Nuwe toetse: Bepaal jou grond se gesondheid só
Te midde van ’n al hoe groter klem op die biologiese komponent van saaigrond het grondtoetse wat ’n ontleding daarvan insluit, ongelukkig dekades lank aan die agterspeen gesuig.
Enigeen kan meet of tel, maar die kuns is om te weet wat jy met die resultate moet dóén.
Só sê me. Sheila Storey, eienaar van die grondtoetslaboratorium Nemlab in die Paarl en een van Suid-Afrika se gerekende aalwurmkundiges. Sy het die laboratorium in 1987 begin en aanvanklik grootliks op grondtoetse vir aalwurm gekonsentreer. Mettertyd het sy al hoe meer in grondgesondheid begin belang stel, spesifiek in die rol wat voordelige aalwurms in grondgesondheid speel.
Die mikrobetoets wat Nemlab bied, is ’n aalwurmgrondgesondheidstoets, en gee ’n aanduiding van die mikrobiese aktiwiteit en diversiteit in die verskillende trofiese vlakke van die grondvoedselketting wat deur aalwurms as voedselbron benut word. Dit gee ook ’n aanduiding van die uitwerking van verskillende insette op die mikrobediversiteit in die grond oor tyd.
Landbouweekblad het haar uitgevra oor die klaarblyklike tekort aan bruikbare en bekostigbare Suid-Afrikaanse grondontledings wat ’n behoorlike aanduiding van die samestelling en gehalte van die biologiese komponent van ’n grondmonster kan gee.
“Dit gaan nie oor meet om te weet nie, maar meet om te bestuur,” sê Storey. “Jy kan toets om te tel hoeveel lewende organismes daar is, maar dan moet jy steeds vasstel wat die verhouding tussen die bakterieë en swamme is. Daar is dalk baie organismes in die grond, maar dit help niks
as die ontleding nie vir jou kan wys hoeveel is aktief nie.”
Die probleem is dat DNS-ontledings wat die lewende organismes tot op spesievlak bepaal, baie duur is en nie vir boere ekonomies sin maak nie.
Nog ’n opsie is die fosfolipied-vetsuurontle-
ding, die sogenaamde PLFA-toets, wat mikrobiese verskeidenheid meet. Dit is heelwat goedkoper as DNS-kodering en gee ’n goeie aanduiding van die grondbiologie. Mnr. Willie Pretorius van die onderneming Soil Health Solutions in Klapmuts bied hierdie diens.
Sy grondontledings gee ook ’n aanduiding
van die grond se aggregaatstabiliteit.
Dr. André Nel, onafhanklike grondkundige, verduidelik dat aggregaatvorming, oftewel grondtekstuur, een van die eerste veranderings is wat grond ondergaan wanneer na bewaringslandboupraktyke omgeskakel word.
Aggregate is ’n groep gronddeeltjies wat
sterker aan mekaar gebind is as die omliggende gronddeeltjies. Dit verhoog onder meer grond se waterhouvermoë, en sorg vir openinge tussen gronddeeltjies waardeur water en lug kan vloei, en wortels maklik kan groei.
Sodra daar meer oesreste en lewende wortels in die grond is om mikrobiese aktiwiteit te stimuleer, dra dit tot aggregaatvorming by. ’n Aggregaattoets is dus ’n goeie aanduiding van die grond se mikrobiese aktiwiteit, want hierdie openinge dien as habitat vir die mikrobes.
As die aggregaatsyfer in só ’n ontleding bokant 60% is, is dit uitstekend. Van 45% tot 60% is dit goed, en van 30% tot 45% gemiddeld. BIOLOGIESE ONTLEDINGS
In ’n onlangse tegniese nota oor wat die gestandaardiseerde aanwysers van grondgesondheid behoort te wees, benadruk die Amerikaanse departement van landbou dat grond beskou moet word as ’n lewende ekostelsel wat asemhaal.
“Grondbiologie was nog altyd ’n integrale deel van die wetenskaplike poging om die begrip en meting van grondeienskappe te verstaan. Die afgelope vier dekades is laboratoriummetodes ontwikkel en verfyn waarmee die biologiese en fisieke status van gesonde grond bestudeer en gekwantifiseer kan word. Anders as die chemiese metodes wat algemeen (vir boere) beskikbaar is om die stand van voedingstowwe in die grond te meet, het biologiese en fisieke metodes grootliks binne die wetenskaplike omgewing gebly,” sê Storey.
Die skrywers van die nota benadruk dat tradisionele grondtoetse wat net die chemiese komponent ontleed, nie meer voldoende is nie. “Ons moet verby die chemiese benadering beweeg na ’n meer komplekse beskouing van fisieke, chemiese en biologiese eienskappe wat grond nodig het om te funksioneer, en die wisselwerking tussen hulle.” DIE HANEY-TOETS
Dr. Hendrik Smith, bewaringslandboukoördineerder by Graan SA, sê daar is inderdaad niemand in SuidAfrika wat die Haneygrondgesondheidstoets, wat Amerikaanse boere ál meer gebruik, op ’n roetinegrondslag doen nie. Daar is ook ’n tekort aan PLFAontledingsdienste. Daarom word die meeste grondmonsters van SuidAfrika steeds na oorwegend Amerikaanse laboratoriums vir ontleding gestuur. “DNStoetse raak al meer algemeen hier, maar dit is duur en moeilik om te ontleed,” sê hy.
