Hoeveel landbouskuld het kommersiële banke?
TE MIDDE van pleidooie vanuit die landbougemeenskap dat banke hom nie nou die rug moet toekeer nie, bly boere se terugbetaalvermoë ’n bron van kommer vir kommersiële banke.
Teen einde verlede jaar het boere se skuld by die groot kommersiële banke wat hulle op die landbou toespits, altesaam R148,3 miljard beloop, sê mnr. Pierre Venter, hoofbestuurder van menslike nedersettings by die Bankvereniging van SuidAfrika (Basa).
Die volgende syfers wat die stand van sake tot einde Desember 2018 weerspieël, sal eersdaags bekend gemaak word.
Boerderyskuld beloop volgens dokumente van Basa en die Land Bank sowat R200 miljard. Dit lyk dus of kommersiële banke tot 74% van dié skuld dra.
“Natuurlik beïnvloed die droogte die potensiële terugbetaalvermoë van sekere boere en loop die banke die risiko dat meer lenings nie gediens kan word met rentebetalings en skulddelging nie,” sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz.
Banke gebruik deponeerders
se geld om dit uit te leen aan entrepreneurs – boere in hierdie geval – en vra ’n hoër rentekoers as wat hulle aan deponeerders betaal. Só verdien hulle ’n inkomste en maak hulle wins, sê Purchase.
TUIMELTREIN
In ’n gewone sake-omgewing kan ’n onderneming ná ’n maand of twee se swak verkope weer gelykspeel, maar in byvoorbeeld ’n saaiboerdery het die boer net een kans per jaar om sy verlies te verhaal en sy skuld terug te betaal, sê dr. Dirk Strydom, bestuurder van
graanekonomie en bemarking by Graan SA.
“Die afgelope paar jaar was soos ’n tuimeltrein vir die landbou met drie uit die vyf jaar wat droogte opgelewer het. Gevolglik is boere se reserwes uitgeput, en verskeie kredietmeganismes het opgedroog.”
In die distrik Bultfontein in die Wes-Vrystaat het opeenvolgende droogte en dalende graanpryse daartoe bygedra dat tientalle boere nie tans hul skuld by kommersiële banke kan vereffen nie en ook nie meer lenings kry om verder te produseer nie.
Weens die daling in die waarde van grondpryse in die distrik was die prys wat op veilings aangebied is, in sommige gevalle nie genoeg om die verbande op die
grond af te los nie.
Die banke werk ook in ’n baie streng regulatoriese omgewing, met spesifieke verwysing na die Nasionale Kredietwet (Wet 34 van 2005) wat roekelose kredietverlening as ’n oortreding beskou, sê Purchase.
“Banke het dus ’n verpligting om te verseker dat hul kliënte oor die terugbetaalvermoë beskik om hul verpligtinge na te kom, ook wanneer omstandighede teen hulle draai, soos met die erge droogte wat tans ondervind word.”