Landbouweekblad

GEEL BLADSYE Van oraloor

- LUCILLE BOTHA

DIE ooievaar moes bontstaan dié somer op die Vergelegen-wynlandgoe­d buite Somerset-Wes om altesaam nege nuwe bontebokla­mmers af te lewer. Daar is tans net 2 500 tot 3 000 bontebokke oor ter wêreld.

Dié historiese plaas, wat oor 3 000 ha strek en sedert 1987 aan Anglo American behoort, huisves tans 50 bontebokke. Altesaam 1 900 ha van die landgoed is verlede jaar tot ’n private natuurrese­rvaat verklaar.

Volgens mnr. Eben Olderwagen, omgewingsb­estuurder by Vergelegen, het goeie teeltoesta­nde die afgelope seisoen gegeld. “In die vorige seisoen was daar ’n droogte, en in 2017 het ons ’n brand op die plaas gehad. Ons lei dus af daar is vanjaar meer lammers gebore.”

Die Vergelegen-span kon nog nie bepaal hoeveel ramme en ooie gebore is nie. “Hulle is nog baie jonk. Dit is daarom moeilik om naby genoeg aan hulle te kom om dit vas te stel.”

FLOREER OP WYNPLAAS

Mnr. Don Tooth, uitvoerend­e hoof van Vergelegen, sê hulle het tien jaar gelede die eerste tien bontebokke op die plaas gevestig. Dit was nadat die Helderberg- natuurrese­rvaat nie meer genoeg weiding gehad het om sy kudde bontebokke te onderhou nie. “Die diere is gevang en na ons gebring, met die ooreenkoms dat nege van die bokke altyd aan die stad sal behoort.”

Sedertdien floreer die bokke op Vergelegen se inheemse plantegroe­i en weidings. Daar is tans drie teelgroepe op die plaas. Elke groep bestaan uit ’n ram met sewe tot agt ooie.

Die nege lammers is oor die groepe versprei.

Daar is ook ’n groep van vyf ramme wat by mekaar bly, asook jong rammetjies wat in kleiner groepe saamloop.

Volgens Olderwagen loop die bontebokke heeltemal vry rond. “Ek moniteer hulle gereeld. As ons agterkom iets pla, sal ons behandelin­g reël, maar andersins kyk hulle na hulself.”

Hy sê die gebied en die weiding is voldoende om nog ’n hele paar bontebokke te onderhou.

“Ons sal egter eers ’n studie moet doen. Faktore soos die kuddesames­telling sal ook ’n rol speel om te verseker dat ramme nie oor ’n gebied baklei nie.”

Bontebokke word gekenmerk aan ’n perserige skynsel op sjokoladeb­ruin velle, ’n wit kol op hul boude en ’n wit vlam op hul gesigte. Die bokke was eens oorvloedig in die Suid-Kaap, maar weens ondeurdagt­e jagpraktyk­e het hul getalle in ’n stadium tot net 17 gedaal.

“Vergelegen se span is trots daarop om ’n klein rol te speel om die volhoubaar­heid van hierdie uitsonderl­ike bokspesie te help verseker,” sê Tooth.

 ?? FOTO: VERGELEGEN ?? LINKS: Daar is minder as 3 000 bontebokke in die wêreld oor. Vergelegen se kudde is sowat 50 diere sterk.
FOTO: VERGELEGEN LINKS: Daar is minder as 3 000 bontebokke in die wêreld oor. Vergelegen se kudde is sowat 50 diere sterk.
 ?? FOTO: EBEN OLDERWAGEN ?? Bontebok-ooie met hul lammers op die Vergelegen-wynlandgoe­d buite Somerset-Wes.
FOTO: EBEN OLDERWAGEN Bontebok-ooie met hul lammers op die Vergelegen-wynlandgoe­d buite Somerset-Wes.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa