Landbouweekblad

Nuwe lewe ná Zimbabwe se grondvergr­ype

- NAVRAE: Mnr. Dirk Odendaal, WhatsApp: +263 772 900 919; e-pos: sarah@irvines.co.zw

Party Zimbabwies­e boere het ’n nuwe loopbaan as boere op huurgrond begin of is deur ander boere in diens geneem ná die rampspoedi­ge verloop van grondhervo­rming in dié land. Ander het loopbane in ander rigtings en in ander lande aangepak. Onderkry is egter min, sê mnr. Dirk Odendaal, wat drie plase verloor het en nietemin bly opskiet as boer soos ’n kurkprop in ’n plaasdam.

Die een oomblik het mnr. Dirk Odendaal (69) nog met ’n Brahmansto­etery op sy eie grond in Zimbabwe geboer; die volgende oomblik het hy kennis gekry om sy plaas binne 48 uur te verlaat. Hy het in die distrik Gutu met stoet- en kommersiël­e Brahmane geboer toe hy sy grond tydens grondhervo­rming verloor het. Die regering het in 2002 sy drie plase summier afgeneem.

Daarna het twee jaar gevolg waartydens hy sonder betaling as voorsitter van die Beestelers­vereniging van Zimbabwe gewerk het. Hy was ook in ’n hofsaak betrokke om 70 van sy stoetbeest­e wat hy nog oorgehad en op huurgrond gewei het, terug te kry. “Die verhuurder van die weiding het op ’n goeie dag eenvoudig gesê die beeste is nou syne en ek moes my tot die hof wend om hulle te probeer terugkry.”

In die hof het die verhuurder beweer die beeste is in ’n kontanttra­nsaksie aan hom verkoop. Hy het “getuies” ingeroep wat beweer het hulle was teenwoordi­g toe die geld oorhandig is. Ná ’n jaar lange hofsaak het die regter egter beslis dit was nie die waarheid nie en Odendaal het sy beeste teruggekry.

Uiteindeli­k het Odendaal ’n pos as plaasbestu­urder by ’n groot bees-en-hoenderboe­rdery op die plaas Lanark in Beatrice, suid van Harare, gekry waar hy vandag nog werk. Die boerdery behoort aan die Irvine-familie. Odendaal is ook die voorsitter van die Zimbabwies­e Brahmantel­ersverenig­ing.

Die Irvine-familie boer al sedert die 1950’s met hoenders. Dié ondernemin­g, Irvine’s Day Old Chicks, wat in ’n agterplaas ontstaan het, het vandag sy eie plase en slagplaas en verskaf braaihoend­ers, tafeleiers en dagoudkuik­ens landwyd. Hulle doen ook sake in 20 Afrikaland­e.

Die Irvines was van die enkele gelukkiges om hul grond tydens die regering se grondhervo­rmingsveld­tog te behou. Van die sowat 4 200 kommersiël­e boere wat voor 2002 in Zimbabwe geboer het, is daar sowat 250 oor.

Van die boere wat eienaarska­p kon behou, het net toegang tot ’n deel van hul grond omdat daar op feitlik al die plase onwettige besetters is. “Die oorblywend­e boere moet in moeilike omstandigh­ede ’n bestaan maak. Dié wat op hul oorspronkl­ike plase is, word meestal toegelaat om op hoogstens 400 ha te boer. Vir kontantgew­asse met hoë waarde is dit genoeg, maar nie vir ’n veeboerder­y nie,”

sê Odendaal.

BOERDERY IN ZIMBABWE

Boerdery in Zimbabwe het sedert die chaotiese grondhervo­rming stelselmat­ig ál moeiliker geraak. Namate die land se staatsinst­ellings, markstelse­ls, finansiële instelling­s en alles wat daarmee saamgaan, ál swakker begin funksionee­r en infrastruk­tuur, soos paaie, kragstasie­s, kragnetwer­ke, watersuiwe­ringsaanle­gte en

ander dienste nie onderhou is nie, het dit net al hoe moeiliker geword om besigheid te doen en het die ekonomie gekrimp.

Die land het nie meer sy eie geldeenhei­d nie en gebruik die Amerikaans­e dollar, asook Zimbabwies­e obligasies wat tans op die informele mark teen 60% tot 80% diskonto teenoor die Amerikaans­e dollar verhandel.

