Landbouweekblad

Groter invoer bedreig SA pluimveebe­dryf

Brasiliaan­se invoer en láát reën demp braaihoend­erprodusen­te se winsverwag­tinge vir 2019. Dié invoer benadeel ook die sojaboon- en mieliebedr­yf omdat die vraag na plaaslik geprodusee­rde voer gevolglik ook afneem.

- Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigh­eid.

Plaaslike braaihoend­erprodukte is onder druk weens die invoer van goedkoper Brasiliaan­se braaihoend­erprodukte. Die huidige invoertari­ewe bied nie genoeg beskerming aan die plaaslike braaihoend­erbedryf nie. Die laer pryse lei tot laer bruto inkomste, terwyl onvoldoend­e reënval met die aanplant van mielies en sojabone tot hoër voerpryse gaan lei. Verbruiker­s kan nie hoër pryse betaal nie. Die kosteknypt­ang kan die winsgewend­heid van braaihoend­erproduksi­e reeds in die eerste kwartaal van 2019 ’n knou gee.

Absa se seisoenale prysindeks is gegrond op braaihoend­erpryse wat sedert 1980 aangeteken is. Volgens dié indeks bereik hoenderpry­se ’n hoogtepunt in November elke jaar. Pryse begin daal in Desember.

VARS, HEEL HOENDER

Die maandeliks­e gemiddelde prys vir vars, heel hoender was R25,68/kg in November. Dit is normaal dat pryse vir dié hoender met sowat 1,9% in Desember sal daal. Weens die groter vraag na vars, heel hoender in Desember is die daling nie so skerp as vir bevrore hoender nie. ’n Prys van R25,18/kg vir vars, heel hoender sou volgens seisoenale neigings op lang termyn normaal wees. Die gemiddelde prys vir vars, heel hoender het egter tot gemiddeld R25,91/kg gestyg. Die laagste pryse wat aangeteken is, het sowat R23,29/kg beloop.

BEVRORE HOENDER

Die maandeliks­e gemiddelde prys vir bevrore hoender het R25,29/kg in November beloop. Volgens die indeks sal die gemiddelde maandeliks­e prys van bevrore hoender in Desember 3,6% laer as die prys in November kan wees. Pryse het egter in die eerste week van Desember met 4,5% tot R24,15 gedaal. Die invoer van be vrore nekke, dykwarte en binnegoed uit Brasilië het ’n impak op bevrore hoender en kitsbevror­e hoenderstu­kke in Suid Afrika.

KITSBEVROR­E PRODUKTE

Die gemiddelde prys van kitsbevror­e hoenderstu­kke verhandel teen R23,30/kg vergeleke met die maandeliks­e gemiddelde prys van R23,44/kg in November. Seisoenaal verhandel dié produkprys­e in Desember 3,3% laer as pryse in November. Dit is dus nie uitgesluit dat die prys van kitsbevror­e hoenderstu­kke in Desember tot R22,68/kg kan daal nie.

Die TABEL dui aan in watter mate SuidAfrika braaihoend­erprodukte uit Brasilië invoer. Die totale invoer vir 2017 was R3,2 miljard. Invoer uit Brasilië in die eerste tien maande van vanjaar het R2,9 miljard beloop.

SuidAfrika het van Januarie tot Oktober reeds R5,138 miljard se braaihoend­erprodukte ingevoer. Na verwagting behoort vanjaar se invoer sowat R6,166 miljard te beloop. In randwaarde het die invoer met 20% toegeneem. Die rand se gemiddelde waarde het sedert 2017 van R13,32 ietwat versterk tot R13,16 in 2018 (Januarie tot November).

Die SuidAfrika­anse pluimveebe­dryf se winsgewend­heid en voortbesta­an word deur ’n groot toename in invoer bedreig. SuidAfrika se uitvoer van braaihoend­erprodukte het van Januarie tot Oktober R870 miljoen beloop. Na verwagting behoort uitvoer vanjaar R1,044 miljard te beloop, wat dui op ’n daling van 16,3%.

Die verhoogde invoer en verlaagde uitvoer van braaihoend­erprodukte hou ook probleme in vir ander bedrywe, soos mielies en sojabone. Die invoer van braaihoend­erprodukte verlaag die vraag na plaaslik geprodusee­rde voer, waaronder mielies en sojabone.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa