Vogkaarte: Spanditsóregin
Lesers het waarskynlik al van plantgesondheidskaarte, oftewel NDVI-kaarte, gehoor, maar wat is vogkaarte? Wat doen dit (en doen dit nie) en hoe help dit ’n boer om ekstra skop in sy vogmeters te sit?
Onlangs kry ek ’n e-pos van iemand wat wil weet hoe vogkaarte méér vir hom kan beteken as wat die vogmeters by sy spilpunte reeds doen. Dosyne mense het my al gevra, en elke keer is my antwoord dieselfde: Vogmeters en -kaarte is nie onderling uitsluitend nie.
Die wetenskaplike naam vir vogkaarte is NDMI, oftewel genormaliseerdeverskilvogindeks (normalised difference moisture index).
Só ’n kaart lyk tipies soos in FIGUUR 1 – ’n NDMI-kaart van ’n gebied onder spilpuntbesproeiing – en dui aan hoeveel vog in plante teenwoordig is. Vogkaarte word elke vyf dae geneem. Die verskillende kleure van die kaart verteenwoordig verskillende vlakke van plantvog. Rooi of geel beteken die plante se vogvlakke is laer as in die blou gebiede.
Dis waarskynlik nie nodig om die wetenskaplike naam en verklaring te onthou nie, maar één kenmerk van vogkaarte is van belang: Anders as vogmeters, dui dit nie regstreeks aan hoeveel water in die grond is nie. Dit kan net aandui hoeveel vog daar in plante en enige organiese materiaal bo-op die grond is.
Voor vogkaarte egter as nutteloos afgemaak word (jy wil mos eintlik weet hoeveel water daar in jou grond is), ’n bietjie goeie nuus. Daar is meestal ’n baie sterk ooreenkoms tussen die hoeveelheid water in plante en dit wat in die grond gebeur.
As grond besig is om uit te droog, sal plante ook vog verloor. As grond natter word, sal die plantvog toeneem (daar is natuurlik uitsonderings, soos wanneer graan begin verdroog).
Daar is drie maniere waarop vogmeters en -kaarte in harmonie gebruik kan word.
IS JOU VOGMETER VERTEENWOORDIGEND?
Is vogmeters verteenwoordigend van die hele land of boord? Is die plek waar die vogmeter staan gewoonlik natter of droër as die res van die land? Word die ander dele oor- of onderbesproei? Hierdie vrae kan met vog-
kaarte en grafieke beantwoord word.
In FIGUUR 2 word die gemiddelde vogvlakke onder ’n spilpunt vergeleke met die gebied waar die vogmeter staan (speld 1) aangedui. Daar sal opgemerk word dat dit relatief natter as die gemiddeld van die res van die land is. Die droër dele kry dalk nie genoeg water nie. As die speld rondgeskuif word, kan die beste plek bepaal word om die vogmeter te plaas sodat dit die hele land of sone beter verteenwoordig. FIGUUR 3 wys die gevolg as ’n vogmeter in ’n effense droër deel van ’n land geplaas word en hoe dit met die land se gemiddelde vergelyk.
Op dié wyse kan die mees verteenwoordigende punt vir ’n land en besproeiingsones in ’n japtrap gevind word om besproeiingskedulering te verbeter.
WYS GRADIËNTVERSKILLE UIT
’n Plaas se grond of topografie kan nie verander word nie, maar meer kennis kan ingewin word oor hoe dié faktore besproeiing beïnvloed.
In FIGUUR 4 toon die kaart duidelik watter invloed die gradiënt op vog in die boonste en onderste dele van die spilpunt het. Dit was die hele seisoen lank die geval.
Met hierdie kennis kan die spilpunt se besproeiingskedulering verander en meer of minder water bygevoeg word, gegrond op die grond se helling.
In dié spesifieke geval is ’n spilpunt wat teen ’n veranderlike koers water toedien, nie eers nodig nie; die spilpunt se spoed kan bloot aangepas word om dit reg te kry.
SPOOR PROBLEME MET BESPROEIING OP
’n Kleiner boer kan maklik op hoogte bly van alles wat op elke hektaar van sy plaas gebeur, maar met meer as tien spilpunte of
besproeide boorde raak dit ’n logistieke nagmerrie om tred te hou met almal.
FIGUUR 5 wys hoe die vogvlakke van 14 verskillende lande met mekaar vergelyk. As een van hierdie lande agterbly, om watter rede ook al, kan dit maklik binne vyf dae opgemerk en daarvolgens opgetree word, pleks van om te wag tot oestyd aanbreek.
IS DIT BEKOSTIGBAAR?
Natuurlik gaan die vraag opduik of hierdie kaarte bekostigbaar is. Dit is ’n belangrike vraag, maar gelukkig is die somme maklik. Dit is eenvoudig om waterbesparings te meet omdat dit ’n geldwaarde het. Dit kan oorweeg word saam met die koste van die grafieke (R4 500 vir 20 lande per jaar tot R9 500 vir 21 tot 50 lande per jaar, groeikaarte en grafieke ingesluit) en die opbrengs op ’n belegging kan daarvolgens uitgewerk word.
Dit is geen geheim dat vogmeters duur is nie, maar vogkaarte gee ekstra spierkrag aan meters en laat die boer toe om meer waarde toe te voeg. Die vraag is dus eintlik, hoe kan
Mnr. David Campey is uitvoerende hoof van FarmPin, ’n aanlyn platform wat ontledings doen met satellietkaarte, veral oor plantge- sondheid en vog. Die onderneming verskaf ook groeigrafieke aan boere.