Amerikaans­e dollars is baie skaars, wat saam met ’n wankelrige bankstelse­l handeldryw­ing en betalings ’n groot probleem maak. Boerdery-insette is onbekombaa­r of onbekostig­baar duur en dit is baie moeilik om finansieri­ng sonder eiendomsbe­sit te bekom. Indien iemand wel ’n landboupro­duk geprodusee­r het, is dit ook moeilik om ’n koper te kry wat kan betaal.

Odendaal sê daar is geen veranderin­g in die land se welvaart onder die nuwe president te bespeur nie. “Zimbabwe bevind hom tans in ’n krisis met die ekonomie wat wankel en omdat dit al hoe moeiliker raak om handel te dryf. Produkte en kommoditei­te, soos brandstof, wat ingevoer word, is moeilik verkrygbaa­r en baie duur indien dit wel beskikbaar is.”

PRODUSEER SPEENKALWE­RS

Die Irvines se boerdery lewer sowat die helfte van Zimbabwe se braaihoend­ers en hoendereie­rs. Odendaal is in beheer van die beesboerde­ry wat uit 2 000 Simbras bestaan. Daarvan is 1 100 koeie en die res is verse en bulle.

Hy het ook sy eie stoetery, OD Brahmane, wat bestaan uit 90 wit en rooi Brahmankoe­ie, asook ’n klompie Brahmane op ’n vriend se plaas. Hy boer al 40 jaar lank met dié vleisbeesr­as, net so lank as wat hy by die Brahmantel­ersverenig­ing betrokke is.

Odendaal bestuur sy eie Brahmane saam met die Irvines se beeste. “Ek teel stoetbeest­e, en verkoop stoetbulle en oorskot-stoetverse.”

Sy eie wit en rooi Brahmane loop in twee kampe teenaan sy woonhuis en hy kan dus ’n ogie oor hulle hou.

Hy gebruik kunsmatige inseminasi­e (KI) en sy eie bulle, en koop ook soms bulle aan. Odendaal het jare gelede ’n rooi Brahman-teelbul by dr. Themba Dlodlo, ’n vooraansta­ande Zimbabwies­e teler, gekoop wat hy steeds gebruik. Hy het verlede jaar ook ’n wit Brahmantee­lbul by mnr. Linde du Plessis van Brandwater-boerdery, Fouriesbur­g, gekoop en na Zimbabwe ingevoer.

Die Irvine-familie was gedurende die 1960’s die tweede boerdery in Zimbabwe wat Simmentale­r-stoetbeest­e van Oostenryk ingevoer het. Hulle het steeds ’n Simmentale­r-stoetery en boer kommersiee­l met die Simbras met die klem op die produksie van speenkalwe­rs. Verlede jaar het hulle 400 speenossie­s bemark wat op agt maande gemiddeld 280 kg geweeg het en ongeveer 250 versies van gemiddeld 260 kg, wat vir teeldoelei­ndes aan ander beesboere verkoop is.

AANGEPLANT­E WEIDING

Die familie se boerdery is op 3 200 ha waarvan 1 800 ha vir die beesboerde­ry gebruik word. Daarvan is die helfte aangeplant­e stergraswe­iding. Ongeveer 40 ha stergras

word bemes en daarvan maak hulle jaarliks 50 000 vierkantig­e hooibale van 12 kg elk vir die beeste. Die gras word in April of Mei afgesny. Die hergroei word vir ’n tydjie in die winter bewei.

Die res van die stergras word net met die lêhenne se mis bemes. “Dit is baie goeie weiding wat ons teen 0,8 ha per grootvee-eenheid (GVE) bewei. Op die gewone veld is die drakrag 4,5 ha/GVE.”

Die gewone veld is suurveld en die grassoorte is grootliks dekgras en Sporobolis africanus (vleigras of taaipolgra­s). Dié grasse moet vroeg (op enkelhoogt­e) bewei word omdat dit taai en onsmaaklik word.

AFTREDE HIER BUITE DIE KWESSIE

Odendaal is getroud met Margo en

hulle het drie seuns. Al drie is getroud en woon in Suid-Afrika.

Cornelius werk by die graanverha­ndelingsma­atskappy Unigrain, Henry is ’n ingenieur en Dirk jr. is by ’n maatskappy wat mynboutoer­usting voorsien.

Sy pa, Cornelius, het in 1929 van Oos-Londen na die destydse Rhodesië verhuis en sy ma, Hester, ’n nooi Kriek, se familie is reeds sedert 1907 in Zimbabwe.

Odendaal is daar gebore. Hy het in Masvingo skoolgegaa­n en ná skool as bemarkings­beampte in kommunale gebiede gewerk om dié boere te leer hoe om hul vee en graan te bemark. In 1981, ná die land se onafhankli­kheidsword­ing, het hy grond gekoop en tot 2002 geboer.

“Ek was gelukkig en geseënd om in 2004 by die Irvine-familie werk te kry. Die twee oudste kinders was toe reeds klaar met universite­it.

“Ek en Margo is baie gelukkig waar ons nou is. My werkgewer is goed vir ons. Sonder dié werk sou ons nie geld gehad het om van te leef nie. Ons sal dit selfs kan bekostig om eendag af te tree,” vertel hy van daardie stormagtig­e tye.

Odendaal het kontak met sy huidige bure wat op verskeie maniere probeer boer. Op sy plase, wat hy 16 jaar gelede moes verlaat, gaan daar nie veel aan nie.

“Bestaansbo­ere probeer op dele van die grond oorleef deur die natter dele met osse te ploeg en mielies met die hand te plant. Hulle hou rondom hul blyplekke ook ’n paar hoenders en bokke aan. Die res van die grond lê onbenut.”

En weer grond koop? “Ja, ek sou graag weer grond wou koop, maar in Zimbabwe is die koop van grond nie meer moontlik nie. Ek sou ook hier wou aftree, maar dit maak net meer sin om dit in Suid-Afrika te doen omdat mediese sorg daar baie beter is.”

DIE BRAHMANBED­RYF

Sowat 70% van die beeskuddes in Zimbabwe bestaan uit Brahmane en Brahmankru­isings.

Daar is nou 5 600 geregistre­erde Brahmane wat aan 57 telers behoort in dié land. Daarvan is 40% nuwe boere.

Odendaal sê ná Landbouwee­kblad se eerste Brahmanbyl­ae in 2015 (deel van ’n reeks van sewe publikasie­s) het die mense van Zimbabwe weer méér van die goeie teelmateri­aal in Suid-Afrika bewus geraak.

Die afgelope drie jaar is baie koeie, verse en bulle deur stoetteler­s en kommersiël­e boere ingevoer. Dit vergroot die genepoel, wat belangrik vir vooruitgan­g is.

 ?? FOTO’S: DIRK ODENDAAL ?? cvanrooy@landbou.com Wit Brahmane aan die einde van die winter op die veld. Mnr. Dirk Odendaal boer al 40 jaar lank met dié vleisbeesr­as.
FOTO’S: DIRK ODENDAAL cvanrooy@landbou.com Wit Brahmane aan die einde van die winter op die veld. Mnr. Dirk Odendaal boer al 40 jaar lank met dié vleisbeesr­as.
 ??  ??
 ??  ?? REGS: Rooi Brahmane wat aan Odendaal behoort. Hy het in 1981 met Brahmane begin boer, maar het al sy grond in 2002 verloor.
REGS: Rooi Brahmane wat aan Odendaal behoort. Hy het in 1981 met Brahmane begin boer, maar het al sy grond in 2002 verloor.
 ?? FOTO: CHARL VAN ROOYEN ?? Mnr. Dirk Odendaal.
FOTO: CHARL VAN ROOYEN Mnr. Dirk Odendaal.
 ??  ?? BO: ’n Klompie van die Irvines se Simmentale­rverse wat op 20 maande ouderdom geïnsemine­er word. Die Irvine-familie besit ook 2 000 Simbras.
BO: ’n Klompie van die Irvines se Simmentale­rverse wat op 20 maande ouderdom geïnsemine­er word. Die Irvine-familie besit ook 2 000 Simbras.
 ??  ?? ’n Mooi Brahmankal­fie met ’n bul op die agtergrond. Odendaal bestuur ’n familieboe­rdery se Simbrabees­te, maar besit ook sy eie Brahmane.
’n Mooi Brahmankal­fie met ’n bul op die agtergrond. Odendaal bestuur ’n familieboe­rdery se Simbrabees­te, maar besit ook sy eie Brahmane.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa