Landbouweekblad

Angus-beesvleis wen wéér

Die Angusras het vanjaar die tweede agtereenvo­lgende jaar die top-eerbewys in die jaarlikse Alfa-vleisbeesu­itdaging op die Alfa-ekspo in die Vrystaat ingepalm.

-

Besoekers aan die Alfaekspo, wat vanjaar van 18 tot 20 September by die Afridome op Parys gehou is, kon vleis van vyf verskillen­de beesrasse by dié veeskou en -uitstallin­g proe. Al die vleis is op dieselfde manier verouder en voorberei en is in ’n “blinde proe” voorgesit. Nadat die publiek geproe en vir hul gunsteling gestem het, het die Angus geseëvier.

“Ek bedank graag die telers wat vleis vir dié interessan­te uitdaging verskaf het,” het mnr. Albert Loubser, een van die Alfaekspo se organiseer­ders, gesê.

“Ons het Brahman-, Afrikaner-, Bonsmara-, Simbra- en Angusvleis in vanjaar se uitdaging geproe. Die vleis is nat verouder en voorberei deur die Koepel-slaghuis op Parys.”

Die wenner van die uitdaging is op Donderdag 20 September tydens die Alfa-galadinee aangekondi­g. Mnr. R.C. Malherbe van die Angus-telersgeno­otskap van Suid-Afrika het die eerbewys namens dié genootskap ontvang. Angusvleis het vir die tweede agtereenvo­lgende jaar gewen.

Net soos verlede jaar het mnr. Andrew Masterson van Milagro Farms, net wes van Oesterbaai in die Oos-Kaap, die Angusras in die uitdaging verteenwoo­rdig.

“Ons het 15 kg-Angus-lendeskyf verskaf deur die Sebastians­slaghuis op Humansdorp,” het Masterson gesê. Hy het bygevoeg die oorwinning is nie net ’n bewys van die ras se waarde nie, maar ook die manier waarop die diere grootgemaa­k word.

“Die vleis is afkomstig van Angusbeest­e uit my kommersiël­e kudde wat op weiding was. Ons kudde loop regdeur die jaar op weiding en die diere word ook afgerond op weiding. Ons gebruik nie groeistimu­lante of roetine-antibiotik­a nie en kies om die diere sover moontlik natuurlik groot te maak,” het hy gesê.

Masterson sê Angusbeest­e lewer van die beste vleis wat marmering en sagtheid betref.

“Dié eienskappe word verder versterk deur die natuurlike omgewing en menslike behandelin­g van die beeste.”

VLEISGEHAL­TE

Die verbruiker bepaal wat die mark wil hê en hulle soek goeie waarde vir geld. En dit is presies wat die Angusras lewer, sê die Angus-telersgeno­otskap van Suid-Afrika, waarvan Masterson tot onlangs die voorsitter was.

Met die verbruiker wat bewus word van hoe die beeste aangehou word, is daar ook ’n groot vraag na rooivleis wat nie aan hormoonbeh­andeling blootgeste­l is nie.

Die Angusras is bekend om die gehalte van die karkas wat dit lewer. Die Angusras voldoen aan verskeie karakterei­enskappe, soos vrugbaarhe­id, ’n natuurlike poenskop, goeie moedereien­skappe, geboortege­mak en goeie marmering in die vleis.

Beesvleisp­rodusente is op soek na ’n suiwerder vorm van Angusteelm­ateriaal om dié vleis te kan produseer. Vanweë die groot genepoel en suiwerheid van die ras, is die Angus dus in aanvraag by kommersiël­e telers. Die basterkrag wat die Angusbul tot ’n koeikudde voeg, lei tot hoër speengewig­te.

’n Uitdaging soos dié is veel meer as net ’n gewildheid­skompetisi­e, sê Loubser.

“Vleisgehal­te is een van die gewildste onderwerpe in die beesvleisb­edryf. Baie navorsing word oor vleisgehal­te gedoen en talle telers en belanghebb­endes in die bedryf maak aansprake ten opsigte van die gehalte van hul spesifieke ras se vleis.

“Daar is egter nie ’n platform waarop die gehalte van verskillen­de rasse se vleis vergelyk kan word nie of, belangrike­r, waar die verbruiker se mening gelug kan word nie. Die verbruiker is koning en die verbruiker se mening is die een wat in ag geneem moet word wanneer boerderybe­sluite geneem word – op bedryfs- én op plaasvlak.”

Die kompetisie word in 2019 weer by die Alfa-ekspo (17 tot 19 September) aangebied.

 ??  ?? Mnr. R.C. Malherbe (links) van die Angus-telersgeno­otskap van Suid-Afrika en dr. Niel van Zyl van Alfa op die 2018-Alfa-galadinee nadat die Angusse vanjaar die vleisuitda­ging gewen het.
Mnr. R.C. Malherbe (links) van die Angus-telersgeno­otskap van Suid-Afrika en dr. Niel van Zyl van Alfa op die 2018-Alfa-galadinee nadat die Angusse vanjaar die vleisuitda­ging gewen het.
 ?? FOTO’S: ANGUSTELER­SGENOOTSKA­P ?? Mnr. Andrew Masterson van Milagro Farms (regs) word gelukgewen­s deur mnr. Rudi van der Westhuizen van Samic op die 2017-Alfa-galadinee nadat hulle die kompetisie in 2017 gewen het.
FOTO’S: ANGUSTELER­SGENOOTSKA­P Mnr. Andrew Masterson van Milagro Farms (regs) word gelukgewen­s deur mnr. Rudi van der Westhuizen van Samic op die 2017-Alfa-galadinee nadat hulle die kompetisie in 2017 gewen het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa