Bek-en-klouseer: Kan uitvoerramp gestuit word?
SUID-AFRIKA voer jaarliks byna 21 000 ton, oftewel 3%, van sy plaaslike beesvleisproduksie uit, en hoewel die land ’n netto-invoerder van skaapvleis is, voer hy sowat 90% van sy wolproduksie uit.
Dié uitvoer hang nou in die weegskaal nadat twee beeste in die distrik Vhembe in Limpopo positief getoets is vir bek-enklouseer.
Die twee beeste wat getoets is nadat hulle mank begin loop het, behoort aan ’n boer net buite die aangrensende bek-en-klouseerbeheergebied. Uitbrekings in die beheergebied raak nie Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) nie.
Aangesien die beeste in die bek-en-klouseervrye gebied is, moes die OIE egter dadelik in kennis gestel word en is Suid-Afrika se status onmiddellik opgeskort.
NOG NIE SO ERG
Die opskorting het dadelik skokgolwe deur Suid-Afrika se vleis- en verwante bedrywe gestuur. Suid-Afrika het in 2011 sy bek-en-klouseervrye status verloor toe dié siekte in KwaZulu-Natal uitgebreek het, en kon eers weer in 2014 sy bek-en-klou- seervrye status terugkry.
Mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), wys daarop dat die huidige situasie darem nog nie so erg is nie. “Ons status is net tydelik opgeskort en nie heeltemal opgehef nie. Kom ons hoop ons kry betyds ’n oplossing. Almal werk die afgelope week baie hard aan hierdie probleem en dit word op die hoogste vlak van die Regering hanteer,” sê hy.
WAT NOU?
Teen druktyd het dr. Mpho Maja, nasionale direkteur vir dieregesondheid, en haar span in Polokwanevergadermetdieondersoekspan wat die omvang en impak van die siekte in die Vhembegebied moes vasstel en monitor.
Die gebied waar die siekte voorgekom het, is onder kwarantyn geplaas en geen vee mag in hierdie gebied verskuif word nie.
Maja sou voor die naweek van 12 en 13 Januarie met die nasionale dieregesondheidsforum vergader, waarna die hele bedryf op Maandag 14 Januarie met mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sou vergader.
Almal was dit eens dat hierdie vergadering deurslaggewend sou wees, hoewel daar na afloop van die aankondiging kommer uitgespreek is oor die saak en vingers gewys is na die staat, sê dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die dieregesondheidsforum.
Om ’n sondebok te soek gaan nie die probleem oplos nie, meen hy, en het alle belanghebbendes tot kalmte en geduld gemaan terwyl die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se direktoraat vir dieregesondheid die relevante feite inwin.
Schutte stem saam en sê hoewel die RPO nóú betrokke is by die proses, moet landbou-organisasies hulle in dié situasie deur die dieregesondheidsforum laat lei.
Hy sê bek-en-klouseer beïnvloed die hele vleisbedryf en dit is nie nou geleë om ’n politieke punt te probeer maak of blaam rond te skuif nie. “Ons moet ons nou verbind om elkeen deel te wees van die oplossing.”
ANDER BEDRYWE
Suid-Afrika se wolboere is reeds besig om te kyk hoe hulle tot die oplossing kan bydra.
Die Suid-Afrikaanse Wolkwekersvereniging se hoofbestuurder, mnr. Leon de Beer, sê dié organi- sasie sou verlede Donderdag (10 Januarie) vergader om die kompartementering van wol uit gebiede buite Limpopo te bespreek.
Wol is tydens die uitbreking in 2011 suksesvol op dié beginsel uitgevoer. Dit vereis dat onverwerkte wol gesertifiseer word as ’n produk wat uit ’n ander gebied kom as dié waar die siekte uitgebreek het en dat dit nie met bek-en-klouseer besmet is nie.
Dieselfde kan met varkvleis gedoen word, maar ongelukkig is die naspeurbaarheid van bees- en skaapvleis onvoldoende om kompartementalisering op streeks- of distrikvlak toe te pas.
In so ’n geval speel die staat ’n sleutelrol in die ooreenkomste met handelsvennote, want elke toegewing moet direk met die uitvoerbestemming onderhandel word. “Daarom is ons baie dankbaar dat die minister ons almal Maandag (14 Januarie) te woord gaan staan,” sê De Beer.
DIE PAD VORENTOE
Vervoort sê die uitbreking daag die hele bedryf uit om beter te doen. Hy benadruk dat, ongeag die uitkoms van Maandag se vergadering met Zokwana, beter maniere gevind moet word om dieregesondheid te bestuur.
“Selfs die stelsels en prosesse wat tien of twintig jaar gelede nog gewerk het, gaan nie meer werk nie. Ons sal anders moet dink hieroor,” sê hy.
“Om drade te span gaan nie die siekte laat verdwyn nie, en dit is nie noodwendig die goedkoopste oplossing nie. Dit gaan dalk goedkoper en doeltreffender wees om boere in buurlande en in die beheergebiede se beeste te gaan inent.”
Volgens Vervoort kan dieregesondheid nie meer in isolasie bestuur kan word nie. “Ons moet ons hele omgewing se gesondheid bestuur. Ons sal die identifikasiestelsels en naspeurbaarheid van ons diere moet opskerp en elke boer, groot of klein, elke landbouorganisasie, veearts en staatsamptenaar sal moet saamwerk, anders gaan ons nêrens kom nie.”