DIE PROEWE
Die doel van die studie by Viljoenskroon was onder meer om die optimale tydsberekening vir stikstoftoedienings te vind, asook die doeltreffendheid van KAN vergeleke met ureum drie weke ná plant, ten tyde van plant of drie weke voor plant.
Dit is onder die vaandel van die Landbounavorsingsraad se Graangewasseinstituut gedoen, en is dus wetenskaplik en onafhanklik.
Die proefpersele was op Avalon-grond, met ’n diepte van tussen 1,2 en 1,7 meter tot op die keerlaag wat ’n watertafel in stand hou.
Die grond se klei-inhoud neem van 9,1% in die boonste 15 cm toe tot 10,4% van 15 cm tot 30 cm diep, en 16% van 30 cm tot 60 cm diep.
In sulke grond loog stikstof tot in die water in die watertafel, maar beweeg dan weer opwaarts saam met die watertafel. Loging word dus beperk, en die beweging van water in die ondergrondse lae is veel stadiger danksy die hoër klei-inhoud en die keerlaag.
Die proewe is elke jaar ná ’n rip-op-diery (ROR)-bewerking tot ’n diepte van 0,6 tot 0,7 meter gevestig.
Stikstoftoedienings is teen vyf verskillende peile gedoen – vanaf 35 tot 175 kg N/ha. Die stikstof, vanaf die twee bronne (KAN en ureum), is drie keer in afsonderlike behandelings toegedien: voor, ten tyde van en ná plant.
Die Pannar-kultivar 6479 is in rywydtes van 1,5 meter geplant, met plantdigthede van 26 514, 27 083 en 25 069 plante per hektaar onderskeidelik in die betrokke seisoen.