Landbouweekblad

Eerste stap om sluimerend­e tribunaal aan die gang te kry

- — JOYLENE VAN WYK

DAAR is hoop dat van die honderde sake wat by die watertribu­naal sloer, moontlik vanjaar aandag sal kry nadat die tribunaal weer sleutelpos­te by dié liggaam adverteer.

Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Water en Sanitasie, vra in die Staatskoer­ant vir benoemings vir ’n voorsitter, adjunkvoor­sitter en bykomende lede vir die watertribu­naal. Benoemings sluit op 25 Februarie 2019.

Die tribunaal, waar boere kan appelleer teen besluite van die Departemen­t van Water en Sanitasie, is sedert verlede April sonder ’n voorsitter, wat beteken dit kan nie wettig funksionee­r nie. Boere kan hulle na die Hooggeregs­hof wend wanneer hulle ontevrede is met ’n besluit, maar dit het koste-implikasie­s.

OORDRAGTE

Mnr. Robert Mabe, registrate­ur van die tribunaal, sê die tribunaal het 594 sake ontvang, wat appèlle van die landbousek­tor insluit. Die meeste sake gaan oor die oordrag van waterregte van een plaas na ’n ander. Talle sake gaan oor die gebruik van meer water as die kwota wat aan ’n watergebru­iker toegeken is.

Sedert begin verlede jaar kon boere nie meer gebruik maak van ’n bestaande en toelaatbar­e praktyk waar besproeiin­gsrade goedkeurin­g verleen het om waterregte van een plaas na ’n ander oor te dra nie. Dit het gevolg nadat die Departemen­t van Water en Sanitasie besluit het besproeiin­gsrade is nie by magte om so ’n besluit te neem nie.

Mabe kon nie sê hoeveel sake spesifiek op die landbou betrekking het nie, aangesien almal in dieselfde register aangeteken word. Dit het egter geblyk die meeste van dié sake het op die landbou betrekking.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa