BOERE WORSTEL WÊRELDWYD MET UITERSTE WEER
SUID-AFRIKAANSE boereisnie alleen in hul stryd teen veranderende weerpatrone en uitermatige droë of nat toestande nie.
Brasiliaanse en Argentynse sojaboere word deur sowel droë as baie nat toestande geteister.
Luidens mediaberigte was die weer in die begin van die seisoen goed, maar in Desember het belangrike sojaproduksiegebiede in Brasilië baie min reën gekry en dié in Argentinië te veel.
Luidens weervoorspellers kan die ongunstige weer, wat aan ’n El Niño-verskynsel toegeskryf word, voortduur.
Agweb.com berig dit is nou die maak-of-breektyd vir die soja-oes in dié twee lande.
Reuters het einde Desember berig Brasiliaanse sojaboere staal hulself vir verliese weens dié maand se droë toestande en hoë temperature.
Ondergemiddelde reën word vandeesmaand verwag in vyf Brasiliaanse state, wat gewoonlik twee derdes van die nasionale sojaproduksie lewer.
In sommige gebiede word verwag dat die opbrengs tot 40% laer gaan wees.
Van die boere oes vroeër as gewoonlik om die uitwerking van die droogte op hul oeste te verminder.
Gro-intelligence.com berig dat Brasiliaanse suikerrietboere ook hard deur die droogte getref is.
Hoewel die internasionale suikervoorraad op rekordhoëvlakke is, het suikerpryse op 6 Januarie gestyg weens die verswakkende vooruitsig vir 2018’19 se Brasiliaanse suikeroes.
Na raming sal nagenoeg 20 miljoen ton suiker van dié oes uitgevoer word, die minste sedert 2007.
DIE ‘BIG DRY’
In Australië, met ’n gemiddelde reënval van minder as 600 mm per jaar, staan die huidige droogte as die “Big Dry” bekend.
Mnr. Scott Morrison, eerste minister, het in sy nuwejaarsboodskap beloof om staatshulp aan droogtegeteisterde boere in streke soos Murray-Darling en Nieu-Suid-Wallis uit te brei.
Dié streke het albei verlede jaar die warmste Januarie tot September aangeteken, terwyl reënvalmetings in verskeie Australiese streke in die onderste 10% van historiese reënvalvlakke was, berig AFP.
In Wes-Australië het ’n onlangse hittegolf tot rekordtemperature van tot 49 °C gelei.
Sewe van Australië se tien warmste jare in menseheugenis is sedert 2005 aangeteken.
Sommige boere trotseer reeds sewe agtereenvolgende droë jare en dorpe kwyn. In Queensland, Australië se naasgrootste deelstaat wat dubbel so groot is as Texas, het die regering reeds in Augustus ’n droogtehulpfonds van A$3,5 miljard (ongeveer R34,8 miljard) ingestel om landelike gemeenskappe te help.
Volgens Rabobank sal die droogte saam met ryp in sommige gebiede daartoe lei dat die huidige wintergraanoes die kleinste in tien jaar sal wees.
Die Australiese Buro vir Meteorologie het verlede week bekend gemaak dat 2018 volgens sy rekords die derde warmste jaar in dié land was. Dagtemperature was gemiddeld 1,55 °C warmer as die langtermyngemiddelde, terwyl nagtemperature 0,73 °C hoër was.
Die land se weerburo verwag dat die volgende drie maande steeds droër en warmer as die gemiddelde sal wees weens die uitwerking van die verwagte El Niño-stelsel en die Indiese Oseaan-dipool wat steeds die weerpatrone beïnvloed.
BESPROEIING OORWEEG
Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie, sê Europa het die afgelope somer een van sy ergste droogtes tot dusver beleef. “Min reën en rekordhoë temperature het groot skade aangerig aan groente, suikerbeet en ander gesaaides.”
De Jager, wat in dié tyd verskeie kere in Europa was en talle boere besoek het, sê dit was nie net saaiboere wat swaargekry het nie. “Ek was onder meer by melkboere wat ook baie bekommerd is. Boere daar het nog nooit ernstig oor besproeiing gedink nie, maar ná die droogte word dit nou iets om te oorweeg.”
Hy sê wat Europese boere se situasie vererger, is die stagnasie en gebrek aan politieke leierskap wat landbousake betref. Daar is voortdurend veldtogte, soos om glifosaat verbied te kry. Die debat word gevoer sonder om boere self daarby te betrek.
—