Trump se handelsplan kan Afrika lelik omkrap
DIE regering van pres. Donald Trump se langverwagte Afrika-strategie, wat einde verlede jaar bekend gemaak is, kan Suid-Afrika se handelsbetrekkinge met dié land en selfs China ingrypend raak.
Hoewel beleid nie veel verander het van die vorige strategie wat uit die Obama-era dateer nie, het die klem tog verskuif na die manier waarop dit toegepas word, sê mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom by Agbiz, en dr. Tinashe Kapuya, in ’n meningsartikel vir Agbiz.
Amerika plaas steeds groot klem op voorwaardelike steun vir Afrika met terme soos “hulp met verantwoordbaarheid” en “verligting met hervorming” wat daarop dui dat dié moondheid nie Kersvader speel met die handelstoegewings wat hy toestaan nie.
“Amerika sal nie langer voor die voet hulp oor die hele vasteland heen verskaf nie,” het mnr. John Bolton, nasionale veiligheidsraadgewer van Amerika, met die bekendstelling van die nuwe strategie gesê.
Daar word ook uitgespel dat die wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa), wat aan Suid-Afrika en ander lande in Afrika tariefvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir ’n wye verskeidenheid uitvoerprodukte bied, nie onbepaald sal aanhou nie. Die huidige ooreenkoms verval in 2025 en Amerika wil dié hulpprogram wat in die Clinton-era ingestel is, ten gunste van “moderne en omvattende bilaterale handelsooreenkomste” beëindig.
VERSKILLE MET OOREENKOMSTE
“Die Trump-regering se voorkeur is vir bilaterale handelsooreenkomste, terwyl die Obama-regering handelskwessies op multilaterale vlak as mega-streeksooreenkomste gehanteer het,” skryf Sihlobo en Kapuye. Dit kan beteken dat die Trump-regering sy Afrika-strategie op verskillende maniere met spesifieke Afrikalande gaan aanpak. Die twee ekonome meen Amerika sal veral sleutelmarkte, soos Kenia, Suid-Afrika, Nigerië en Egipte, in sy visier stel. Daar is egter ook ander verskille. “Die Trump-administrasie se benadering is openlik aggressief, terwyl die Obama-regering sy belange op die vasteland meer diplomaties nagestreef het,” sê Sihlobo. Hy verwys ook na Bolton se sterk bewoorde toespraak wat China en Rusland van “roofsugtige praktyke” in Afrika beskuldig het. Hy het gesê dat dit die finansiële onafhanklikheid van die vasteland bedreig en geleenthede vir Amerikaanse beleggings beperk.
“Dit is duidelik dat Amerika se Afrika-strategie sy rol op die vasteland wil herposisioneer en in ooreenstemming bring met Rusland en China, maar dan met slegs voorwaardelike steun. Die vraag is of ’n meer aggressiewe Amerikaanse benadering die magsbalans sal verander of selfs Amerika se invloed op die vasteland sal verhoog?”
LANDE, NIE STREKE
Dié bilaterale benadering bots met die huidige strewe in Afrika om op streeksvlak ekonomies te integreer. Die gevaar is dat Amerika gesien sal word as ’n soort boelie wat groter ekonomieë in Afrika ten gunste van kleintjies bevoordeel.
’n Byvoeging tot Amerika se Afrika-strategie is die Prosper Africa-inisiatief wat oop markte vir Amerikaanse sakeondernemings in Afrika ten doel het. Dít moet onder meer bereik word deur Afrika se middelklas te laat groei, werkgeleenthede vir die jeug te bevorder en die sakeklimaat te verbeter.
“Prosper Africa is byna ’n uitbreiding van Agoa se doelwitte om steun vir gesonde en deursigtige regering te bied en makliker sake op die vasteland te kan doen,” sê Sihlobo en Kapuya. “Dit lyk asof die klem van ’n handelsbenadering tot ’n beleggingsbenadering verskuif, met Amerikaanse maatskappye in Afrika as aanvoerders vir ekonomiese integrasie in die streek.”
Indien groot multinasionale Amerikaanse maatskappye, veral tegnologiemaatskappye, dit op dié manier regkry om die magsbalans op die vasteland weg van Rusland en China te verskuif, kan dit groot verandering en beleidshervormings tot gevolg hê, meen Sihlobo.