GEÏNTEGREERDE WAARDEKETTING RED SA KATOENBEDRYF
Nadat daar teen 2009 byna niks van Suid-Afrika se eens florerende katoenbedryf oor was nie, waai ’n nuwe bries. Met hul rug teen die muur het katoenboere hande gevat met verwerkers en die kleinhandel en in die proses geskiedenis gemaak.
Swak pryse, droogte en ’n ongunstige wisselkoers het sy tol geëis en dit het gelyk of Katoen SA sy deure sou moes sluit, onthou mnr. Joseph Kempen van Loskop Cotton. “Almal was moedeloos … Boere, verteenwoordigers van die Verbruikersraad, die Bemarkingsraad, pluismeulens en selfs vakbonde. Dit kon nie so aangaan nie, daar moet ’n plan wees!”
Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, het voorgestel dat die katoenbedryf die Regering om hulp nader, en die Departement van Handel en Nywerheid en die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) het finansieringsprogramme ingestel ingevolge waarvan aansoek gedoen kon word om hulp.
Hul voorwaarde was ’n sakeplan waarin die hele waardeketting deel moes wees van die oplossing. “Dit was ’n hengse voorwaarde! In die bedryf skerts ons al die jare ’n ‘spinner’ en ‘jinner’ sit nie om dieselfde vuur nie,” vertel Joseph.
Mnr. Heinrich Schultz, besturende direkteur van OrganiMark en kenner van geïntegreerde waardekettings, het ’n sakeplan opgetrek en ’n jaar en ’n half later is die South African Cotton and Apparel Cluster (Sastac) gestig.
Ingevolge die plan sit boere, pluismeuleienaars, tekstielspinners en wewers om dieselfde tafel, en die hoendervleisoomblik was volgens Joseph toe die Mr Price-groep aangedui het dat hy ook wou deelneem. “Ons het nie gedink ’n kleinhandelaar sou betrokke wou raak nie.”
Die program het bygedra tot ’n deursigtige kosteberamingsmodel. Die boere het oop kaarte gespeel oor hul produksiekoste en aangedui wat hulle as ’n lewensvatbare winsmarge beskou. “Almal het somme gemaak, en saam met die kleinhandelaars is op ’n basisprys ooreengekom wat in daardie stadium hoër was as die wêreldprys,” sê Joseph. Vandag verkoop Suid-Afrika se boere hul katoen “regstreeks” aan die kleinhandel. Hoewel die wêreldprys steeds as grondslag vir prysbepaling dien, is daar nou ruimte om te onderhandel.
Die kleinhandelaars koop nou die lint by die pluismeule teen ’n vaste basisprys waarop in Oktober ooreengekom word. Die boer weet dus vooruit hoeveel hy vir katoen van ’n spesifieke gehalte gaan kry en word met lewering reeds 60% van daardie prys betaal. Hierdie stabiele prysraamwerk gee aan die boer die sekerheid dat die katoen wat hy nog moet plant, reeds ’n mark het.
Joseph meen dieselfde resep kan ook in die graanbedryf werk. “As ons nie almal dié roete volg nie, gaan ons as boere altyd prysnemers bly pleks van om volhoubare, winsgewende sakemanboere te wees.”