Sonkrag: Eerste boere kry krediete!
BOERE wat vir eie gebruik sonkrag opwek en netto meting- en opbergingsooreenkomste met Eskom het, het in Desember verlede jaar die eerste keer krediete daarvoor op hul rekenings gekry.
Mnr. Chris Schutte, direkteur van Sonfin, sê vier van sy kliënte het sulke krediete gekry en nog een sal dit binne ’n maand of twee begin kry.
Sonfin installeer sonstelsels vir boere waarmee hulle krag wat hulle nie dadelik gebruik nie, op die Eskom-netwerk kan opberg.
Terwyl die betrokke boere nou die vrugte begin pluk van die miljoene rande wat hulle in sonkragtoerusting belê het, sit talle ander boere met die hand in die hare omdat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ’n stok in die wiel van hul koppeling aan die Eskom-netwerk gesteek het deur te sloer met die inwerkingstelling van ’n registrasieproses vir kragopwekkers kleiner as 1 MW.
Schutte sê die eerste stap vir enige boer om so ’n projek aan te pak, is om by Eskom vas te stel of sy betrokke gebiedsnetwerk die bykomende krag kan hanteer. Sonfin het dié voetwerk gedoen toe hy in 2015 met die eerste van sulke projekte vir boere begin het.
LISENSIES NODIG
Nadat Eskom aanvanklik die groen lig gegee het, het die kragverskaffer later gesê boere moet eers ’n lisensie by Nersa kry.
Nersa het op sy beurt gesê boere moet eers wag, omdat die Departement van Energie die regulasies sou verander sodat kleiner sonplase nie lisensies nodig het nie en bloot by Nersa moet registreer.
“Ons moes die hele 2016 en 2017 baklei dat die regulasieverandering afgehandel word,” sê Schutte. Die regulasies is uiteindelik op 10 November 2017 in die Staatskoerant afgekondig.
Sonfin het ná ’n verdere opdraande stryd verlede Februarie daarin geslaag om 19 van sy kliënte by Nersa geregistreer te kry, toe altesaam 32 sonplase geregistreer is.
Die volgende probleme het begin toe Sonfin verlede Maart nog nege aansoeke by Nersa ingedien het vir projekte wat Eskom reeds goedgekeur het. Vier daarvan was projekte wat, op grond van die Eskom-goedkeuring, intussen klaar gebou is: drie in Kakamas (NoordKaap) en een in Swartwater (Limpopo).
Nersa het sy deuntjie verander en gesê hoewel die vorige registrasies geldig bly, moes ’n registrasieproses eers ingestel word.
Die reguleerder het uiteindelik op 16 Desember 2018 ’n dokument, vir kommentaar teen 16 Januarie 2019, gepubliseer waarin hy die redes vir registrasie verduidelik en ’n tarief van R200 vir aansoekers voorstel.
PERSONEELKWESSIES
Schutte sê die proses sal hopelik einde Maart afgehandel word, tensy daar te veel ongunstige kommentaar is wat openbare raadpleging nodig sal maak.
Hy meen daar is grondige redes vir registrasie en dat die voorgestelde tarief geen beduidende impak op die lewensvatbaarheid van selfs baie klein sonkragstelsels sal hê nie. “Dit is eenmalig betaalbaar en is meer ’n administratiewe as ’n finansiële las.”
Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê dié organisasie het mnr. Jeff Radebe, Minister van Energie, laat verlede jaar skriftelik versoek dat die registrasieproses spoedig ingestel moet word, maar het teen druktyd geen reaksie ontvang nie.
Mnr. Ted Blom, energiekenner, sê Nersa is bekend daarvoor dat hy lank vat om prosesse af te handel. “Hy het te min personeel met kernvaardighede en te veel daarsonder.”
KOSTE EN TARIEWE
Intussen verloor boere wat reeds sonkrag kan opwek, gesamentlik honderdduisende rande per maand aan potensiële krediete op hul rekenings.
Schutte sê die krediete word volgens Eskom se Genflex-tarief toegestaan. Dit behels rooi tye vir die spitstye van kragverbruik soggens en saans, geel tye deur die dag, en groen tye snags en oor naweke.
Indien ’n boer krediet kry vir krag wat hy byvoorbeeld in ’n rooi tyd opwek en op die netwerk opberg, moet hy dié krediet weer in ’n rooi tyd en binne dieselfde opbergingsiklus gebruik.
’n Opbergingsiklus strek van 1 April tot 31 Maart, wat beteken dat die boerdery se krediete op 31 Maart elke jaar uitgewis word.
Schutte sê boere moet steeds elke maand die vaste koste op hul Eskom-rekening betaal en moet binne ’n opbergingsiklus netto Eskom-kragverbruikers bly.
Sonfin ontwerp die sonkragstelsels só dat enige krediete die verbruik net mooi sal dek en die boer se Eskom-kragverbruikkoste so laag moontlik is.
Boere wat tot dusver deur Sonfin in sonkragopwekking belê het of dit oorweeg, sluit in besproeiingsboere met mielies, koring en lusern, sitrusplase met drupbesproeiing, en boere met koelkamers en pakkamers.
Sonfin het reeds meer as 100 aansoeke van boere vir soortgelyke projekte ontvang, en dit beteken ’n potensiële belegging van R600 miljoen tot R700 miljoen in die land.
Schutte sê na gelang van hoe groot ’n projek is, kan ’n boer met die krediete wat hy kry, die beleggingskoste binne vyf tot sewe jaar verhaal.