Plaasdrade: Voorkom só dat voëls seerkry
Plaasdrade word algemeen gebruik om die beweging van vee en wild te bestuur. Ongelukkig is die einste drade soms nadelig vir voëls en ander diere.
In 2013 het Birdlife SA die publiek gevra om voëls wat weens drade vrek of beseer word, aan te meld. Die organisasie het onder meer gevra vir beskrywings van die spesies wat gevind word, die tipe en hoogte van die draad en die omliggende habitat. Kommerwekkende inligting is ingesamel, en daar is besluit om navorsing te doen oor maniere waarop boere en bestuurders die nadelige invloed van drade kan beperk. Altesaam 36 spesies, waarvan tien as bedreig beskou word, is as beseer of dood aangemeld. Dit is die krans- en witrugaasvoël, bloukraanvoël, breëkoparend, bromvoël, edelvalk, grasuil, grootflamink, grootswartooievaar en sekretarisvoël. Ander roofvoëls (veral uile) en sommige watervoëls word ook as kwesbaar beskryf.
VERSKEIE PROBLEME
Die grootste probleem is wanneer ’n voël se liggaamsdeel, meestal die vlerk, deur doringdraad of skerp punte van die draad deurboor word. Sulke voëls kan hulself nie sommer bevry nie en vrek gewoonlik van uitputting en dors. Veral uile wat in die nag jag, word geraak. Gewoonlik is dit die boonste draad wat die sondaar is.
Voorts raak voëls se pote of bene dikwels verstrengel tussen twee oorvleuelende drade as die voël deur die draad wil beweeg. Veral groter voëls, soos kraan- en sekretarisvoëls, word só gevang. Gewoonlik is die twee boonste drade nie styf genoeg gespan nie, en oorvleuel dan weens die impak van die voël se been daarop.
Voëls word ook beseer wanneer hulle in drade vasvlieg. Dié verskynsel word nie gereeld aangemeld nie omdat die beseerde voël self kan herstel of van die draad wegbeweeg voor dit vrek.
Geëlektrifiseerde drade sal ’n groter invloed hê omdat voëls wat daarin vasvlieg, ook brandwonde kan opdoen. Boere moet dit oorweeg om net ’n enkele draad te elektrifiseer. Nog ’n oplossing is om die drade sigbaarder te maak deur bekostigbare merkerplaatjies te gebruik. Dit keer dat voëls met drade bots. Dit gebeur selde dat voëls hulself deur drade, en veral maasdraad, probeer dwing, maar daar was al gevalle waar tarentale of fisante só beseer is of gevrek het.
Drade of mure kan ook die beweging van voëls, soos jong kraanvoëls of eende wat verveer, inperk en keer dat hulle van predatore kan wegkom. Dis gewoonlik ’n seisoenale probleem. Boere kan dit oorweeg om vee te roteer sodat sommige hekke oopgelos kan word. Op dié manier kan voëls wat tydelik nie kan vlieg nie, steeds vrylik rondbeweeg.
NOG OPLOSSINGS
Wat kan boere nog doen? Drade wat reg-
tig nie meer nodig is nie, behoort verwyder te word. Ek ontken nie die praktiese aard van drade op plase nie, maar daar is gevalle waar nuwe boerderypraktyke drade oorbodig maak. Nog ’n plan is om die doringdraad van die boonste twee drade met gladde draad te vervang, veral in hoërisikogebiede, soos naby vleilande. Deur die spasie tussen die boonste twee drade tot minstens 30 cm te vergroot, kan ook baie help. Slap drade behoort gereeld nagegaan en styfgetrek te word sodat voëls nie verstrengel raak nie.
Boere en bestuurders moet ook op prioriteitsgebiede let en so gou moontlik voorkomend optree, veral waar kwesbare spesies gereeld voorkom.
Hou ook drade naby watermassas (soos riviere, vleilande en damme) goed dop, asook in gebiede waar beserings of vrektes weens drade voorheen voorgekom het.
Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.
NAVRAE: Met erkenning aan navorsing en publikasies deur Ernst Retief van BirdLife Suid Afrika. Kontak hom by e-pos: ernst.retief@ birdlife.org.za. ’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by e-pos: membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.