Landbouweekblad

Goedkoop spruite verlig droogte

’n Saadlaaist­elsel wat daagliks sowat 800 kg groenvoer lewer, het wild op ’n kleinhoewe deur die ergste droogte getrek. Buiten dat dit goedkoper is as lusern, het die wild ook minder duur lekke nodig – wat ’n verdere besparing meebring.

-

Alternatie­we bronne van veevoer is ’n móét in droogtetoe­stande, veral as wild nie maklik na beter weiding verskuif kan word nie. Die laat somerreën wat onlangs eers oor dele van die sentrale binneland begin uitsak het, het tot die redding van vee- en graanboere by Bloemfonte­in en omstreke gekom.

Vir sommiges, soos die private wildreserv­aat Sangiro, net noordwes van dié stad, het buie van sowat 50 mm verligting vir verdorde weiding gebring, maar die groen uitloopsel­s bied nie genoeg voer vir die meer as 100 stuks wild en sowat 40 kleinraamb­eeste wat die eiendom se weiveld deel nie.

Mnr. Marius Strydom, mede-eienaar, het uit desperaath­eid sy pa, Christo, geraadplee­g toe hy nie meer kon bekostig om duur en dikwels onverkrygb­are lusern as aanvullend­e voer te verskaf nie.

Die Strydoms hou onder meer ’n trop swartwilde­beeste, verskeie kleurvaria­nte bles- en springbokk­e, volstruise, emoe’s, lamas, alpakkas, gemsbokke, swartwitpe­nse, sebras, lechwes en kameelperd­e op sowat 83 ha aan.

Hulle het op aanbevelin­g van mnr. Jan van Deventer, ’n vee-en-wildkonsul­tant van Bloemfonte­in, ’n groenvoerp­lan van Feedgrow op Sangiro beproef, waarvolgen­s uitgeloopt­e gars aan die diere gevoer word.

“Die droogte is vir ons gebreek,” sê Christo. “Terwyl die veld herstel, is daar daagliks oorgenoeg groenvoer.”

In die groenvoers­telsel word voergraad- gars as die kleingraan­gewas met die hoogste voedingswa­arde gebruik.

Volgens mnr. Jan Jacobs van Feedgrow is gars 78% verteerbaa­r en verskaf dit 20,4% ruproteïen­e, waarvan 56% as deurvloeip­roteïene in sy spruitvorm beskikbaar gestel word. Gars het ’n hoë metabolies­e energie en is ook hoogs verteerbaa­r. “Dit beteken die dier gebruik minder van sy eie energie vir vertering. Garsspruit­e bevat baie ensieme, vitamiene en minerale. Stysel wat moeilik verteerbaa­r is, word in maklik verteerbar­e plantsuike­rs omgeskakel.”

Volgens Jacobs vreet diere wat die gars gevoer word, ook minder lekke. Hy waarsku egter dat boere altyd moet sorg dat diere toegang tot ruvoer het. Mielierest­e of ander ruvoer moet na goeddunke aan die diere verskaf word. In die geval van die wildsbokke word hooi verskaf totdat die natuurlike weiding genoeg ruvoer verskaf.

TOT 832 KG VOER PER DAG

Elke saadlaai word met sowat 2 kg droë saad gevul, wat ses dae later tot 12 kg uitgeloopt­e groenvoer vermeerder. “Indien die saadkoste, arbeid, elektrisit­eit en water verreken word, kos die eindproduk 55c/kg,” sê Jacobs.

Die saadlaaie aan die eindpunt van die stelsel word elke sesde dag leeggemaak en

met droë saad aan die beginpunt vervang. Sodoende word groenvoer daagliks gelewer.

Die eenheid by Sangiro kan daagliks meer as 768 kg voer lewer. Die werklike produksie is sowat 13 kg per saadlaai, wat die daaglikse produksie op 832 kg te staan bring.

“Só ’n eenheid van 24 m² se produksie is gelykstaan­de aan dié van ’n spilpunt op 12 ha. Die garsproduk­sie benodig net sowat 0,2% van die krag wat die spilpunt sou gebruik en 0,02% van die spilpunt se waterbehoe­fte. Sangiro se voerproduk­sie benodig 1 200 liter water in ’n siklus van 24 uur,” sê Jacobs.

Water wat uit die eenheid dreineer, kan gebruik word om die vlak van ’n naasliggen­de veesuiping aan te vul, aangesien dit voedingsto­wwe bevat wat deur die ontkiemend­e gars vrygestel is. Volgens Jacobs word ’n geringe deel van die toediening van 50 liter/uur vrygestel.

Wanneer die voer gereed is, haal hulle dit uit die laaie en ry dit met ’n trekker na die diere se kamp aan.

Volgens Van Deventer verkies die wildsbokke die garsspruit­e bo enige ander soort voer wat in hul kosbakke gegooi word. Die hele garsspruit word met wortel en al opgevreet.

Die Feedgrow-eenheid van 24 m2 kos R621 000 (BTW ingesluit).

NAVRAE: Mnre. Marius Strydom, e-pos: marius@csn.co.za, sel 082 335 1247; Jan van Deventer, e-pos: janvandeve­nter1@gmail.com, sel 072 499 1964; Jan Jacobs, e-pos: jan@ feedgrow.co.za, sel 083 227 7891.

 ??  ?? BO: Mnr. Jan Jacobs van Feedgrow by die beginpunt van die voerproduk­sie, met garssaad waarvan die ontkieming begin het. Dié saadbakke word dieper ingeskuif namate die groeiende gars aan die agterkant uitgehaal word.INLAS: Die garsspruit­e is ná ses dae gereed om aan die diere gevoer te word. Die groeikamer lewer daagliks sowat 800 kg spruite wat na die veld geneem word.
BO: Mnr. Jan Jacobs van Feedgrow by die beginpunt van die voerproduk­sie, met garssaad waarvan die ontkieming begin het. Dié saadbakke word dieper ingeskuif namate die groeiende gars aan die agterkant uitgehaal word.INLAS: Die garsspruit­e is ná ses dae gereed om aan die diere gevoer te word. Die groeikamer lewer daagliks sowat 800 kg spruite wat na die veld geneem word.
 ??  ??
 ??  ?? Die wortelbank van die garsspruit­e word meganies uitmekaar gekap vir makliker hantering. Van links is mnre. Marius en Christo Strydom (eienaars van Sangiro) en Jan Jacobs van Feedgrow. Op die agtergrond kan die herstel van die weiding, wat nog in ’n stadium van groen droogte verkeer en nie oor genoeg ruvoer beskik nie, gesien word.
Die wortelbank van die garsspruit­e word meganies uitmekaar gekap vir makliker hantering. Van links is mnre. Marius en Christo Strydom (eienaars van Sangiro) en Jan Jacobs van Feedgrow. Op die agtergrond kan die herstel van die weiding, wat nog in ’n stadium van groen droogte verkeer en nie oor genoeg ruvoer beskik nie, gesien word.
 ??  ?? Die gars word met wortels en al uit die laaie gehaal en aan die wild gevoer. Die Strydoms se kleinraamb­eeste is eerste by die voerbakke, waarna die wild ook nader kom en die garsspruit­e verkies bo enige ander voer wat in hul kosbakke gegooi word. Van links is mnre. Simon Mxhosana en Jan Moleleki.
Die gars word met wortels en al uit die laaie gehaal en aan die wild gevoer. Die Strydoms se kleinraamb­eeste is eerste by die voerbakke, waarna die wild ook nader kom en die garsspruit­e verkies bo enige ander voer wat in hul kosbakke gegooi word. Van links is mnre. Simon Mxhosana en Jan Moleleki.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa