SAL-reddingsboeie verdwerg grondhervorming
Die reddingsboeie van R60 miljard wat die afgelope twintig jaar na die beleërde SAL gegooi is, staan in skrille kontras met die sowat R26,9 miljard wat die Regering sedert 1994 bestee het om plase vir grondhervorming te koop.
Terwyl die koeël deur die kerk is om artikel 25 van die Grondwet te wysig vir onteiening sonder vergoeding, wys die eerste onafhanklike grondoudit in Suid-Afrika wat die Regering al met grondhervorming reggekry het.
Mnr. Johann Bornman van Agri Development Solutions sê die staat het van 1994 tot 2016 altesaam R20,5 miljard bestee om 2,8 miljoen hektaar landbougrond – spesifiek vir grondhervorming – te koop. Die Regering het nóg R6,46 miljard betaal vir 571 659 ha landbougrond wat vir stedelike en dorpsontwikkeling geoormerk was. Dit beloop altesaam sowat R26,9 miljard oor 22 jaar.
Vergelyk dit met die reddingsboeie wat die Regering oor twee dekades aan die SAL verskaf het. Die Vryemarkstigting reken dit het Suid-Afrika se belastingbetalers sowat R60 miljard gekos, sê prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se sakeskool, in ’n rubriek The Conversation op Fin24. Dit is twee keer soveel as wat die Regering vir grondhervorming betaal het.
BESKERMING VS. PLASE
Die geld wat oor dieselfde tydperk aan BBP-beskerming bestee is, spreek ook boekdele oor voorrangsake. In Maart verlede jaar het mnr. Gareth van Onselen van die Instituut vir Rasseverhoudinge in ’n verslag bekend gemaak dat BBP-beskerming die afgelope 20 jaar sowat R22,5 miljard beloop het.
Onder oudpres. Thabo Mbeki is R4,3 miljard oor nege jaar daaraan bestee. Dié syfer het onder oudpres. Jacob Zuma tot R18,2 miljard oor sy tien jaar gestyg. BBP-beskerming het derhalwe meer beloop as die plase wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake spesifiek vir landboudoeleindes gekoop het.
HOE RYM ALLES?
Nes die SAL sukkel om winsgewend in die lug te bly, is ’n spoor van verwoesting die bitter nalatenskap van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming. Ontwikkelde plase, eens sierade in hul distrikte, lê meestal gestroop, verwaarloos en braak. Is die betrokke minister enigsins voor stok gekry oor dié gemors?
Juis daaroor het oudpres. Kgalema Motlanthe verdoemende bevindinge gemaak in sy hoëvlakondersoek na die doeltreffendheid van sleutelwetgewing wat die Parlement sedert 1994 gepromulgeer het. Motlanthe het gesê vergoeding vir grond wat die Regering vir grondhervorming aanskaf, is nie die grootste struikelblok vir dié hervorming nie. Veel erger is die probleme van korrupte amptenare, die kanalisering van die begroting vir grondhervorming na die elite, gebrekkige politieke wil, en onvoldoende opleiding en vermoëns. (Die parlementêre komitee wou nie die verslag aanhoor nie.) Motlanthe was onlangs ’n spreker op Rapport en City Press se grondindaba, waar hy gesê het: “As jy na die toneelspel kyk, is die Parlement nie geïnteresseerd in wetgewing nie.”
Hy sê die beleidsposisies van die ANC en die EFF oor onteiening sonder vergoeding word bevorder deur mense wat nie grondhervorming wil aanpak nie.
STAAT BESIT MEENTGROND VAN R11,4 MILJARD
Die grondoudit wys voorts dat swart mense wat landbougrond wou hê en nie vir die staat wou wag nie, self ingespring en grond teen markverwante pryse gekoop het. Volgens Bornman het swart mense van 1994 tot 2016 méér landbougrond as die Regering gekoop. Dit beloop sowat 4,4 miljoen ha, waarvoor die kopers R38,3 miljard betaal het. Daarvan het swart boere 2,5 miljoen ha met eie finansiering gekoop, terwyl 1,9 miljoen ha met hulp van die staat verkry is.
In ’n berig op Landbou.com (“Minister klou vas aan ou gronddeuntjie”) het me. Maite Nkoane-Mashabane, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, in antwoord op ’n parlementêre vraag gesê die rede vir die slakkegang met grondhervorming is die beginsel van ’n vrywillige koper en ’n vrywillige verkoper. Op die platform Plase te koop op Landbou.
com kon gesien word dat daar die afgelope jaar selde minder as 19 000 plase per maand te koop aangebied is.
Bornman se grondoudit wys voorts dat die gemiddelde prys van die 2,8 miljoen ha wat die Regering vir landboudoeleindes aangekoop het, R6 297/ha was, teenoor R6 324/ha wat kommersiële boere betaal het.
Die swart mense wat plase van 4,4 miljoen ha gekoop het, het ’n prys van gemiddeld R8 881/ha betaal, teenoor die gemiddelde van R8 408/ha wat kommersiële boere betaal het.
Bornman sê die staat het sowat 1,9 miljoen ha ongebruikte meentgrond (landbougrond), waarvan 230 000 ha uit erwe bestaan. Die waarde daarvan is R11,4 miljard.
Heelwat voorbeelde van suksesvolle projekte en samewerking bestaan reeds. Dit staan ook in skrille kontraks met die Regering se eie pogings. Dit lyk egter of die reeds beskikbare grond en vordering wat gemaak is, nie in aanmerking geneem is in die besluit oor artikel 25 nie.
BRONNE: https://goo.gl/GoKgHd; https://goo.gl/6K2DYM; https://goo.gl/8evVGA; https://goo.gl/P1pb8Y Besoek ook: http://property.landbou.com/