SAAI GRASSAAD VIR BETER VELD
Hoe saai ek grassaad in veld in?
Daar is gewoonlik twee probleme met die insaai van saad in veld: Die bestaande veldgras ding mee met die ingesaaide gras. Die wild of vee wei alles wat ontkiem in ’n jong stadium af. Die beskerming van die jong grasplantjies is dus noodsaaklik. Die metodes wat hieronder bespreek word, kan oorweeg word.
Die meng van grassaad met veelekke is al beproef. Dit is egter duur en té veel saad gaan verlore – sommige in die spysverteringskanaal en ander in die miskoek self. Die saad ontkiem wel in die miskoek, maar die meeste plantjies vrek voor hul wortels die grond bereik.
’n Metode wat al met sukses toegepas is, is om met ’n eentandskeurploeg vore in die veld te trek (1520 cm diep en 12 m uit mekaar), waarna die saad in die vore gesaai en met ’n lagie kraalmis (23 cm dik) bedek word. Waar nodig word monoammoniumfosfaat (MAP) toegedien. Daarna word die voor met die trekkerwiel vasgetrap en met doringtakke bedek (sien FOTO 1 ).
Dié metode kan hoofsaaklik toegepas word in bosveldgebiede waar doringbome groei. Die doringtakke beskerm die jong kiemplante teen beweiding. Op veeplase waar geen takke beskikbaar is nie, kan die skeurploegmetode ook toegepas word indien daar voldoende kampe is. Die ingesaaide kamp word dan afgesper en gespaar deur beeste vir die volle groeityd uit te hou om die jong graspolle kans te gee om uit te groei.
Nog ’n suksesvolle metode is om takke op hope te pak en die saad onder die hope te saai. Die mees ideale voorbereiding van die deel waar so ’n hoop gepak gaan word, word in FIGUUR 1 aangedui.
Die aantal hope per hektaar sal deur verskeie faktore bepaal word. Vir die vinnigste hervestiging is een hoop elke 300400 m ’n goeie norm. Dit beteken 2530 hope per hektaar. FOTO 2 en FOTO 3 dui aan hoe die hope in die kamp versprei word en hoe die gras suksesvol onder en in die hoop vestig. Hierdie metode is tydrowend, maar is al herhaaldelik met sukses toegepas.
Met laasgenoemde tegniek kan wild op die hele plaas bly wei, want die takke bied deurgaans beskerming. Oorbeweiding bly egter skadelik vir die veld én aangeplante gras.
’n Derde, eenvoudige metode is doeltreffend op ’n bees of wildplaas, maar kan tydrowend wees. Beeswagters neem daagliks ’n sakkie saad veld toe. ’n Bietjie saad (sowat ’n kwart teelepel) word aan die kant en half onder elke droë miskoek geplaas. Dit kan ook onder dooie en verrottende boomstompe of takke geplaas word. Dit is goed om ’n doringtak oor elke “besaaide miskoek” te plaas. Dit klink uitmergelend en omslagtig, maar ek het 300 ha binne twee jaar tot ’n Smutsvingerparadys sien ontwikkel.
Die beskerming van die jong grasplantjies bly ’n belangrike faktor by die saai van grassaad in veld. FIGUUR 2 dui die sukses aan wat al behaal is.
Die twee kolomme links (blou en oranje) toon dat 60 000 tot 70 000 nuut gevestigde graspolle verwag kan word indien saad slegs uitgestrooi en geen beskerming gebied word nie. As die grond losgemaak word, soos met die skeurploegbewerking, kan sowat 120 000 nuut gevestigde graspolle verwag word (twee middelste kolomme). Waar grond losgemaak en beskerming met takke toegepas word, kan 200 000 tot 240 000 nuut gevestigde graspolle verwag word (kolomme regs). Die blou kolom regs dui ook aan dat ’n beesplaas met kampe, waar diere in die eerste
GEBRUIK DIÉ GRASSE
Koeler hoëveld (medium tot hoë reënval), soos die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, OosKaap, Waterberg en KwaZuluNatal: Smutsvinger, Rhodesgras, witbuffelsgras (laasgenoemde slegs op vrugbare grond). Noordelike Bosveld: Rhodesgras, witbuffelsgras (medium tot hoë reënval), bloubuffelsgras (laer reënval) en borseltjiegras (droër dele met sand). Prof. Chris Dannhauser is ’n onafhanklike veld-en-weidingbestuurspesialis.