Nuwe wet oor grond uitgepluis
DIE onteieningswetsontwerp wat verlede maand vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer is, is in die algemeen baie omslagtig met baie administratiewe stappe, sê prof. Elmien du Plessis, kenner van onteieningswetgewing aan die Noordwes-Universiteit.
Sy sê in ’n staat wat doeltreffend werk, is dit fantasties, want dit bied baie beskerming, veral vir die eienaars, en dit maak die proses ietwat meer regverdig.
“In die huidige toestand van staatsbestuur van grondhervorming sal die wetsontwerp egter op die ou end bestuur en toegepas word deur staatsdepartemente wat onbeholpe is en dikwels in ’n korrupte omgewing werk, soos onder meer uitgewys is deur die hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe.”
Du Plessis sê ’n voorbeeld is die restitusieprogram wat heeltemal in duie gestort het omdat daar te veel administratiewe stappe is. Dit is ook te omslagtig, laat te veel ruimte vir onbekwame wanbestuur en vergemaklik korrupsie.
“Dit is dus vir my moeilik om hieroor kommentaar te lewer sonder om ’n toetslopie te hê oor hoe die staat die wet toepas.”
ONDERSOEKFASE
Anders as die huidige prosedure, sê sy die wetsontwerp bevat ’n ondersoekende fase voor die kennisgewing van onteiening (wat die formele proses aan die gang sit). In dié fase het die eieook naar ’n kans om insae te lewer oor onder meer die vergoeding.
“Dit is waarskynlik in ’n poging om litigasie en probleme ná die onteiening te probeer verminder. As dit reg bestuur word deur bekwame mense, is dit ’n goeie ding en dit hou die koste laag.”
Sy wys daarop dat daar al sedert 2008 geprobeer word om ’n onteieningswet te kry wat strook met die Grondwet. Die jongste wetsontwerp verskil in verskeie opsigte van die 2015-weergawe. In die voorrede is die grondwetlike reg van toegang tot howe ingevoeg, wat dit duidelik maak daar sal teenwigte wees oor die magte van die uitvoerende mag.
Die laaste deel van die 2015-voorrede is vervang met een sin: dat onteiening binne die raamwerk van die Grondwet moet gebeur.
STAATSENTITEITE
Die nuwe wetsontwerp bevat ’n klousule wat vereis dat in die geval van onteiening van ’n onderneming in staatsbesit (SOE), die onteiening nie kan plaasvind nie sonder die samewerking van die persoon wat vir die SOE verantwoordelik is.
“As mens na die geskiedenis van die departemente kyk, en ook die onvermoë van die staatsdepartemente om oor die algemeen saam te werk, kan dit ’n gevaarlig wees. Baie van die SOE’s (soos Transnet) besit baie grond, en gunstig geleë grond soos langs stede.”
Du Plessis meen die soeklig sal veral val op artikel 12 (3), wat aandui in watter omstandighede nul vergoeding moontlik billik en regverdig kan wees.
“Wat belangrik is, is dat die aanwysende (‘it may be just and equitable’) nie ’n gebiedende (‘it will be’) bepaling is nie. Die wet praat ook van ‘nil compensation’ en nie van ‘no compensation’ nie. Dít is vir my, as iemand wat in die uitleg van wette belang stel, belangrik.
“Géén vergoeding is nie grondwetlik nie, want die grondwet vereis vergoeding. Maar in sekere omstandighede kan die opweging die bedrag laat val op R0 of ’n nominale bedrag. Dit is steeds vergoeding.”
DUIDELIKHEID NODIG
Die omstandighede waaronder nul vergoeding betaalbaar kan wees in die nuwe wetsontwerp, kom van die ANC se konferensiedokumente en sluit in grond in staatsbesit, grond wat deur huurarbeiders beset word, grond wat versaak is of wat vir spekulasie gehou word, of grond waarvan die markwaarde gelykstaande of minder is as die staatsbesteding of subsidie in die aankoop en verbetering van die grond.
“Die wetgewer sal duidelik moet stel wat bedoel word met ‘speculative purposes’ en ‘abandoned land’.”
Die subklousule oor die markwaarde en die geld wat die staat belê, verwys aan die een kant na dié gevalle waar mense tydens apartheid grond gekry het met subsidie. Daar is bitter min gevalle waar die markwaarde minder sal wees as die staatsubsidie.
“As ek reg onthou, is 60% van grond post-1994 oorgedra, wat in elk geval nie hieraan onderhewig is nie. Dié klousule sal dus waarskynlik van toepassing wees op gevalle waar begunstigdes van ’n grondhervormingprogram eiendom gekry het, en daarna ondersteuning van die staat, maar waar dáárdie ondersteuning nou meer is as die markwaarde. Ironies, nè?”
VERDERE GESPREKKE
Du Plessis meen daar sal waarskynlik weer gesprek gevoer word oor die beperkende definisie van “expropriation”. Dit vereis dat, in ooreenstemming met die Agri SA-mineraleregbeslissing, eiendom deur die staat bekom (“acquire”) moet word voordat dit ’n onteiening is (en nie net ’n ontneming is wat nie vergoeding vereis nie).
“Die ander bekommernis in dié verband is dat eiendom dan só gereguleer kan word tot dit byna onbruikbaar is, maar sonder ’n ‘acquisition’ is geen vergoeding betaalbaar nie.”
Sy glo ook die grondwetlikheid van die wetsontwerp kan gekelder word indien daar nie genoegsame openbare deelname is nie.
“Dit is die waarskynlike rede waarom die 2015-wetsontwerp in 2016 deur pres. Jacob Zuma teruggestuur is. Groepe wat hulle vir die regte van mense op kommunale grond beywer, het uitgewys dat daar nie voldoende deelname op provinsiale vlak was nie, en omdat dit inheemsregtelike grond raak, moet dit waarskynlik ook na die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers gaan.”
Dit is verder ook nie in die wetsontwerp duidelik hoe dit inskakel by ander wetgewing nie, soos dié oor die tussentydse beskerming van informele grondregte en wetgewing oor grondwaardasies.