VRAAG NA KURPERS BLY GROEI
Namate seevis al hoe skaarser en duurder word, groei die plaaslike vraag na varswatervis soos kurpers (tilapia), maar omdat daar nie in die nodige vraag voorsien kan word nie, word dit meestal uit veral China ingevoer.
Mnr. Charles Marais, ’n kenner wat self daarmee boer en ook damstelsels bou, sê supermarkgroepe wat die vis aanhou, soek groot hoeveelhede op ’n slag. “’n Supermarkgroep soek byvoorbeeld 30 ton op ’n slag op ’n gereelde grondslag en niemand in Suid-Afrika kan dit verskaf nie. Daarom word bevrore vis ingevoer. Ons eie vis se gehalte is baie beter en ons kan vars vis verskaf, maar nie in sulke groot hoeveelhede nie.”
Hy sê hyself en ook al hoe meer ander boere skakel oor na uitheemse nylkurpers toe pleks van inheemse bloukurpers omdat hulle tot 50% vinniger groei en gouer markgereed is. “’n Nylkurper kan jy ná ses maande al bemark op sowat 450 gram, terwyl dit die bloukurper sowat ’n jaar kos om dieselfde gewig te bereik.”
Nylkurpers kan net in ’n geslote stelsel gehou word en ’n permit is daarvoor nodig.
Die vis kan ook net geslag aan die vleismark verskaf word.
Marais bemark sy vis met die hulp van smouse aan swart verbruikers, maar hy hoop dat sy tonnemaat binnekort groot genoeg sal wees om ook aan myne se kombuise vis te verskaf.
Hy sê die belangrikste faktor bly die kostedoeltreffendheid van kragverbruik en voeding om dié soort boerdery lonend te maak.