Droogte: Erger as 2015? Noodvoer ook skraps
DIE reën bly weg, beurtkrag laat kosbare besproeiingswater wegloop, en ’n gebrek aan weiding bedreig kudde-opbou in die sentrale dele van Suid-Afrika. Boere en landboubesighede oor die land heen waarsku dié droogte kan die belowende tekens van herstel ná die rampspoedige droogte van 2015-’16 uitwis, en baie van hulle in ’n slegter posisie laat as destyds. Boonop lyk klimaatvooruitsigte nie belowend nie.
Teen druktyd, met enkele dae van die optimale planttyd oor, het groot dele van die Oosen Wes-Vrystaat nog nie genoeg reën gehad om te plant nie.
“’n Groot deel van die OosVrystaat het nie reën gehad om betyds te kan plant nie. Na raming is minder as 50% van die aanplantings in dié streek binne die aanvaarbare planttyd gedoen,” sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou.
Mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê benewens lae damvlakke word boere in sy provinsie gepootjie deur ongunstige produksietoestande en swak weiveld, wat deur veldbrande vererger is.
“Ons produsente moes teen einde November reeds die laaste somergewasse begin plant het, maar in sommige gevalle was die toestande só sleg dat hulle nie eens vroeër die primêre voorbereiding kon doen nie,” sê hy.
WEIVELD
Volgens ’n vroeëre opname is Noordwes weiveld van meer as 400 000 hektaar in veldbrande kwyt, wat weens die hitte-toestande, brandstigting en ongeluksbrande – weens foutiewe Eskomlyne of menslike nalatigheid – nou veel meer kan beloop.
“Die hitte en droë toestande plaas die grondwatervlakke onder druk en boorgate begin droog raak,” sê Du Toit. In dele van die provinsie is ook nie meer water vir vee beskikbaar nie. Hy sê aanvullende reën is dringend nodig in die Marico-Bosveld-besproeiingskema, waar onder meer saadmielies verbou word. Die Marico-Bosveld-dam is sowat 29% vol en die Kromellenboogdam is reeds leeg, met visse wat in kuile vrek.
WES-VRYSTAAT
As dit nie binnekort reën nie, stuur die Wes-Vrystaat op ’n ramp af wat veel groter as die droogte van 2015-’16 gaan wees, volgens bekommerde boere en landbouinsetverskaffers in dié streek.
In distrikte soos Bultfontein, Hoopstad, Hertzogville en Theunissen is die omvang van die krisis duidelik uit derduisende hektaar saaigrond wat steeds wag om beplant te word. Stofwolkies dwarrel deur die verlate landerye, en waar daar wel enkele lappe mielies geplant is, krul die blare om. Plekplek lê jong mielieplante plat, met die blare verskroei deur die wind wat sandkorrels soos koeëls laat neerreën op die jong plantjies.
Optimale planttyd in dié distrik is eintlik teen 16 Desember verby. Teen druktyd het die distrik Bultfontein nog net tussen 10 mm en 25 mm reën gekry, wat onvoldoende is om te plant. Verlede jaar se aanplantings, wat ná reën op Kersnag gevolg het, se opbrengs was merkbaar kleiner, terwyl enkele boere se oes deur vroeë ryp geknou is. Die uitwerking hiervan is vererger deur swak pryse en die skuldlas van die vorige droogte wat nog nie verlig is nie.
Mnr. Willem van Zyl van die plaas Sam in die distrik Hoopstad het by een van die plaaslike saadverskaffers verneem dat daar in dié distrik gewoonlik 150 000 hektaar geplant word, maar teen 11 Desember is slegs ongeveer 1 000 hektaar al geplant.
Een Bultfonteinse saadverskaffer wat weens maatskappybeleid nie sy naam kan noem nie, beaam die prentjie. “Daar is nog skaars ’n pit in die grond gesit. My vermoede is dat daar maar sowat 8% in die Wes-Vrystaat geplant is.”
SENTRAAL-KAROO
Die afgelope vier jaar se droogte in die Sentraal-Karoo is dalk nie die gebied se ergste droogte nie, maar wel die een wat die langste aanhou, vertel die ouer mense vir mnr. Déan Gouws, bestuurder van Agri Sentraal-Karoo.
Dis bitter droog, maar hulle het nog nie moed opgegee nie. “Ons het vroeg in Desember reën gekry, maar die gemiddeld oor die hele gebied was sowat 2 mm. Ons wil nie ondankbaar klink nie, maar ons het 60 mm nodig. Ons sal die drade werk, solank dit net reën.”
Gouws woon op ’n plaas buite Beaufort-Wes, waar dit sedert Januarie vanjaar 150 mm gereën het – skaars die helfte van die langtermyngemiddeld – en dan was dit “2 mm hier, ’n maand sonder reën en 10 mm daar”.
Hy sê die wisselvallige reën help nie die veld nie en die gras groei nie. “Ons veld is tot niet, ons riviere is droog, en die damme is leeg.”
Die boere gee voluit voer en is dus baie dankbaar vir voerskenkings. “As dit nie vir skenkings en droogtehulp van die Wes-Kaapse regering was nie, was hier baie ouens in die knyp. Hier is mense wat baie swaarkry.”
Om alles te kroon is die grondwatertafel besig om te sak, want dit word nie aangevul nie omdat riviere nie loop nie. “Die doringbome in die riviere vrek, en daar is nie water in die damme om die lusern met vloedbesproeiing aan die lewe te hou nie. Dis eintlik haglik in die hele gebied,” sê hy.
