PLAASAANVALLE VERWOES MENSE SE WÊRELD
Geagte mnr. die President van Suid Afrika, na aanleiding van u ontkenning van plaasmoorde en -aanvalle, wil ek graag die volgende gebeurtenis onder u aandag bring en u vertel hoe dit my, ons gesin en familie se lewens onherroeplik verander het.
Maandag 4 Desember 2017, 6:20. My man, Jan, ontvang ’n oproep van ons bure op ’n buurplaas. Een van ons plaaswerkers, Isaac, het by hulle aangekom met die tyding dat hy onraad vermoed op ons plaas Stillewoning in die Odendaalsrus-gebied, waar my bejaarde ouers, Peter (destyds 84) en Unie (79) Brown, die afgelope 30 jaar woonagtig is.
Isaac het gesien een van die skure staan oop en dat ’n voertuig weg is, dat die spaarwiel op die grasperk lê, en dat my ouers se twee geliefde honde dood op die grasperk by die huis lê.
Jan het hierdie boodskap net so aan my oorgedra, en ons albei het besef dat daar groot fout is.
Plaasaanval. Plaasaanval! Nee! Dit kan nie wees nie!
Sonder om te dink, maar net met die wete dat ek spoedig by my ouers moet uitkom, het ek in my motor gespring en die 30 km na my ouerhuis gejaag.
Letterlik honderde gedagtes het deur my verstand geflits. Waarop sou ek afkom wanneer ek by my ouerhuis kom op ons plaas waar my ouers al meer as 30 jaar gelukkig en in vrede woon en waar my wonderlike, hardwerkende, bejaarde pa op sy hoë ouderdom nog ’n vol en bedrywige lewe gelei het? Hoe seer het my ouers gekry? Leef hulle nog? Wat het gebeur? Hoe is dit moontlik? Hierdie dinge gebeur mos net met ander, hoe kon dit nou met ons gebeur?
My geliefde ma het in Julie daardie jaar ’n paar beroertes oorleef, wat haar erg verswak en afhanklik gelaat het.
Ek onthou hoe ek op die plaas aangekom en in my ouerhuis ingehardloop het. Deur die oop voordeur, gang af, waar totale chaos en wanorde my begroet. Ek sien hoe die huis geplunder is. Vinnig na my ouers se kamer toe.
Hoe sal ek óóit kan vergeet wat daar op my gewag het? My ma en pa – totale ongeloof en verwarring op hul gesig oor dit wat met hulle gebeur het. Geskok sit hulle op die kant van die bed. Bymekaar, soos hulle die afgelope 62 jaar aan mekaar se sy was. My pa, verwese, met ’n groot wond aan sy bors, droë bloed wat van sy hoof af op sy gesig geloop het, troos my ma. My ma, getraumatiseerd en vernederd omdat sy nie kan loop nie. Al die kneusings aan haar polse en enkels is die bewys van waar sy vasgebind is.
Ek omhels hulle. Ek is verlig. Ek is dankbaar. En ek is wóédend!
Hulle het ’n behoefte om te praat. My pa vertel hoe hy die oggend om en by 03:00 ’n ongewone geluid gehoor het, maar dat hy gerus was omdat hy nie sy honde hoor blaf het nie – net om die slag ’n tweede maal te hoor, maar, helaas, te laat om te besef . . .
Té vinnig is my ouers omring deur ses volwasse mans wat aandring op geld, juwele, diamante, vuurwapens en rekenaartoerusting. My ma word wakker in totale ongeloof, sy besef eers nie wat besig is om te gebeur nie. My pa word verras met ’n geweldige hou teen sy bors. Sy kop word toegegooi met iets (later ontdek ek die handdoek wat gebruik is), en harde houe met ’n onbekende voorwerp reën op sy hoof neer. Hy word erge houe aan sy bors toegedien, en daar word op hom gespring en getrap. Hy word gedreig en verneder.
My ma pleit vir haar en my pa se lewens, sy bid aanhoudend hardop en smeek by God en die booswigte om haar en my pa se lewens te spaar. Hulle dreig om my pa om die lewe te bring. Die groot slagtersmes wat in die gang lê, is die stille getuienis van hoe hulle my ma gedreig het dat
hulle haar keel gaan afsny, maar daarteen besluit het omdat hulle haar eerder wil skiet . . .
En só verlaat my ouers ná 30 jaar ons grond, hul huis, hul tuiste, hul “veilige” hawe – álles wat vir hulle bekend en gelief was tot daardie nag van 4 Desember 2017 – om net nooit, ooit weer daarheen te kan teruggaan nie.
My ouers se lewens is verwoes. Hul rustige en gelukkige lewe het handomkeer verander.
My ma kry nog ’n paar beroertes. Sy is met tye bedlêend. Sy is hulpeloos. Sy benodig deurlopende sorg, hulp en verpleging.
My pa se borsbeen is op plekke gebreek en het ’n chip uit. Al sy ribbes is gebreek. ’n Breinbesering, bloeding op die brein en breinskade weens die gewelddadige houe teen sy hoof word by hom gediagnioseer. Die frontale lobbe van die brein wat verantwoordelik is vir besluitnemingsprosesse, motivering, impulskontrole, emosionele beheer en sekere logiese en oorsaak-gevolg-redenering, is beseer.
Nooit kan my fikse, hardwerkende en bedrywige pa weer alleen in die lande op die plaas gaan stap nie. Nooit weer kan hy met sy geliefde beeste boer nie. Nooit weer mag hy alleen sy motor bestuur nie.
