WAARDE VAN UITVOER KLIM FLUKS
HOEWEL Suid-Afrika verlede jaar minder wyn uitgevoer het, het die totale waarde daarvan met bykans 4% gegroei. Die volume uitvoerwyn het met 6% gedaal tot 420,2 miljoen liter, terwyl die waarde sowat R9,06 miljard beloop het.
Luidens ’n mediaverklaring deur Wosa (Wines of South Africa) hou die kleiner volumes verband met laer wynvoorraadvlakke. Weens die droogte het wynboere verlede jaar die klein- ste oes sedert 2005 ingesamel, en kelders het leeggeloop teen die tweede helfte van die jaar.
“Daar het bitter min uitvoer in die vierde kwartaal plaasgevind, en daar blyk ’n direkte verband te wees met die beskikbare wyn op die mark,” sê me. Maryna Calow, kommunikasiebestuurder by Wosa.
Die waarde van verpakte wyn het met 3% gestyg en dié van grootmaatwyn met 7%.
Mnr. Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, het einde verlede jaar gesê die waardestyging is ’n gevolg van hoër pryse wat internasionaal vir grootmaatwyn betaal is tydens die eerste helfte van die jaar. In die tweede helfte het ’n swakker wisselkoers in die bedryf se guns getel.
Volgens Calow kon wynkelders vir beter pryse beding danksy ’n wêreldwye wyntekort. “Die bedryf het ook baie geraas gemaak oor die lae pryse wat vir SuidAfrikaanse wyn betaal word, en
ons hoop dit het ’n invloed gehad. ’n Ander moontlikheid is dat die wêreld uiteindelik die waarde van Suid-Afrikaanse wyn ten opsigte van gehalte begin raaksien.”
MARKTE
Brittanje bly Suid-Afrika se belangrikste uitvoermark, met die totale uitvoer wat sowat R1,8 miljard beloop. Duitsland, met R1,3 miljard, is nommer twee, gevolg deur Nederland, wat wyn ter waarde van R693 miljoen ingevoer het.
Die waarde van die Chinese uitvoermark het met sowat 7% gegroei, maar in Amerika, een van die waardevolste wynmarkte ter wêreld, was daar geen verbetering nie.
“Amerika is een van ons moeilikste markte omdat dit so ver is, en dis moeilik en duur vir produsente om gereeld daarheen te reis. Hul drielaagverspreidingstelsel bemoeilik ook sake en die gewone Amerikaanse verbruiker beskou nie ’n Afrika-produk as van premiegehalte nie,” sê Calow.
Verskeie Europese markte, waar verpakte wyn die afgelope aantal jare nie juis gegroei het nie, het weer kop opgetel. Die waarde van wynuitvoer na Swede het met 10% gestyg – slegs twee jaar nadat ’n gewraakte dokumentêr, Bitter
Grapes, oor sogenaamde vergrype in die Suid-Afrikaanse wynbedryf in Swede die lig gesien het.
“Daar is beslis hernieude energie vanaf Systembolaget, die Sweedse monopolie. Ek dink Bitter Grapes het die aandag op die Suid-Afrikaanse mark laat val, en die plaaslike bedryf kon aan hulle bewys dat hervorming in die bedryf ondersteun word en dat plaaslike werkers en wingerde die nodige aandag en ondersteuning kry. Suid-Afrika was voorheen die topuitvoerder van wyn na Swede, en ons hoop om binnekort daardie titel terug te wen,” sê Calow.
In die res van Afrika het uitvoer na Kenia, Tanzanië en Zambië met onderskeidelik 73%, 35% en 33% gestyg.
Wat uitvoervolumes betref was Shiraz voor in die rooiwynkoor, en Chenin blanc was eerste onder wit kultivars.
GROEI NOODSAAKLIK
Calow hoop die waardegroei sal die wynbedryf se volhoubaarheid verstewig.
“Dit sal slegs gebeur as ons waardestygings op ’n jaargrondslag toeneem.”
Hieroor sê Conradie: “Die vooruitsigte vir uitvoerverkoopsvolumes is relatief skraal, met laer internasionale grootmaatwynpryse en ’n beperkte Suid-Afrikaanse aanbod, wat waarskynlik sal lei tot ’n afname in grootmaatwynuitvoer. Verpakte wyn sal steeds voordeel trek uit ’n betreklik mededingende wisselkoers, hoewel ’n effense verswakking in die internasionale groeikoers verwag word. Dit sal die verkoopsomgewing minder gunstig maak.”