Die Haneytoets ontleed die chemiese én biologiese komponente van ’n grondmonster.
Dit meet onder meer die wateroplosbare organiese koolstof in ’n grondmonster, asook hoe aktief die grondlewe is. Voorts meet dit die totale hoeveelheid stikstof in jou grond van anorganiese en organiese bronne, en die hoeveelheid anorganiese stikstof wat vir plantopname beskikbaar is. Die hoeveelheid organiese stikstof wat in die grond is, en maklik deur grondmikrobes afgebreek en vir plantopname beskikbaar gestel behoort te word, word dan bereken deur die hoeveelheid anorganiese stikstof van die totale hoeveelheid stikstof af te trek. Die vlak van organiese materiaal in ’n stuk grond behoort bokant die kritieke vlak van 1,5% tot 2% in die wortelsone gehandhaaf te word om die grond in staat te stel om sy noodsaaklike funksies te verrig, wys navorsing.
Die grondmonster se fosfaatinhoud word op dieselfde manier ontleed.
Op grond daarvan word ’n aanbeveling aan die boer gedoen oor hoeveel bykomende stikstof en fosfate hy moet toedien om ’n goeie oes te produseer.
’n Bekostigbare middeweg kan die Amerikaanse maatskappy Solvita se SLANtoets wees. Daarmee kan organiese stikstofreserwes in die vorm van peulgewasbinding en bemestingstoedienings voorspel word.
Die Solvitatoets, wat Soil Health Solutions bied, meet die hoeveelheid koolstofdioksied wat in 24 uur vanaf grondmikrobes uit ’n grondmonster vrygestel word, nadat die grond uitgedroog en weer natgemaak is. Hierdie aanduiding van mikrobiese aktiwiteit is hoogs verwant aan die vrugbaarheid van jou grond. Pretorius se prys vir die gekombineerde Haney en SLANtoetse, saam met ’n aggregaatstabiliteitstoets, is R1 200. ’n PLFAtoets kos R890. IS TOETS DIE GELD WERD?
Dit bly egter vir boere moeilik om al hierdie toetse se resultate in ’n verslag te interpreteer en te besluit of dit die koste werd is.
Mnr. Thomas Strydom, onafhanklike grondengewaskonsultant, sê daar is baie verskille en probleme in grond, en boere verstaan dit nie altyd nie. Hulle bewerk en bemes die grond soos wat hul bure dit doen en voorgeslagte gedoen het. Deur eerder goeie inligting oor hul spesifieke grondsituasie in te win, kan hulle minder foute maak en minder skoolgeld betaal.
Hierdie inligting kan deur onder meer grondtoetse, profielontledings en grondvoglesings bekom word. Dit bly egter ’n balanseertoertjie tussen insette en opbrengste om seker te maak dit bly bekostigbaar.
Mnr. Cobus Burger van die internasionale maatskappy SGS, wat die plaaslike NviroCrop oorgeneem het, sê wanneer verskillende spesies mikroorganismes ontleed word, is norme nodig om te verstaan wat die voor en nadele is van dit wat ontleed is. “Om sulke ontledings vir ’n landboukundige te gee en aanbevelings te soek, is nie die oplossing om grondgesondheid te verstaan en te verbeter nie. Daar is nie sulke norme vir detailontledings beskikbaar nie. Hoekom dus daardie roete volg?”
SGS se grondlaboratorium het pas ’n nuwe afdeling gestig wat grondlewe meet deur te kyk hoeveel mikrobiese bedrywighede daar in die grond is, sê hy.
“Ons streef almal na ’n balans tussen byvoorbeeld aalwurms, bakterieë en swamme, maar hoe meet ons dit, indien moontlik, en vind ’n praktiese manier om dit te herstel? Ons weet hoe meer koolstof in die grond is, hoe aktiewer behoort die mikroorganismes te wees, want mikrobes voed op koolstof. Die organismes moet aktief wees, en nie byvoorbeeld doodgemaak wees deur gifstowwe of soortgelyke praktyke nie.
“Ons kan grondlewe ontleed deur mikrobebedrywighede, totale koolstof en organiese en anorganiese stikstofvlakke in berekening te bring. Dan het ons al baie goeie inligting waardeur die boer kan bepaal of sy bewerkingspraktyke voordelig is of nie, en hy kan die uitwerking daarvan op sy grondlewe evalueer,” sê Burger.
Standaard chemiese ontledings, sê hy, soos wat pH en die balans tussen natrium, kalsium en magnesium weergee, het ’n regstreekse uitwerking op die balans tussen mikrobes én die deurlugting van bogrond, wat weer regstreeks suurstofvlakke bepaal. ’n Neutrale pH is uiteraard die beste om ’n beter balans tussen byvoorbeeld swamme en bakterieë te verseker.