DROOGTES BEÏNVLOED ABSORPSIE VAN KOOLSTOFDIOKSIED
Land-ekostelsels absorbeer gemiddeld 30% van menslike CO2-vrystellings en verminder sodoende die toename van die CO2-konsentrasie in die atmosfeer. Tydens ’n droogte fotosinteer plante minder om water te bespaar en hul weefsels te bewaar. Die gevolg is dat hulle nie langer koolstofdioksied uit die omringende lug kan vasvang nie, en meer CO2 bly in die lug.
Terwyl dié verskynsel maklik in ’n laboratorium waargeneem kan word, is dit moeilik om die impak daarvan wêreldwyd te meet. Een van die grootste probleme is om te meet waar en hoe dikwels droogtes wêreldwyd voorkom.
In ’n nuwe studie het dr. Vincent Humphrey, klimaatsnavorser in die laboratorium van prof. Sonia Seneviratne by die Universiteit ETH Zürich, satelliettegnologie gebruik om die gevoeligheid van ekostelsels vir waterstres wêreldwyd te meet. Die studie is in samewerking met die Laboratoire des Sciences du Climat et de l’Environnement (Frankryk) en die Universiteit van Exeter (Brittanje) gedoen.
Plante kan gewoonlik deur hul wortels water diep in die grond bekom. Gewone satelliete sien net wat op die oppervlak aangaan en kan nie meet hoeveel water ondergronds
beskikbaar is nie. In die afgelope paar jaar is ’n nuwe soort satelliet gebruik om baie klein veranderinge in die aarde se swaarteveld te meet. Daar is bevind dat veranderinge in wateropberging klein versteurings van die swaarteveld veroorsaak.
Wanneer daar ’n strawwe droogte in ’n gebied is, is die watermassa minder, en swaartekrag in die gebied is gevolglik effens kleiner. Hierdie wisselinge is só klein dat mense dit nie kan waarneem nie. Maar deur dit met satelliete te meet, kan wetenskaplikes grootskaalse veranderinge in wateropberging tot ’n
akkuraatheid van sowat vier sentimeter oral op aarde beraam.
Deur hierdie nuwe satellietwaarnemings van wateropberging te gebruik, kon Humphrey en sy kollegas die algehele impak van droogtes op fotosintese en ekostelselrespirasie meet. Hulle het jaar-tot-jaar-veranderinge in die totale watermassa oor alle vastelande met wêreldwye metings van CO2-toenames in die atmosfeer vergelyk.
Hulle het bevind dat in die droogste jare, soos 2015, natuurlike ekostelsels sowat 30% minder koolstofdioksied uit die atmosfeer
verwyder het as in ’n normale jaar. Die konsentrasie van CO2 in die atmosfeer het gevolglik in 2015 vinniger toegeneem as in normale jare. In 2011, die natste jaar wat nóg aangeteken is, het CO2-konsentrasie teen ’n baie stadiger tempo toegeneem danksy gesonde plantegroei. Hierdie resultate help die mens om te verstaan hoekom die atmosferiese toename van CO2 van jaar tot jaar baie kan verskil, selfs al bly CO2-vrystellings weens menslike bedrywighede taamlik stabiel.
In die vorige eeu het die konsentrasie van CO2 in die atmosfeer geleidelik toegeneem weens menslike bedrywighede. “Noudat die meeste lande in die wêreld saamstem dat hulle CO2-vrystellings moet verminder, moet ons menslike CO2-vrystellings tot ’n hoër vlak van akkuraatheid as ooit tevore kan monitor,” sê Humphrey.
Om die impak van klimaatbeleid presies te evalueer, moet navorsers eers plantegroeimodelle ontwikkel wat die versteurings wat natuurlike ekostelsels elke jaar veroorsaak, kan kwantifiseer en voorspel. “Danksy ons nuwe resultate kan ons bewys dat die uitwerking van droogtes groter is as wat plantegroeimodelle tot dusver voorspel het,” sê Seneviratne.
Uiteindelik sal dié waarnemings in die volgende generasie modelle geïntegreer word.
BRON: https://goo.gl/cdSYjJ