GROEN SPRIETE IN DORRE LAND
Die reën het toe gekom, maar nie so wydverspreid soos daarop gehoop is nie. Dit het in strepe en kolle uitgesak, wat dit maar moeilik maak om ’n geheelbeeld te kry van wat in die somersaaigebiede aangaan. Neerslae was so versprei dat reën tot tussen buurplase hemelsbreed verskil het.
Eers ná Graan SA se streeksbesoeke wat binnekort begin, sal ’n mens ’n beter aanduiding hê van hoeveel ons boere, veral in die weste, kon plant. En dit ná ’n paar moeilike seisoene . . .
Nietemin bly ’n mens diep dankbaar vir die reën wat wel geval het. Almal van ons hoop en bid dat daar genoeg sal val in Maart, wanneer baie van die oeste in blom sal kom.
Op ons familieplaas in die Noordoos-Kaap het die wolke elke dag oor die Kersvakansie met die versengende hitte mooi opgebou. Teen vroegmiddae het dit belowend gelyk en ná drie het die wind gaan lê. Dan, met die geritsel van die ou palmbome op die werf, steek die suidooster op. Die koel wind bring verligting van die hitte, maar dit waai ook die wolke uitmekaar. Dag ná dag.
Op ons laaste middag op die plaas gaan soek ons swartbaars in die plaasdamme van Ida. Daar betrap ’n wonderlike bui van 70 mm ons langs die dam. Terug op die familieplaas val net 8 mm. Dit is ’n moeilike begin van die jaar. Hendrik van Pletzen se afsterwe maak dit erger. Voermol se voormalige nasionale tegniese bestuurder was seker een van ons voorste dierevoedingkenners. ’n Man met diep, praktiese kennis en ’n groter hart. Sy afsterwe kom kort op die hakke van die heengaan van Jasper Coetzee, nóg ’n groot gees in die veebedryf.
’n Mens hoop dat die jong manne wat die groot skoene moet volstaan, nie reeds in Australië sit nie. Met ’n beraamde 400 000 gegradueerdes wat reeds die land sedert die vroeë 1990’s verlaat het, is dit swart Suid-Afrikaners wat nou die land vinniger verlaat as wit mense, skryf Johannes Wessels van die Enterprise Observatory.
Dan die nuus van die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo. Die een ding wat almal gevrees het en waaroor daar nou al jare lank gewaarsku word. Nugter alleen weet waarom dit so moeilik is om iets so betreklik eenvoudig reg te kry soos om grensdrade te onderhou. Nou hoop almal maar die uitbreking kan sodanig afgebaken word dat die impak nie na die breër landbou oorspoel nie.
Gesels ’n mens met verskaffers van produksiemiddele, dan kry jy ’n beter aanduiding van hoe moeilik dinge werklik is. Aankope wat jaar ná jaar met dubbelsyfers kwyn. Boere wat met veel groter omsigtigheid aankope bestuur in ’n omgewing waar die klimaat en politiek net nie wil saamspeel nie. Groot skade wat in stilte berokken word nog voor die onsinnigheid van onteiening sonder vergoeding wetlike gestalte gekry het. Maar dit is verkiesingsjaar en dit is blykbaar ’n verskoning vir allerlei onverskillighede.
My hoop vir die nuwe jaar is dat meer mense gaan besef wat boere se werklike probleme is. Dat meer mense hulself gaan vergewis wat eintlik in die land aangaan. “Produktiewe kennis” soos Ricardo Hausmann, ’n professor aan Harvard en voormalige kabinetsminister van Venezuela, dit noem. Hy is ook ’n raadgewer van mnr. Tito Mboweni, Minister van Finansies. Want, wragtig, ons het groter probleme as die politiek.
— CHRIS BURGESS