Landbouweekblad

Aanplantin­gs verras kenners

- — NICO VAN BURICK

DIE Nasionale Oeskatting­skomitee se voorlopige oppervlakt­eskatting van verlede week, wat daarop dui dat net 7,33% minder mielies aangeplant is as waarop die plantvoorn­emens in Oktober gedui het, het talle ontleders onkant gevang.

Die komitee het bekend gemaak die oppervlakt­e onder mielies beloop 2,27 miljoen ha, teenoor Oktober se voornemens om te plant van 2,45 miljoen ha.

Die voorlopige skatting is ook net 49 950 ha (2,15%) minder as die 2,32 miljoen ha wat in die vorige produksiej­aar beplant is.

“Dit is beslis meer as wat ek verwag het, maar kom ons gee ons boere krediet dat hulle die vermoë het om in ’n kort tydjie baie te plant,” sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerend­e hoofbestuu­rder van Graan SA.

“In 2016 het ons 700 000 ha in 10 dae beplant. Wat ons egter in gedagte moet hou, is dat ongeveer 80% van die weste se mielies ná Kersfees geplant is.

“Ek is tans in die omgewing, en hoe verder wes ’n mens ry, hoe swakker lyk die plantjies. Reën kan nog help, maar daar is reeds skade.”

GELYKSPEEL

De Villiers sê die aantal hektare is dalk nou daar vir ’n gelykspeel-oes, maar die groot vraag is wat die opbrengs gaan wees.

“Ons sal in Februarie ’n beter idee hê hoe die tonnemaat lyk en hoe die reën geval het.”

Die hersiene aangeplant­e oppervlakt­e en produksies­yfers sal op 27 Februarie deur die komitee bekend gemaak word.

Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousak­ekamer Agbiz, wat vroeër geraam het die aanplantin­gs is sowat 19% minder op 1,98 miljoen ton, sê ook die komitee se raming is ’n verrassing. “Hoewel dit verwelkom word, is dit belangrik om te onthou dit is voorlopige ramings wat die einde van die maand (Januarie) hersien sal word. Ons verwag ’n afwaartse aanpassing.”

Hy sê nou is die belangrike vraag wat die grootte van die oes sal wees. Die mark verwag tans 10,4 miljoen tot 12 miljoen ton. Gegewe Suid-Afrika se plaaslike verbruik van 10,8 miljoen ton per jaar en ’n oordragvoo­rraad van sowat 3,4 miljoen ton kan selfs ’n oes so klein as 8 miljoen ton genoeg wees vir plaaslike verbruik. Dit is as die behoeftes van buurlande buite rekening gelaat word.

De Villiers meen daar kan genoeg wit mielies wees, maar dat ’n bietjie geel mielies ingevoer sal moet word. Hy het vroeër al daarop gewys dat geel mielies reeds van Suid-Amerika af vir die Wes-kaap ingevoer word omdat dit goedkoper is as om plaaslike mielies van die noorde af te vervoer. Om mielies padlangs na Kaapstad te vervoer, kos R550 per ton.

NOORDWES

Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB, sê die groot verrassing is dat die geskatte oppervlakt­e onder mielies in Noordwes ondanks die droogte met 1% tot 487 000 ha verhoog is. Sowat 21% van Suid-Afrika se mielies word daar verbou.

Mnr. Anthony Clark, markontled­er by Vunani Securities, sê daar is groot genoeg gapings in die komitee se skatting “dat ’n trekker daardeur kan ry”. Hy meen die totale oppervlakt­e sowel as die oppervlakt­e onder wit mielies is té optimistie­s, en sê groot verbruiker­s kan nog nie makliker asemhaal nie. Die volgende skatting sal groter duidelikhe­id bring.

Volgens die komitee se syfers is die voorlopige oppervlakt­e onder wit mielies 1,26 miljoen ha, wat ’n afname van 0,88%, of 11 100 ha, teenoor die 1,27 miljoen ha van die vorige produksiej­aar is. In die geval van geel mielies is die oppervlakt­eskatting 1,01 miljoen ha, wat 3,7%, of 38 850 ha, minder as die 1,05 miljoen ha van 2017-’18 is.

ANDER GEWASSE

Wat ander somergewas­se betref, is die voorlopige oppervlakt­eskatting vir sonnebloms­aad 444 000 ha, wat 26,18%, of 157 500 ha, minder is as die 601 500 ha wat in die vorige produksiej­aar beplant is. De Villiers sê dit kan nog bietjie styg, aangesien daar teen einde Januarie boere was wat steeds besig was om sonneblomm­e aan te plant.

Die geskatte oppervlakt­e wat met sojabone beplant is, beloop 743 600 ha, wat ’n afname van 5,54%, of 43 600 ha, teenoor die 787 200 ha van die vorige jaar is.

Vir grondbone is die oppervlakt­eskatting 19 200 ha, wat 65,9%, of 37 100 ha, minder is as die 56 300 ha wat in 2017-’18 beplant is.

Die oppervlakt­eskatting onder sorghum is 59,72% hoër, naamlik 46 000 ton, teenoor 28 800 ha in die vorige produksiej­aar.

Vir droëbone is die geskatte oppervlakt­e 56 000 ha, wat 4,95%, of 2 640 ha, meer is as die 53 360 ha wat in 2017-’18 beplant is.

 ??  ?? Mnr. Jannie de Villiers
Mnr. Jannie de Villiers
 ??  ?? Mnr. Wandile Sihlobo
Mnr. Wandile Sihlobo
 ??  ?? Mnr. Paul Makube
Mnr. Paul Makube

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa