Weer getroud? Maak só met jou geld
Indien twee persone albei vir die tweede keer getroud is en albei het kinders uit die vorige huwelike wat verkieslik moet erf, kan ’n tameletjie ontstaan wanneer die boedelbeplanning gedoen word. Hier is ’n paar nuttige wenke.
Tweede huwelike, veral wanneer albei partye kinders uit ’n vorige huwelik het, kan nogal lei tot spanning as dit kom by die bemaking van goed ná dood.
Soms begin die geredekawel al terwyl die “oorledene” nog ’n huppel in sy stap het. Dit is egter gewoonlik op die ergste wanneer hy op ’n saliger plek is en sy goed dan verdeel moet word. Van waar ek dinge dophou, is die skeiding tussen die reg om te mag erf en onbeskaamde gierigheid soms maar ’n dowwe lyn.
Laat ek dus net eers dié kwessie uit die weg ruim: Geen kind het ’n reg om te erf nie. Minderjariges het wel ’n reg op onderhoud, maar ons praat nou van volwasse kinders. Die reg om te erf ontstaan eers wanneer jy in jou testament iets aan daardie kind bemaak het. Dan is dit ook nog net ’n reg om te kán erf; daar is nog geen afdwingbare reg nie. Dít kom eers nadat die ander boedelverpligtinge afgehandel is.
Dit is baie regstegnies en ek laat dit vir eers daar. Vandeesweek wil ek eerder kyk na die meer sentimentele kant van die onderwerp en die finansiële gevolge daarvan.
Hier is ’n voorbeeld: Albei partye in die huwelik kom uit vorige huwelike, albei se eerste gades is oorlede, en albei het kinders uit hul vorige huwelike. Die man is die meer vermoënde een en wil graag vir sy vrou sorg ná sy dood. Sy voel dieselfde oor hom. Albei wil egter graag ná die dood van die langslewende sorg dat elkeen se eie kinders ook ’n voordeel kry. Hoe gemaak?
As jy weer trou, sal ek aanbeveel jy moet buite gemeenskap van goed trou, want dit sal meer sekerheid bring dat elkeen sy goed kan bemaak soos hy of sy wil. (As ons onderwerp vandag op jou van toepassing is: Daar is niks fout daarmee om wel byvoorbeeld binne gemeenskap van goed te trou nie.)
Jy kan binne perke bemaak soos jy wil, want deur te trou verbind jy jou in elk geval tot wedersydse onderhoud. Die langslewende het ’n reg ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) om ’n eis teen die boedel in te stel. Dit kan enige bemaking aan ’n (meerderjarige) kind kortwiek.
Kom ons kyk nou na enkele oorweginge as dit kom by die beplanning van sulke boedels. Die beskikbare finansiële bronne sal uiteraard die grootste bepaler wees in wat jy kan doen of nie kan doen nie. Ek aanvaar genoeg voorsiening is wel gemaak.
’n Testamentêre trust met die langslewende gade as begunstigde sou ’n oorweging kon wees. Jy kan dan al jou bates aan die trust bemaak, of net genoeg vir lewenslange onderhoud. By die dood van die langslewende sal die trust ontbind en die bates aan jou kinders verdeel word.
So ’n bemaking aan die testamentêre trust ten gunste van ’n langslewende gade is ook aftrekbaar vir boedelbelasting, terwyl die kapitaalwinsbelasting ook “oorrol”. Wees tog net versigtig, want daar is mense wat hulle voordoen as kundiges op die terrein van boedelbeplanning en dan so ’n trust opstel as ’n diskresionêre trust. Hulle het die klok hoor lui, maar weet nie so mooi waar die klepel hang nie. ’n Diskresionêre trust sou nie die belastingvrystelling kry nie.
Nóg ’n oplossing sou wees dat as die langslewende sy/haar eie bates het en jy dalk net vir huisvesting wil sorg, om dan ’n lewenslange woonreg, of selfs ’n vruggebruik van die huis, te gee. Die twee situasies het verskillende regsgevolge, maak dus seker jy weet wat jy doen. Met ’n vruggebruik het die vruggebruiker byvoorbeeld die reg om die huis te verhuur en die inkomste te hou.
Elke geval sal egter op sy eie beoordeel moet word, want daar is nie werklik ’n kitsoplossing wat almal sal pas nie.
Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhanklike finansiëlerisiko-bestuursmaatskappy.