Nooit kan of sal ons toelaat dat my ouers weer op die plaas gaan woon nie. Daar staan my pragtige ouerhuis, net met meubels – geen asem of siel wat lewe in die huis bring nie.
My ma het daardie dag ons plaas deur onmenslike omstandighede verlaat – om nooit weer daarheen terug te gaan nie. Sy kán nie, sy wíl nie, sy mág nie, sy sál nie.
My pa wíl. Hy kán nie, hy mág nie. Ek sal hom nooit toelaat nie.
Só bly my ouers nou al sedert 21 Desember 2017 by my sussie in Klerksdorp. Sy staan my ouers met hul versorging by. My ma het deurlopende hulp en versorging nodig. Tuisversorgers moes in diens geneem word om my sussie te ondersteun en my ma te versorg – ’n groot finansiële las wat hulle nie voorsien het nie.
My pa moet dikwels spesialiste (’n neuroloog en ’n neurochirug) in Bloemfontein spreek oor sy hoofbeserings. Ek ondersteun hom deur hom in Klerksdorp te gaan haal en Bloemfontein toe te neem en dan weer terug Klerksdorp toe. Al sy sakebelange is tydelik gestaak.
Ons “rustige” lewe soos aan ons bekend was, is nou alles behalwe “normaal” en rustig. My ouers, wat ’n normale, maar vol en bedrywige lewe gelei het, sit nou net hul dae in Klerksdorp om. Hul betekenisvolle lewe is van hulle weggeneem. My pa is ontneem van die voorreg om self te besluit oor sy en my ma se toekoms en oor hoe en waar hulle hul laaste dae en jare wil deurbring.
Ons lewens is verwoes! Ek het nie meer ’n ouerhuis waarheen ek vinnig kan gaan en inloer nie. En dít alles deur ses mans wat besluit het oor my bejaarde ouers se laaste dae en toekoms.
Ek vra u, meneer die President, watter straf dink u is regverdig vir hierdie booswigte indien dit ú ouers was? VANDA GAGIANO Erevoorsitter, Vrystaatse Vrouelandbou-unie
algemeen gebruik as die mees gevoelige maatstaf om aanpasbaarheid te meet en verbeter. Dit bly ’n hoofteeltdoelwit van die ras, en ooiproduktiwiteitsmeting en -gebruik bly ’n voorrangsaak vir ernstige Dohnetelers.
Die Dohne-Merinoras het reeds sedert die 1970’s Stamboom-inligting gebruik om teelwaardes op ’n ongesofistikeerde wyse vir binne-kudde-vergelykings te gebruik.
Nadat tegnologie in die laat 1980’s die toepassing van meer gevorderde BLUP- statisiese beginsels moontlik gemaak het, het die Dohne-Merino-telersgenootskap verkies om self eers navorsing te doen voor die tegnologie aanvaar is. De la Harpe was trouens deel van die uittoetsing van ’n BLUP-vaarverwysingstelsel om die doeltreffende uitruiling van vaars tussen kuddes te bevestig.
Op grond hiervan het die telersgenootskap meer volledige meerkenmerk-dieremodelontledings eers grootskaals in die 2000’s begin toepas.
Die gebruik van seleksie-indekse dateer ook terug tot die 1970’s toe rekenaargebruik algemeen geraak het. Die DohneMerino-telersgenootskap gebruik seleksie-indekse bloot as minimum waarborg van bogemiddelde produksiedoeltreffendheid. Dohne-stoettelers het dus vrye keuse om hul eie seleksie toe te pas tussen bogemiddelde, doeltreffend produserende diere in hul eie kuddes. Telers streef hul eie teeltdoelwitte na binne wye grense, soos wat deur die telersgenootskap gestel is en van tyd tot tyd aangepas word.
Die seleksie van teeldiere uit verskillende kuddes op grond van die kombinasie van visuele voorkoms en teelwaardes is só gewild by telers dat sindikate gevorm word om topteelmateriaal volgens eie definisie te bekom. Versnelde reproduksietegnologie word dan gebruik om dié teelmateriaal uit te ruil. Die beskikbaarheid van inligting oor inteling het tot dusver gesorg dat sulke optredes optimaal geskied.
BLUP (beste liniêre onsydige beraming) is ’n statistiese beginsel wat wye toepassing het, onder meer in plantteling. Wêreldwyd word die beginsel gebruik om teeltwaardes met uiteenlopende modelle vir vee te bereken. Wetenskaplikes ontwikkel voortdurend die beste moontlike bedryfsmodelle vir spesifieke datastrukture.
Genomiese seleksie, ’n volgende logiese stap, sluit by BLUP-tegnologie aan. Die Dohne-Merino-telersgenootskap sal graag die voortou neem in die Suid-Afrikaanse kleinveebedryf om dit te begin toepas.
Dit is elke teler se verantwoordelikheid om akkurate prestasietoetsdata in te samel en daarna die teeltwaarde-inligting so doeltreffend moontlik aan te wend. In die geval van Dohnetelers is voorbeelde beskikbaar waar die minimum norme van die genootskap nagekom word en daar terselfdertyd suksesvol vir bykomende kenmerke geselekteer word. Dohnetelers word opgelei om statistieke, teelwaardes en hul data so goed moontlik te bestuur. Hulle word trouens aangemoedig om op die hoogte van ontwikkelings te bly en waar nodig opleiding te herhaal. DR. KOBUS DELPORT Rasdirekteur, Dohne-Merinotelersgenootskap