NOORD-KAAP
Dele van die Noord-Kaap het ses jaar laas behoorlik reën gekry, en dit gaan broekskeur op vele plase, sê mnr. Willem Symington, ondervoorsitter van Agri Noord-Kaap.
Boonop lyk die vooruitsigte vir reën nie goed nie. Dis nie warm genoeg vir die weer om op te bou nie. “Ons het woestynlug. Dis te koel, eintlik moet jy mos snags rondrol in jou sweet, dan weet jy die reën kom.”
Symington sê die droogte in die Noord-Kaap was tot onlangs grootliks beperk tot die Namakwadistrik, maar hy hoor nou boere van Victoria-Wes, Hopetown, Strydenburg, Prieska en Kimberley begin ook kla.
Veeboere in die Noord-Kaap is van boorgate afhanklik. Die watertafel het gedaal en boorgate lewer nie meer genoeg water vir vee nie.
Hy sê die droogte en verlaagde veegetalle plaas die slagbedryf in die Noord-Kaap onder geweldige druk. “Dis eintlik ’n abnormale situasie. Daar is totale ondervoorsiening, maar ook nie ’n aanvraag nie. Só verloor skaapvleis sy markaandeel.”
Die listeriose-probleem het vars varkvleis se markaandeel vergroot en dit kan as ’n mededinger vir skaapvleis beskou word, veral omdat dit goedkoper is.
Volgens Symington hoor hy van ál meer boere wat nie hul verpligtinge teenoor die banke kan nakom nie. “En die banke is nie welsynsorganisasies nie.”
OOS-KAAP
Volgens mnr. Gert Jordaan, streekbestuurder van BKB se sentrale gebied, wat Tsitsikamma, Beaufort-Wes, Oos-Londen, Queenstown, Middelburg en die suidelike Vrystaat insluit, hou die vee tans nog redelik goed danksy ’n goeie vorige seisoen, maar die reën bly weg in baie dele.
“Die reën moet nou kom, want die boere begin kwaai voer. Die vorige seisoen was redelik goed, en dit red baie ouens. As ons ’n swakker seisoen gehad het, was ons diep in die moeilikheid.”
In die omgewing van Willowmore, Rietbron, Leeu-Gamka en Beaufort-Wes is dit baie droog, en dié toestande kring uit na die hele streek.
Jordaan sê boere is oor die algemeen nog nie genoodsaak om diere op veilings te verkoop weens die droogte nie.
“Baie vee moes reeds twee jaar gelede verkoop word weens die droogte, en ons is tans in ’n kuddeboufase. Die weiding op die veld hou nog, sodat dit net noodsaaklik is vir byvoeding. Maar as dit nie vinnig begin reën nie, gaan boere weer in die moeilikheid wees.”
MPUMALANGA
Produsente op die Hoëveld van Mpumalanga kon weens die droogte en koue nagte nog nie voer maak nie.
Hulle is gewoonlik teen dié tyd reeds besig met die maak van voerbale, sê mnr. Robert Davel, hoofbestuurder van Mpumalanga Landbou.
“Tans word voerreserwes, wat vir die wintertyd bedoel is, gebruik om diere aan die gang te hou. Mpumalanga kon in die verlede voerbale aan ander droogtegeteisterde dele van Suid-Afrika skenk. Dié seisoen gaan dit nie moontlik wees nie,” sê Davel.
Die somerreënval was tot dusver in die hele provinsie ondergemiddeld en net plek-plek.
“Weens buitengewoon lae minimum temperature het die weiding nog nie normaal gegroei nie. Dele van Mpumalanga het selfs in November nog ryp gehad. Talle boere op die suidwestelike Hoëveld moet hul diere voer. Daar is selfs produsente wat besig is om veegetalle te verminder,” sê hy.
Beurtkrag van Eskom knou hulle verder.
“Water wat weens beurtkrag nie benut kan word nie, is verlore. Hoewel ons buitengewoon lae minimum temperature het, het ons steeds bedags buitengewoon hoë temperature. Dit is juis dán wanneer dit baie belangrik is om by besproeiingskedules te hou, wat weens beurtkrag nie moontlik is nie.” Davel sê dit gaan beslis ’n ongunstige uitwerking op die opbrengs van besproeiingsgewasse hê.
LIMPOPO
Boere in Limpopo was dankbaar vir wydverspreide reën die tweede naweek van Desember, maar dit het nie die krisis in talle gebiede verlig nie, sê mnr. Willem van Jaarsveld, uitvoerende hoof van Limpopo Landbou. Die hoeveelheid reën tot dusver is ver onder die gemiddelde.
“Groot dele van Limpopo is nou net rooi grond, daar is nie eens graspolletjies oor nie. Daar is dele wat ek nog nooit só gesien het nie,” sê Van Jaarsveld.
Volgens hom kry wildboere al lank reeds baie swaar. “Ons groot probleem, en dit geld landwyd, is dat boere nie meer voer het om ander in nood te help nie.”
In die Letaba-gebied, waar besproeiingsboere water uit die Tzaneendam kry, veroorsaak bouwerk aan die dam ernstige probleme met watervoorraad. Dit is juis nou, in die ná-seisoen, dat besproeiing die grootte van die komende sitrusoes bepaal.