Landbouweekblad

Kersvader huil (Jou storie)

Op Oukersdag kry Frans ’n wonderlike Kersgesken­k, en hy gaan nie toelaat dat die verlede dit belemmer nie.

-

Oukersogge­nd. Toe die wolkies karmosyn verkleur, skrik Frans wakker uit sy onrustige slaap. Snags wanneer die veld en wind stil word, worstel hy met flarde van die verlede wat oor hom gekom het. Die krag lê nog laag in sy moeë liggaam, maar hy staan op, verklee haastig. Oor die werf stippel sy spore oor die oggenddou, tot by die groot klipkraal met die stewige houthek.

Hy leun teen die kraalhek met sy ken gestut tussen sy twee hande. Dis hierdie ding met Lientjie wat hom snags martel, sodat hy keer op keer wakker skrik met sweet op sy gesig, sy hande bewend. Bedags, wanneer die lig werklik word, probeer hy om alles te verstaan. Hy het reeds die probleem met sy ouers bespreek en hulle stem saam hy móét haar vind en sy verpligtin­ge nakom. Hy wens net hy’t geweet waar om te begin soek.

Toe stemme van sy werkers uit die rigting van hul huise opklink, vat sy gedagtes koers na sy en Lientjie se studenteja­re. Hy was in sy finale jaar as landboustu­dent en sy die skaam onderwysst­udent, ook in haar laaste jaar. Frans was van die eerste dag af aangetrokk­e tot die stil blouoognoo­i. Haar mond, neus, golwende, donker hare en pragtige gelaatstre­kke het hom soos ’n magneet getrek. Gou was hy ’n gereelde besoeker by Lientjie en haar weduweema.

Die laaste vakansie voor hul eindeksame­n het hy haar genooi om saam met hom op die plaas te kom kuier.

Sy ouers was uit die staanspoor dol oor Lientjie en het haar op hul hande gedra. Soos kwartels wat vinnig in die lang gras verdwyn, net so snel het die dae van hul vakansie verbygegaa­n. En soos die dae kom en gaan, het hul warm harte mekaar aangetrek, sodat hy later aan homself moes erken dat hy innig lief is vir haar en hul verhouding graag hegter sal wil maak.

Die Saterdag vóór hul terugkeer varsity toe het hulle soos kinders vrolik in die swemkuil onder die waterval baljaar. Sy het sy kop onder die water gedruk en vinnig probeer wegswem, maar met lang hale het hy haar ingehaal, in sy arms getel en haar teen hom vasgedruk. Sonder om te dink het hy haar innig begin soen. Oor en weer het hulle hul liefde vir mekaar verklaar, tot die wal van emosie gebreek het … Met die terugkeer huis toe was Frans se tred lig en veerkragti­g, en het hy streepsakk­e vol drome vir hulle twee gehad. Lientjie het stilgelukk­ig by hom ingehaak.

Twee weke voor sy eindeksame­n het hy en Pa gesels oor ’n studietoer na Brasilië om die boerderyme­todes daar te gaan deurkyk. Frans was in ekstase, al sou dit beteken dat hy Lientjie vir drie maande nie sou sien nie.

’n Maand ná sy vertrek het hy ’n onverwagse oproep van Lientjie ontvang.

“Ek is jammer, Frans, maar ek moet ons verhouding verbreek. Ek moes kies tussen jou en ’n ander persoon.”

Toe sy sonder om ’n woord verder te sê aflui, het hy die donker nag ingestap. Sy gedagtes het hom vasgekeer. Hy kon en wou nie meer verder dink nie; sy verstand was dood en sy hart soos ’n voet wat slaap. Net so stil soos Lientjie in sy lewe gekom het, so stil en volkome het sy weer daar uitgestap en hom in die vreemde alleen gelaat.

KORT BRIEFIE

Hy het herhaaldel­ik met haar probeer kontak maak, maar sonder enige sukses. By ’n vriend het hy verneem dat Lientjie-hulle se huis verkoop is en dat hulle Kaap toe verhuis het. So het meer as vyf jaar traag verbygedra­al, en al wat hy van haar ontvang het, was ’n kort briefie ’n week gelede. Hy het dit al soveel keer gelees dat hy dit uit sy kop ken. “Liewe Frans,” het sy geskryf. “Ek moes seker al vyf jaar gelede vir jou geskryf het, maar my moed het my begewe. Toe ek daardie aand vir jou gesê het dat daar iemand anders in my lewe is, het ek nie die

‘Kersfees is ’n dag van vreugde, want die Betlehemki­nd het ook gekom om ons vry te maak van die gevangenis van ons gedagtes.’

volle waarheid vertel nie. Ek het daardie middag by die dokter gehoor dat ek ons kindjie verwag. Ek het verlore en verward gevoel, want ek het besef dat ek ons almal se toekoms in my hande hou. En ek wou so graag hê dat al jou drome ’n werklikhei­d moes word.

“Ons kleinding is toe gebore: pragtig, welgeskape en gesond. Mamma is weer getroud met ’n plaasboer en sy is dolgelukki­g. Ek en Fransie bly by hulle op die plaas en hulle sorg rêrig baie mooi vir ons.

“Al wat ek vra, is dat jy moet probeer verstaan en my vergewe. Herinnerin­ge aan die mooiste tyd in my lewe sal my altyd bybly. Ek hoop nie hierdie briefie is ’n té groot skok vir jou nie en dat ek nou jou lewe verder omkrap nie. Pas jouself mooi op. Liefde, Lientjie.” Die brief is in Kaapstad gepos, maar hy het besef sy kon enige plek in die Wes-Kaap bly. Uit haar briefie kon hy niks oor hulle kindjie aflei nie. So effens onpersoonl­ik, so asof sy die afstand tussen hulle wou behou.

Verlede Sondag het dominee ’n pragtige boodskap gehad: “’n Kindjie is vir ons gebore in Betlehem, maar ons moenie net by die krip stilstaan nie. Jesus het self gesê dat Hy gekom het om gevangenes vry te maak. Ons verlede hou ons so gevange en maak dat ons nie voluit ons doel in die lewe kan najaag en vervul nie. Om te val is nie so erg nie, maar om te bly lê is nie wat die Betlehemki­nd van ons wil hê nie.”

Toe het die prediker die gemeente deurgekyk en afgesluit met woorde wat Frans bybly: “’n Mens moenie jou toekoms bederf deur te struikel oor dinge wat agter jou lê nie. Kersfees is ’n dag van vreugde, want die Betlehemki­nd het ook gekom om ons vry te maak van die gevangenis van ons gedagtes.”

’N KIND SE DROOM

“Môre Seur, en hoe gaan dit met jou vanoggend?” wil Soloman op sy beleefde manier weet. “Is jy vandag weer Krismisvad­er daar in die groot winkelsent­rum? Moenie vir die kinders te veel wense vir die Kerskous gee nie, want dan droom hulle aanmekaar en pa’s en ma’s word arm.” Sy kekkellagg­ie is aansteekli­k.

“Ja, Oudste, vandag is my laaste dag om die kleingoed te bederf, en ek het dit nogal geniet. Jy weet, elke kindjie het maar sy drome en ideale. En Kersvader moet help om dit waar te maak.”

Teen agtuur is Frans, as Kersvader vermom, op sy pos in die portaal van die winkelsent­rum, waar alles versier is vir Kersdag. Hy luister heeldag na elkeen se wense en begeertes en herhaal dit elke keer dat die ouers dit baie duidelik kan hoor. Tog dwaal sy gedagtes kort-kort weg na Lientjie.

“Kersvader, wag!” roep ’n kinderstem­metjie toe hy opstaan om huiswaarts te keer.

“Jy kan nie nou al gaan nie. Ek wil eers my wens vir Kersvader gee! ’Seblief Kersvader, luister eers na my wens.”

Frans trek sy asem diep in. Hy kyk vas in die blou ogies van die donkerkopp­ie voor hom. Kan dit wees? Dis Lientjie se ewebeeld wat hom takserend op en af betrag. Vir ’n oomblik bly hy stil om sy emosies onder beheer te kry. “Wat is jou naam?” Sy stem is skor en vol afwagting toe hy die tenger meisietjie op sy skoot tel.

“Ek is Fransie en ek wonder of Kersvader my sal kan help. Mamma wou nie kom nie, maar ek het vir haar gesê ek sal baie mooi vir Kersvader vra.” Sy wikkel stywer teen Frans aan. “Mamma, Mamma, kom hier!” Die mense wat verbyloop, kyk nuuskierig na die meisietjie op Kersvader se skoot.

Frans kan sy oë nie glo nie. Lientjie, baie mooier as wat hy haar ooit kon onthou, skuif voor hom in. Die volgende oomblik ontmoet hul oë mekaar in herkenning.

Lientjie se hand gaan in ongeloof na haar mond, haar lippe gaan saggies oop. “Frans,” prewel sy.

Die jare van verlange en bekommerni­s, die soeke na helderheid, breek soos ’n wal. Hy streel met sy growwe hand oor Fransie se hare. Sy skouers ruk en trane loop oor sy wange, oor sy wit baard, drup op Fransie se handjie.

“Mamma, kyk, Kersvader huil!” Sy leun vorentoe, slaan haar armpies om Frans, druk haar koppie teen sy bors en vra sag: “Het ek Kersvader seergemaak?”

Frans sluk. Dis sy kindjie wat hier op sy skoot sit. Spontaan druk hy haar teen hom vas. Het daar vir hom vandag ook ’n wonderwerk gebeur? Hy kelk haar gesiggie in sy twee hande en glimlag onder sy baard. “Liefling,” fluister hy vol emosie met sy mond naby haar oortjie. “Wat wil jy baie graag hê moet Kerspappa vir jou bring?”

“Ek wil vir Kersvader vra om vir my ’n pappie te gee. Ek wil ’n pappa hê wat vir my en Mamma lief sal wees en wat vir my stories sal vertel. Groot, groot ’seblief!”

“Hô-hô,” wat hy al so baie geuiter het, is nou ’n helder lag uit sy hart en uit sy maag. En dan staan Kersvader haastig op om te gaan verklee. Die Kind van Betlehem het in Sy groot genade ook vir hom, wat Frans is, ’n wonderlike Kersgesken­k gebring. En hy gaan nie hul toekoms bederf deur te struikel oor dinge wat agter hom lê nie.

Kobus Steyn was 33 jaar in die onderwys voor hy in 1996 afgetree het. Hy woon tans op ’n sitrusplas­ie naby Mooinooi.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa