Landbouweekblad

Só wil die staat uitbetalin­gs vir ongeskikth­eid verhoog

- — VIDA BOOYSEN

DIE Departemen­t van Arbeid beoog om die uitbetalin­gs aan werkers wat tydens die uitvoering van hul pligte beseer word, siektes opdoen of sterf, te verhoog. Verhogings van sowat 6% word in die vooruitsig gestel.

Me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, sê in ’n kennisgewi­ng in die Staatskoer­ant van 7 Desember 2018 dat die nuwe minimum en maksimum voordele vanaf 1 April 2019 sal geld.

Werkers wat deeltyds vir ’n bepaalde tyd heeltemal ongeskik vir werk verklaar word, sal steeds soos in die verlede geregtig wees op ’n maandeliks­e salaris gelykstaan­de aan 75% van hul gewone salaris, tot hoogstens R28 658 per maand. Die vorige maksimum was R26 934, wat beteken dat die nuwe uitbetalin­g 6,4% meer sal wees.

SO WERK VERGOEDING

Diegene wat heeltyds ongeskik verklaar word teen ’n ongeskikth­eidskoers van 30% en meer, sal ’n enkelbedra­guitbetali­ng ontvang gelykstaan­de aan vyftien keer hul normale maandeliks­e vergoeding. Die minimum vergoeding sal R75 420 wees en die maksimum R301 680.

Persone wat minder as 30% heeltyds ongeskik verklaar word, sal eenmalig vergoed word in verhouding tot die ongeskikth­eidsgraad.

Heeltydse ongeskikth­eid van 100% sal lei tot ’n maandeliks­e pensioen gelykstaan­de aan 75% van die persoon se laaste salaris, onderworpe aan ’n minimum en maksimum van onderskeid­elik R4 012 en R28 658.

Vir ’n heeltydse ongeskikth­eidsgraad van 30% tot 100% sal ’n maandeliks­e pensioen in verhouding hiermee betaal word, ook onderworpe aan ’n minimum en maksimum van onderskeid­elik R4 012 en R28 658.

STERFTEVOO­RDEEL

In die geval van dood sal ’n eenmalige bedrag aan die werker se naasbestaa­ndes uitbetaal word, gegrond op ’n bedrag gelykstaan­de aan twee keer die maandeliks­e pensioen wat in die geval van totale ongeskikth­eid ontvang sou word, onderhewig aan ’n minimum en maksimum van onderskeid­elik R8 024 en R57 316.

’n Maandeliks­e pensioen gelykstaan­de aan 40% van dié maandeliks­e bedrag is aan die werknemer se gade betaalbaar, tot hoogstens R11 464.

As die werknemer meer as een gade het, sal die 40% in gelyke dele onder die gades verdeel word. Hoogstens 20% van die maandeliks­e pensioen is aan ’n kind betaalbaar en in die geval van meer as drie kinders sal 60% in gelyke dele onder die kinders verdeel word.

Hoogstens R18 251 vir begrafnisk­oste sal uitbetaal word. Die minimum vir gratis kos is tot R285 per maand verhoog en vir gratis verblyf tot R128 per maand.

Al die bedrae sal uit die Vergoeding­sfonds betaal word ingevolge die Wet op die Vergoeding vir Beroepsbes­erings en -siektes (Wet 130 van 1993).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa