aantrek en opberg. Hierdie grond het die vermoë om hierdie energie nie net op te berg nie, maar om dit in ligdeeltjies om te skakel wat vir die plantwortels en die omringende mikro-organismes letterlik ligenergie gee. Dit bevorder wortelgroei, asook stikstofbinding by peulplante, en stimuleer voordelige mikrobes. Hoe hoër die grond se PCSM-telling, hoe minder is die boer se produksieprobleme en hoe beter sy opbrengs, sê Sait. ■ Organiese materiaal. Dié telling is waarskynlik die belangrikste aanduider in ’n grondtoets, meen hy. “Dit vorm die grondslag van grondvrugbaarheid. Organiese materiaal is die ‘groot vergewer’. Jy kan allerhande mineraalwanbalanse en -tekorte in jou grond systap bloot omdat die humus daarvoor vergoed of dit buffer. Hoe hoër jou grond se humusvlak, hoe groter is die mikrobiese werkmag en hoe suksesvoller verbouing.”