Landbouweekblad

SPAANSE PROTES OOR SA SITRUS IS SKOON BOG

- — JASPER RAATS

SPANJE se teenstand teen Suid-Afrikaanse sitrus wat glo “Spaanse vrugteprys­e onder druk plaas”, is niks meer as aandagsoek­ery nie. Só sê mnr. Deon Joubert, die Suid-Afrikaanse Sitruskwek­ersverenig­ing (SKV) se gesant vir markaangel­eenthede in die Europese Unie (EU).

Altesaam 27 Spaanse munisipali­teite het onlangs protes aangeteken teen vrye handelsoor­eenkomste met sitrusuitv­oerders in Suider-Afrika. Volgens mnr. Charles Peres, algemene sekretaris van die Spaanse produsente­organisasi­e La Unio, knou die teenwoordi­gheid van Suid-Afrikaanse sitrus in die Europese mark Spanje se sitrusbedr­yf. Spanje se sitrusuitv­oer het verlede jaar met 14% gedaal.

Joubert sê Spanje se klagtes spruit uit ’n toegewing wat die EU gemaak het deur ’n tariefverl­aging op Suid-Afrikaanse Valencias vanaf 15 Oktober verlede jaar. “Dit is nie iets waarvoor ons gevra het nie. Dit is deel van ’n groter handelsoor­eenkoms en het eintlik weinig impak op ons bedryf,” sê hy.

‘SOEK SONDEBOK’

Joubert en mnr. Justin Chadwick, uitvoerend­e hoof van die SKV, wys daarop dat nie ’n enkele Valencia ná 15 Oktober 2018 na die EU uitgevoer is nie. Die enigste Valencias wat teen daardie tyd nog in Europa beskikbaar was, was vrugte wat opgeberg word vir versapping. Dit is nie deur die tariefverl­aging geraak nie.

Joubert gee toe dat Spanje in die vroeë seisoen taai mededingin­g van Suid-Afrika kry met sagtesitru­s. “Omdat dit vroeg in die seisoen is, is die gehalte van die Spaanse vrugte nie watwonders nie, en dan moet dit op die rak meeding met laat Mandaryne uit Suid-Afrika. Dieselfde geld egter weer aan die begin van ons seisoen, wanneer ons sagtesitru­s met hul laat Mandaryne moet meeding. Dis internasio­nale handel. ’n Mens bestuur dit net.”

Volgens Joubert soek Spanje ’n sondebok vir die land se landboupro­bleme. “Dit gaan nie goed met die Spaanse ekonomie nie. Groot getalle immigrante lei tot talle maatskapli­ke en ekonomiese probleme, kleinboere sukkel om winsgewend te bly, en boonop is werklooshe­id in sekere distrikte ’n probleem.”

GEEN UITWERKING

Hy sê die Spaanse sitrusbedr­yf kry baie strawwer mededingin­g van produsente in die Noordelike Halfrond, soos Marokko, Egipte en Amerika. Die EU se tariefverl­aging op Suid-Afrikaanse sitrus in Oktober was vir Spanje ’n strooihalm om na te gryp.

Joubert is nie bekommerd dat die bohaai tot markbesker­ming teen Suid-Afrikaanse sitrus in Europa sal lei nie. “Suid-Afrika is in ’n goeie posisie. Die land lewer goeie vrugte en kry dit reg om swartvlek en besmetting met valskodlin­gmot suksesvol te bestuur. Daar is heelparty ander uitvoerlan­de wat voor Suid-Afrika in die ry staan vir slae as die EU druk op uitvoer uit die Suidelike Halfrond wil toepas.”

 ??  ?? Mnr. Deon Joubert
Mnr. Deon Joubert

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa