DROOGTE WURG STEEDS GROOT DELE VAN SA
WISSELVALLIGE reën en onvoorspelbare produksietoestande was dwarsdeur die jaar rede tot groot kommer in talle dele van Suid-Afrika.
Weens die rekorddroë WesKaapse winter in 2017 is boere in die Kaapse Skiereiland en omstreke se besproeiingswater in Januarie 2018 amptelik afgesny. Daar is algemeen gevrees dat ’n Dag Zero, wanneer die krane letterlik opdroog, in Maart in Kaapstad sou aanbreek.
Ook in Maart het die provinsiale departement en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) bereken dat die droogte nagenoeg 20%, oftewel R5,9 miljard, uit die Wes-Kaapse ekonomie se bruto toegevoegde waarde gehaal het. Die landbou en die landbouverwerkingsektor dra saam R54 miljard by tot die provinsiale bruto toegevoegde waarde. Daar is ook geraam dat werkverliese in die landbou weens die droogte in Maart al op 30 000 gestaan het.
Einde April het die gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap op 16% gestaan, maar goeie reën in die winter het gehelp om die damvlakke teen Augustus tot bo 50% op te stoot. Teen Desember het die damvlakke gemiddeld op byna 60% gestaan, en waterbeperkings is in dele van die provinsie verslap.
LANGKLOOF EN KAROO
Teen middel 2018 moes boere in die Gamtoosvallei klaarkom met slegs 20% van hul gewone kwota besproeiingswater vanuit die Kougadam, wat in Julie op slegs 7% gestaan het. Geen beduidende reën vir 2018 het toe al geval nie.
Ná goeie reën en sneeuneerslae het dié damvlak in September tot sowat 50% gestyg, en die Gamtoos-besproeiingsraad het gevra boere se kwota moet tot 50% van normale gebruik opgestoot word. Dit is egter deur die Departement van Water en Sanitasie geweier.
Ook in die Langkloof moes boere van September af met net 20% van hul gewone waterkwota klaarkom. Volgens die BFAP kan dit die einde van die appel- en peerbedryf in dié streek beteken indien dit vir ’n jaar sou voortduur. Selfs met 30% van hul gewone waterkwota sal boere 50% van hul produksie binne die volgende jaar verloor – en daarmee saam sowat 6 600 werkgeleenthede.
Ook in die Suid-Kaap en Karoo ontvang 34 distrikte bystand met die verskaffing en vervoer van voer uit die saaigebiede in die noorde van die land. Mnr. Burre Burger, ’n boer van Vredendal, het sedert Maart verlede jaar reeds 909 vragte voer, mielies en ander droogtehulp tot in die verste uithoeke van Suid-Afrika afgelaai.
Mnr. Deon Badenhorst, bestuurder van koöperatiewe bemarking en kommunikasie by Suidwes Landbou, bereken die waarde van die vragte droogtehulp wat al aangery is op R65 miljoen. Hy sê in die Richtersveld het dit ses jaar laas behoorlik gereën en weiding is tot niet.
Daar is ook groot nood op Aberdeen in die Oos-Kaap, en op Beaufort-Wes en Bitterfontein in die Wes-Kaap.
SOMERREËNGEBIED
Gemiddelde tot bogemiddelde oeste is in die eerste helfte van die jaar in die somersaaigebiede afgehaal, ondanks laat aanplantings in baie gebiede.
Goeie reën oor groot dele in Oktober het die nuwe planttyd momentum gegee. In Mpumalanga, tradisioneel die eerste streek in die somersaaigebied wat begin plant, was boere begin November volstoom besig om mielies te plant, maar in die weste was die reën minder en is daar gewag op opvolgreën.
Met die beste planttyd wat teen 15 Desember ten einde loop, het baie boere in die Vrystaat en Noordwes nog op reën gewag. Voorspellings van ’n moontlike
midsomerdroogte het die angstigheid in dié provinsies vererger.
ONWELKOME MISBREDIE
Vrese het in Februarie ontstaan dat een van Amerika se mees verwoestende onkruide by katoen, mielies en sojabone, in katoenlande naby Douglas opgemerk is. Die plantmateriaal het ooreengestem met die gevreesde
Amaranthus palmeri, ook bekend as Palmer-misbredie, en DNS-toetse is gedoen om sekerheid te kry.
In April is dit amptelik bevestig deur dr. Charlie Reinhardt, onkruidkenner, wat reken die plant het die natuurlike vermoë om dalk die skadelikste onkruid in alle dele van Suid-Afrika se somerreëngebied te word.
Opbrengsverliese van tot 91% by mielies en tot 79% by sojabone is al in Amerika aangemeld, volgens die departement van landbou in die Amerikaanse deelstaat Minnesota. Om sake te vererger, het die onkruid weerstand opgebou teen talle klasse plantdoders en hul verskillende maniere van werking, wat dit moeilik en duur maak om te bekamp.
Verskeie belanghebbendes – van die staat en die georganiseerde landbou tot omgewingsinisiatiewe – het begin saamwerk om die omvang van die onkruid se teenwoordigheid te bepaal. Buiten die opbrengsverliese wat dit kan meebring, is dit giftig vir diere en selfs kinders.
BOOMPLAAG
’n Plantplaag wat sedert einde verlede jaar ’n spoor van verwoesting in parke en tuine in George aan die Tuinroete veroorsaak het, het ’n bosboukonsultant, mnr. Braam du Preez, laat ondersoek instel.
In Februarie het hy by kundiges van die instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (FABI) aan die Universiteit van Pretoria aangeklop, wat vasgestel het dat dit die stompneuskewer
(Euwallacea fornicatus) en ’n swam is wat hy versprei. Dit is verlede jaar die eerste keer in Suid-Afrika ontdek en is oorspronklik van Suidoos-Asië.
In Julie het kundiges ’n nasionale aksieplan begin opstel teen die plaag wat toe reeds, buiten die Tuinroete, in Durban, Johannesburg, Bloemfontein en Hartswater kop uitgesteek het.
Daar is vasgestel dat avokadobome in private tuine geraak is, maar sover bekend is geen kommersiële avokadoboorde tot dusver geraak nie.